Sakeliga stuur finale aanmaning in hofsaak teen onkonstitusionele rampbestuur 

over-legislation-of-the-labour-market-will-only-harm-employees

Sakeliga het ’n finale aanmaning aan die Nasionale Rampbestuursentrum en dr. Nkosazana Dlamini-Zuma gestuur om rekords oor hul klassifikasieproses van die Covid-19-ramptoestand te oorhandig. Die aanmaning kom ingevolge die hofaansoek wat Sakeliga in Maart 2022 gebring het, om die ramptoestand op te hef en ’n onkonstitusionele verlenging of herhaling van die ramptoestand te voorkom. 

Al is die Covid-19 ramptoestand sedertdien deur dr. Dlamini-Zuma opgehef, weens onder meer Sakeliga se litigasie, bly die hofsaak belangrik om toekomstige irrasionele, eindelose verlengings van ramptoestande te voorkom. Sakeliga vra die hof, onder andere, om te verklaar dat artikel 27(5)(c) van die Wet op Rampbestuur ongrondwetlik is indien dié artikel die verlengings, op die manier waarop dit gedoen is, toegelaat het. 

Aan die kern van Sakeliga se saak, lê die konstitusionele plig van die Nasionale Rampbestuursentrum om voortdurend hersiening te doen of om te bepaal of daar in enige gegewe stadium steeds objektief ’n ramp volgens die definisie van die Wet bestaan. In plaas hiervan het die hoof van die Rampbestuursentrum, dr. Mmaphaka Tau, eenvoudig vir meer as twee jaar lank geen hersiening van sy oorspronklike ramptoestandklassifikasie gedoen nie. Danksy sy versuim is die ramptoestand telkens naatloos hernu asof omstandighede en kennis oor Covid-19 nooit verander het nie. Dit het boonop litigasie ernstig bemoeilik. 

Die versuim om te hersien het Sakeliga genoop om in Januarie vanjaar aan dr. Tau, te skryf en te eis dat sy klassifikasie van COVID-19 as ’n “nasionale ramp” heroorweeg word. Dit is nie gedoen nie, die ramptoestand is weer verleng, en Sakeliga se litigasie het begin. 

Aangesien die Wet op Rampbestuur nie duidelik vereis dat herklassifikasie van ’n ramp gedoen moet word alvorens ’n verlenging van ’n nasionale ramptoestand oorweeg word nie, gaan Sakeliga die hof vra om die Wet op Rampbestuur in daardie mate ongrondwetlik te verklaar. Die Minister van Samewerkende Regering behoort nie vrye teuels te geniet om ’n ramptoestand te verleng waar spesialiste by die Sentrum nie telkens die bestaan, en voortbestaan, van ’n objektiewe “ramp” bevestig het nie. 

Indien die skuiwergate waarmee die regering onkonstitusioneel en onverbiddelik die ramptoestand vir meer as twee jaar bly handhaaf het nie toegestop word nie, bly groot risiko’s bestaan. Miljarde rande se ekonomiese aktiwiteit en die vermoë van mense om waardig hul brood te verdien sal weereens op die spel wees, om van grootskaalse korrupsiegeleenthede nie eens te praat nie. 

Sakeliga se hofstukke in hierdie saak is reeds op 11 Maart 2022 uitgereik. Kragtens die toepaslike hofreëls was die respondente verplig om ’n volledige rekord van besluitneming te liasseer ten opsigte van alle besluite wat in die saak aangeveg word. Die respondente bly steeds, ses maande later, in gebreke om die rekord te oorhandig. Indien die respondente langer in gebreke bly, sal Sakeliga op grond van regsadvies oorweeg om verdere hofbevele te bekom en verswarende stappe teen die respondente te neem. 

Uitgereik deur:

Tian Alberts
Regs- en skakelbeampte

Piet le Roux
Uitvoerende Hoof

Archives