Sakeliga bevraagteken FSTC se gesag om BEE-verslagdoening op te dwing

187851078_332064111602985_6133888412572082993_n

Sakeliga bevraagteken en versoek opklaring van die Finansiële Sektor Transformasieraad (FSTC) se gesag om BEE-rapporteringsvereistes aan finansiëlediensteondernemings op te dwing.

Die FSTC het in Maart daarop aangedring dat alle finansiëledienste-instansies – van individuele makelaars tot groot korporasies – bewyse verskaf van hul B-BBEE-status (Rapporteringskennisgewing 1 van 2024). Na hierdie en soortgelyke kennisgewings in 2021 en 2022 kom dit nou voor dat verskeie industrierolspelers onder die indruk verkeer dat nie-nakoming met rapportering tot formele of ander statutêre sanksies teen hulle kan lei.

Sakeliga is egter nie bewus van huidige wetgewing wat finansiëledienste-instansies verplig om deel te neem aan of hul besighede se rasseprofiel ingevolge die huidige B-BBEE-wet te sertifiseer nie. Dit kom voor asof die FSTC sy magte oorskry, deur B-BBEE-verslagdoening te vereis van finansiëledienste-instansies wat nie by B-BBEE-transaksies of sertifisering betrokke is nie.

Sakeliga het daarom die FSTC versoek om ons binne 30 dae te voorsien van opklaring en gronde vir sy posisie. Dit is ruim vóór die FSTC se oënskynlike sperdatum van 28 Junie 2024 vir industrie-nakoming van sy twyfelagtige direktief. Sakeliga is van voorneme om die inligting wat ons vanaf die FSTC bekom met finansiëlediensteverskaffers te deel, sodat hulle beter oorweging aan hul moontlike reaksie op die FSTC se versoek kan skenk.

Oor die algemeen sou dit finansiële instansies van waarde wees om besluite uit te stel en regsadvies te bekom voordat hulle oorweeg om die FSTC se direktief na te kom. Die FSTC sal die inligting soos verskaf waarskynlik in die toekoms teen jou gebruik, ter nastrewing van nie-waardetoevoegende seksionele en politieke belange.

Sakeliga se standpunt bly dat die openbare belang ten beste gedien word wanneer besighede ’n strategie volg van maksimum haalbare nienakoming van die regering se BEE-beleid en sy eise vir BEE-rapportering.

Sakeliga se Missie: Bou Skaalbare Oplossings Teen Staatsverval

BEE is ’n tydelike skadelike regeringsbeleid. Die beleid gee voor om bemagtiging na te streef, maar vereis inderwaarheid dat besighede hul missie van waardeskepping opoffer ter navolging van politieke instruksies met ’n burokratiese en rassefokus. In stede daarvan om oor gemeenskappe heen waardeskeppende ekonomiese samewerking aan te moedig, verhoog BEE laag-op-laag die strukturele koste van besigheid in Suid-Afrika, wat die koste van goedere en dienste opjaag en só omtrent almal armer maak.

In ons brief aan die FSTC vandeesweek:

  1. Bevraagteken Sakeliga:
    1. die FSTC se mag en gesag om van finansiële instansies te vereis om tyd, moeite en koste aan te gaan ter nakoming van die rapporteringsvereistes.
    2. of die FSTC oor regsgesag beskik om sanksies teen rolspelers wat nie hul direktief nakom nie in te stel.
  2. Versoek Sakeliga dat die FSTC:
    1. redes verskaf vir waarom dit Rapporteringskennisgewing 1 van 2024 as binne sy magte beskou.
    2. redes verskaf vir waarom dit nakoming vereis van alle finansiëlediensteverskaffers.
    3. duidelikheid verskaf oor die omvang en bron van die gesag wat dit voorgee om te hê om sanksies teen nie-deelnemende rolspelers in te stel.
  3. Stel Sakeliga die FSTC in kennis van ons omvattende versoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting, insake die FSTC se:
    1. status as ’n sektorraad ingevolge die B-BBEE-wet.
    2. aktiwiteite, rekords, besluite en beleide aangaande sanksies vir nie-nakoming van FSTC-direktiewe, soos finansiële en professionele penalisasie.
    3. samewerking met die Finansiële Sektor Gedragsowerheid (FSCA), die B-BBEE-kommissie, die Voorsorgowerheid (Prudential Authority) en die Departement van Handel, Nywerheid en Mededinging waar dit polisiëring, ondersoek, toepassing en oplegging van sanksies teen finansiële instansies betrek.

Klik hier vir ons prokureurs se brief aan die FSTC.

Vind hier meer uit oor Sakeliga se belangrike litigasiewerk en hoe om dit te ondersteun.

Maak 'n kragtige en blywende ekonomiese impak.

Argiewe