Sakeliga gereed teen pogings om Poskantoor ’n monopolie te gee

Williston_post_office_2

Dat pakkies in Suid-Afrika afgelewer word is nie te danke aan die Poskantoor nie, maar aan private koerierdienste. Sakeliga staan daarom enige pogings om private koerierdienste te verbied teen. 

Sakeliga se standpunt is vervat in amptelike kommentaar aan die Minister van Kommunikasie en Digitale Tegnologie, nadat hy verlede maand kommentaar versoek het oor ’n monopolie vir die Poskantoor wat vir dekades al hoogstens op papier bestaan.  

Ingevolge die Minister se interpretasie, behoort die Poskantoor tans ’n eksklusiewe reg te geniet op die verspreiding van briewe, poskaarte, gedrukte materiaal, klein pakkies en ander pos-items tot 1kg. Ook sou die Poskantoor die enigste entiteit wees wat ontvangspunte en posbusse mag voorsien en die enigste wat dienspunte vir hierdie “gereserveerde dienste” mag bied. 

Hoewel die Minister geen aanduiding gee van wat hy met sy hersiening van die beweerde eksklusiewe regte van die Poskantoor beoog nie, is dit moontlik dat hy die beweerde regte kan probeer versterk. So ’n stap sou aansluiting vind by die pogings sedert 2019 deur die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika (ICASA) om Postnet te verbied om pakkies af te lewer en ander sogenaamde gereserveerde posdienste te verrig. 

Sakeliga se Missie: Bou Skaalbare Oplossings Teen Staatsverval

In ons kommentaar aan die Minister het Sakeliga aangedui dat die blote oorweging om ’n monopolie vir die Poskantoor te probeer skep absurd is. Die Poskantoor verkeer in so ’n gevorderde staat van verval dat die blote oorweging om private pakkie-aflewering of enige sogenaamde gereserveerde posdienste te verbied volslae irrasioneel sou wees. 

Sakeliga monitor die verwikkelinge en sal, indien nodig, regstappe doen om vrye en bekostigbare afleweringsdienste te beskerm. Van belang is die publiek se toegang tot bekostigbare en betroubare goedere en dienste, en mense se vryheid om handel te dryf en hul beroep of professie van keuse te beoefen. 

Intussen wys ons daarop dat die Poskantoor in geen posisie is om eksklusiewe posdienste te verrig nie en dat die regering in geen posisie is om private koeriers of ander afleweringsdienste te verbied nie.  

Klik hier om Sakeliga se kommentaar te besigtig. 

Maak 'n kragtige en blywende ekonomiese impak.

Argiewe