Sakeliga wen hofsaak teen onregmatige munisipale invordering

Smart-Electricity-Power-Meter-technology

Sakeliga het nog ’n hofsaak gewen, hierdie keer om dorpe se sakelui en inwoners teen onregmatige en onbekostigbare munisipale invorderingspraktyke te beskerm.

Die hofbevel verbied ’n eksterne maatskappy, Ideal Prepaid (Pty) Ltd om plaaslike heffings en belastings in te vorder ingevolge ’n onregmatige ooreenkoms wat tussen hom en Kgetlengrivier Plaaslike Munisipaliteit (Kgetlengrivier) gesluit is. Die hof beveel Kgetlengrivier ook om slegs gelde in te vorder vir munisipale dienste, heffings, en belastings nadat hulle die nodige belastingfakture aan inwoners en belastingbetalers gelewer het.

Sakeliga en plaaslike sakelui het die hofsaak gebring om skade te verhoed nadat die munisipaliteit wederregtelik besluit het om Ideal Prepaid, ’n diensverskaffer wat reeds die verkoop van elektrisiteit in die dorp bestuur het, verder aan te stel om heffings en belastings namens die munisipaliteit in te vorder. Die onregmatige invorderings sou egter sonder behoorlike fakture teen onbekostigbare kommissie op munisipale belastings geskied en in privaat bankrekeninge sonder behoorlike toesig inbetaal word.

Ingevolge die Mahikeng Hooggeregshof se bevel word Kgetlengrivier se besluit om hul toe reeds bestaande ooreenkoms met Ideal Prepaid uit te brei om ook die invordering van munisipale dienstegelde en belastings in te sluit, onregmatig verklaar en ter syde gestel.* Koste is vír Sakeliga toegestaan. Die hof het in effek nou die tussentydse bevel wat Sakeliga kort na die munisipaliteit se aanvanklike besluit bekom het, permanent gemaak, wat meebring dat geen van die munisipaliteit se beoogde onregmatige invorderings ooit plaasgevind het nie.

Sakeliga se Missie: Bou Skaalbare Oplossings Teen Staatsverval

    Danksy die hofbevel kan sakelui en inwoners van Koster, Swartruggens, en die groter Kgetlengrivier-omgewing nou hierdie episode agter hulle plaas en aandag skenk aan ander probleme. Staatsverval vorm steeds ’n ernstige en deurlopende bron van risiko en skade in die dorpe van Kgetlengrivier.

    Ook die sakelui van ander dorpe in Suid-Afrika baat by die hofbevel, omdat dit beginsels in stand hou om soortgelyke onregmatige verhalings van munisipale gelde te voorkom. Sakeliga is ten gunste van oplossings tot munisipale verval wat gebruik maak van die dissipline van die privaat en burgerlike sektore, maar vir dít om te slaag moet die oplossings op ’n behoorlike, deursigtige, en billike manier in werking gestel word.

    Die jongste hofbevel bring nou finaliteit en duidelikheid, nadat voorlopige sukses reeds in November 2019 bereik is met ’n tussentydse interdik in die guns van Sakeliga en die sakelui wat as mede-applikante deelgeneem het. Herhaaldelike wederregtelikheid, minagting van die hof, versuim, en ander skadelike optrede aan die kant van die munisipaliteit het die saak egter vir vier-en-’n half jaar vertraag.

    *Dié hofbevel het nie betrekking op aparte ooreenkomste tussen Ideal Prepaid en Kgetlengrivier oor die verskaffing van voorafbetaal-elektrisiteitsdienste nie.

    Maak 'n kragtige en blywende ekonomiese impak.

    Argiewe