Onteieningswetsontwerp: Besighede en die burgerlike samelewing moet eiendomsbeslaglegging vasberade teenstaan

Wheat

Die parlement se steun vir die Onteieningswetsontwerp beklemtoon die rol van besighede en die burgery om konstitusionalisme sélf te handhaaf, deur staatsbeslaglegging van eiendom teen te staan.
 
Die vernaamste gebrek in die Onteieningswetsontwerp is dat dit voorgee om staatsonteiening van enige eiendom (nie net grond nie) sonder vergoeding, of teen enige bepaalde bedrag onder markwaarde, te wettig. Dit maak van die Onteieningswetsontwerp ’n hernieude en ongrondwetlike poging om staatsbeslaglegging van eiendom te wettig, ondanks die mislukking van die (ook grondig gebrekkige) 18de Wysigingswetsontwerp op die Grondwet in die Parlement in 2021 om eers die eiendomsbepalings van artikel 25 van die Grondwet te wysig.
 
Die parlement se insluiting van die onaanvaarbare bepalings, ondanks uitgebreide sake- en openbare teenkanting, dui ongelukkig op ’n voorkeur onder die meeste LP’s om eiendom te verontagsaam en te minag. Hoe beperk staatsoptrede in hierdie verband aanvanklik ook al mag wees, die staat se rekord toon dat skendings van eiendom sal toeneem, tensy dit ferm en suksesvol deur dele van die samelewing buite die staat teengestaan word.
 
In die mate dat die wetsontwerp in werking sou tree, sou dit ’n ernstige knou wees vir eiendomsekerheid en daarmee saam die grondwetlikheid van die Suid-Afrikaanse bestel.
 
Die konsep van eiendom is, net soos die oppergesag van die reg, deel van die grondslag van konstitusionalisme self. Sonder respek vir eiendom word ’n magdom grondwetlike bepalings en magsteenwigte betekenisloos, en sake- en werkskepping ernstig bedreig.

Sakeliga se Missie: Bou Skaalbare Oplossings Teen Staatsverval

Die blote aanvaarding van die Onteieningswetsontwerp en die goedkeuring daarvan deur die President van Suid-Afrika sou egter nie die einde van die storie wees nie. Sou dit gebeur, is dit besighede en andere in die samelewing se plig om te verhoed dat die onhoudbare en onaanvaarbare dele van die Wetsontwerp in werking tree en, in die mate dat dit nie heeltemal voorkom kan word nie, om die toepassing daarvan te frustreer en te beperk in die hoogste moontlike graad.
 
Dit is nie voldoende om bloot te hoop dat politieke verandering sulke wetgewing sal omkeer nie. Suksesvolle teenstand deur besighede en burgerlike groepe sal omvattende litigasie vereis sowel as volgehoue druk, belemmering en ingryping buiten litigasie, totdat die onaanvaarbare dele van die wetgewing in die praktyk ontkragtig word.
 
Sakeliga staan gereed om oor die aangeleentheid te litigeer en handhaaf konstruktiewe betrekkinge met verskeie ander organisasies wat van voorneme is om dieselfde te doen.
 
Ons moedig verantwoordelike besighede en lede van die publiek aan om die Onteieningswetsontwerp teë te staan en te belemmer. ’n Belangrike manier om dit te doen, is deur steun te verleen aan organisasies soos Sakeliga, wat beskik oor die vermoë om ’n leidende rol in die saak te vervul.

Maak 'n kragtige en blywende ekonomiese impak.

Argiewe