Oplossings vir misdaad buite die staat is nou noodsaaklik

Gideon-Joubert copy

Die volgende meningstuk is geskryf deur Gideon Joubert, onafhanklike veiligheidskonsultant, vuurwapeninstrukteur en hoof van sekuriteitsprojekte by Sakeliga.

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het onlangs hoofnuus gehaal, maar tog om al die verkeerde redes. Die departement van arbeid het die gebou wat die SAPD se hoofkwartier in Pretoria huisves as “ongeskik vir menslike gebruik” verklaar, wat gelei het tot die ontruiming en sluiting van die perseel. Die departement het die eiendom saam met verteenwoordigers van Solidariteit se afdeling vir Beroepsgesondheid en -veiligheid geïnspekteer en bevind dat dit in so ‘n haglike toestand van verval verkeer dat hy beveel het dat dit gesluit moet word.

Vreemd genoeg was hierdie toedrag van sake welbekend aan die minister van polisie, Bheki Cele , wat erken dat hy die afgelope vier jaar van die huis af werk weens die “verskriklike” toestand van die SAPD-gebou.

Die onhigiëniese toestand van die polisiehoofkwartier, en die feit dat niemand in ‘n gesagsposisie (selfs nie die minister nie) hoegenaamd iets gedoen het om dit aan te spreek nie, is tekenend van die breër en veel dieper probleme in die SAPD self. Dit lyk of die organisasie op die randjie van grootskaalse ineenstorting wankel.

Slegs enkele van die die talle ernstige en aftakelende krisisse wat tans die SAPD teister, word hier gelys:

Sakeliga se Missie: Bou Skaalbare Oplossings Teen Staatsverval

Hierdie omvangryke mislukkings van polisiëring is nie bloot kolpunte vir ‘n teoretiese bespreking nie, dit vertaal in kommerwekkende werklike gevolge wat almal raak. Die skuldigbevindingskoerse vir ernstige en gewelddadige misdade het tot so ‘n lae vlak gedaal dat dit in sommige gevalle as heeltemal weglaatbaar beskou kan word.

‘n Suksesvolle vervolgingskoers van 80% vir moord en 83% vir trio-misdade – die gekombineerde kategorie van rooftogte by residensiële persele, roof by nie-residensiële persele, en voertuigkaping. Die NVG vervolg egter net ‘n klein fraksie van die totale aangemelde sake jaarliks: net 3738 moordsake uit 27 494 moorde wat in die 2022/23- boekjaar gepleeg is , is vervolg, of net minder as 14% .

Selfs by 80% suksesvolle vervolging beteken dit net 11% van alle moordsake eindig met ’n suksesvolle skuldigbevinding.

Trio-misdade vaar selfs erger. Van meer as 65 800 trio-misdaadvoorvalle in 2022/23 is slegs 1034 suksesvol vervolg. Daarom het rooftogte by residensiële persele, roof by nie-residensiële persele, en voertuigkaping ‘n gemiddelde skuldigbevindingsyfer van minder as 1,6%.

Maar dit vertel egter steeds nie die volle verhaal nie. Suid-Afrika het ‘n beduidende probleem met betrekking tot die onderaanmelding van misdaad. Die publiek het min geloof en uiters lae vlakke van vertroue in die polisie, en in sommige gevalle volslae vrees vir hulle, wat neerkom op ‘n verbysterende groot deel van misdade (selfs gewelddadige misdade) wat eenvoudig nie by die polisie aangemeld word nie.

In Oktober 2018 het die vorige Nasionale Kommissaris van Polisie, Khehla Sitole, aan die Parlement gesê dat die SAPD ‘n “ oorstrekte mandaat het, onmoontlik om na te kom”. Dit is duidelik dat sake sedertdien net verder versleg het.

Gevolglik is daar byna geen betekenisvolle gevolge vir geweldmisdadigheid nie – en dus min tot geen koste verbonde aan die pleeg van misdaad – uit die staat se strafregstelsel nie. As misdaad goedkoper gemaak word, kan ‘n mens beslis ‘n oorvloed daarvan verwag – soos die land se verslegtende jaarlikse en kwartaallikse misdaadstatistieke getuig.

Die oplossing kan nie bloot wees om meer druk op die staat te plaas om die polisiediens te hervorm nie. Sedert minstens 2010 het die staat min wil of vermoë getoon om die mislukking van die SAPD om te keer, en die organisasie het voortdurende en sigbare agteruitgang gely. Dit is dus onwaarskynlik dat diegene wat verantwoordelik is vir sulke nalatigheid in die bestuur van die instelling, toevertrou kan of behoort te word om dit om te keer.

Besorgde gemeenskappe sal eerder na nie-staatsoplossings moet kyk om die toenemende krisis van misdaad en chaos aan te spreek. Daar is reeds talle private rolspelers in gemeenskappe regoor die land wat groot sukses behaal het deur private inisiatief en optrede.

Daar is baie wat ons kan leer uit hierdie inspirerende burgerlike reaksies op pad na die bou van oplossings om misdaad en chaos te bekamp. Ons sal sommige van daardie inisiatiewe in komende artikels uitlig.

Daar was dalk nog nooit ‘n meer deurslaggewende tyd as nou om alternatiewe sekuriteitstrukture te begin bou nie.

Maak 'n kragtige en blywende ekonomiese impak.

Argiewe