Sakeliga dring aan op beëindiging van ramptoestand

Screenshot 2022-04-06 170534

Sakeliga se regspan het per brief aangedring op die verpligte beëindiging van die “nasionale ramptoestand”. 

In die brief dring ons daarop aan dat die hoof van die Nasionale Rampbestuursentrum (NRBS), dr. Mmaphaka Tau, sy klassifikasie van COVID-19 as ’n “nasionale ramp” teen 28 Januarie 2022 heroorweeg en herroep. Die “nasionale ramptoestand” is bykans twee jaar gelede, in Maart 2020, afgekondig op grond van hierdie klassifikasie wat die NRBS kragtens artikel 23 van die Wet op Rampbestuur (WRB) uitgereik het. Indien die klassifikasie herroep word, sal die Minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (COGTA) verplig wees om haar verklaring van ’n “nasionale ramptoestand” te herroep en sal sy dit nie weer kan verleng nie. 

Indien die klassifikasie nie teen 28 Januarie heroorweeg en herroep word nie, sal Sakeliga die hof nader om die NRBS te gelas om die rampklassifikasie ingevolge artikel 23 van die WRB te heroorweeg. Sakeliga sal ook oorweeg om dringende regshulp kragtens artikel 172 van die Grondwet van Suid-Afrika te vra.* 

Sakeliga doen hierdie stappe om ’n terugkeer na normaliteit op die gebied van die handel en sosiale orde te verseker, en daarvoor is dit nodig om ’n einde te maak aan die regering se oënskynlike magte om arbitrêre regulasies op kort kennisgewing uit te reik en te wysig. Die beëindiging van die “ramptoestand” is noodsaaklik om die toenemende onstabiliteit in Suid-Afrika teen te werk, indiensname vir die meer as ’n miljoen mense wat deur die regering se inperkingsbeleide werkloos gemaak is te begin herstel, en om ’n onmiddellike oplewing in toerisme moontlik te maak. 

Wat ook al die oorwegings was wat tot die aanvanklike klassifikasie deur die Sentrumhoof in Maart 2020 gelei het, regverdig die erns en omvang van COVID-19 vandag nie klassifikasie as ’n “nasionale ramp” nie. Tog word die “nasionale ramptoestand” steeds gehandhaaf, asof niks oor die afgelope twee jaar verander het nie. Sakeliga kan nie toekyk dat voortgesette verlenging van ’n beweerde “nasionale ramptoestand” ongehinderd voortgaan terwyl die feite rondom COVID-19 duidelik toon dat sodanige klassifikasie nie geregverdig is nie. 

Die Wet op Rampbestuur plaas ’n plig op die hoof van die NRBS om “rampe” wat die land in die gesig staar deurlopend te oorweeg en te evalueer. Artikel 23(7) van die WRB stel dit duidelik dat ’n aangeleentheid as ’n “provinsiale” of “nasionale” ramp beskou kan word slegs as dit as sodanig deur die NRBS geklassifiseer word. Klassifikasie as ’n “nasionale ramp” kragtens artikel 23(7) van die WRB is ’n voorvereiste vir ’n wettige verklaring of verlenging van ’n “nasionale ramptoestand”.  

Afgesien van die WRB se bepalings het die Sentrumhoof van die NRBS ook ’n grondwetlike plig om onnodige inkortings van grondwetlike regte en vryhede te voorkom en ’n positiewe plig om die beskerming van sulke regte en vryhede te verseker en te bevorder. Ooreenkomstig hierdie plig moet die Sentrumhoof die klassifikasie van “rampe” deurlopend evalueer en herevalueer, veral waar die optrede van ander staatsorgane lei tot ernstige en langdurige inperkings van grondwetlike regte en vryhede. 

Die Sentrumhoof moet onafhanklik optree en moet al die risiko’s en gevolge van ’n potensiële rampgebeurtenis objektief oorweeg. Die Sentrumhoof is ’n spesialisaanstelling wat moet verseker dat rampe behoorlik geëvalueer word voordat enige staatsorgaan hom op bevoegdhede ingevolge die WRB kan beroep. Die verdere verlenging van die “nasionale ramptoestand” is dus in effek in die hande van dr. Tau. Sakeliga dring daarop aan dat hy ’n behoorlike objektiewe evaluering van Covid-19 uitvoer, met inagneming van alle beskikbare data.  

Die opheffing van die klassifikasie van Covid-19 as ’n “nasionale ramp” en die afdwing van die vereiste van duidelike en omvattende regverdiging vir die herinstelling van ’n “ramptoestand” sal onmiddellike verligting meebring vir sakeondernemings en die algemene publiek. Dit sal behels: 

  • ’n beduidende herstel in toerisme; 
  • normalisering van die handel-, gasvryheid- en reissektore; 
  • groter sekerheid vir beleggingsbeplanning omdat die land nie meer aan wisselvallige beleidsbesluite onderhewig sal wees nie; 
  • vermindering van nakomingskoste en moeite om reëls toe te pas wat ingevolge die ramptoestand uitgereik is; en 
  • sosiale stabilisering danksy ‘n herstel in indiensname. 

Sakeliga het voorheen (12 Januarie 2022) aan die President en die Minister van Samewerkende Regering (met afskrif aan die NRBS) geskryf om hulle van Sakeliga se standpunt en eise te verwittig. In ons jongste brief stel ons nou ons eise regstreeks aan die hoof van die NRBS. 

Piet le Roux 
Uitvoerende hoof, Sakeliga 

* Artikel 172 van die Grondwet bepaal dat ’n hof diskresie kan aanwend om ’n bevel te maak wat regverdig en billik is in verband met ‘n grondwetlike aangeleentheid. Dit kan onder meer insluit om die hoof van die NRBS te gelas om sy klassifikasie van “nasionale ramp” te herevalueer. 

Archives