Sakeliga neem stappe teen staat se vertragings in munisipale verval-hofsake

50125007703_4b4af0fa76_b

Staatsrespondente is besig om kritieke litigasie oor munisipale verval in Noordwes gewetenloos te vertraag. Vertraging aan die kant van die staat en ‘n skynbare gebrek aan prioritisering van sake van konstitusionele belang in die Hooggeregshof Mahikeng, stel gemeenskappe en sakelui aan eskalerende staatsverval bloot. 

Dit is die stand van sake nadat die Hooggeregshof in Mahikeng verlede week nogmaals Sakeliga en sy litigasie-vennote se aansoek oor munisipale verval in die Naledi en Ditsobotla laat uitstel het. In twee aansoeke voor die Hooggeregshof vra Sakeliga onder andere vir verpligte nasionale ingryping, finansiële administrasie en tussentydse bestuur van munisipale bankrekenings deur onafhanklike ouditeure wat in opdrag van die Hooggeregshof as spesiale meesters moet optree.  

Sakeliga is besorg oor die gebrek aan priorisering wat hierdie saak tans ontvang. Na twee vorige uitstelle van die saak het die Hooggeregshof 13 Februarie 2023 beveel dat die September 2022 dringende aansoek saam met Sakeliga se reeds hangende aansoek om die aanstelling van ‘n betaalmeester, op 23 en 24 Maart 2023 aangehoor moet word. Die sake is geplaas vir ‘n spesiale aanhoring op 23 en 24 Maart 2023. Reeds vroegoggend op die 23ste Maart is Sakeliga se regspan egter gekonfronteer deur die realiteit van verskeie ander aansoeke wat ook voor die selfde hof as die saak geplaas is, en wat meeste van die hof se tyd daardie twee dae in beslag sou neem. Verdere eedsverklarings deur onder andere die Minister van Finansies en die Ditsobotla Munisipaliteit wat ter elfder uur die aand voor die tyd geliasseer is, het egter uitstel onvermydelik gemaak.  

Gegewe die risiko dat verdere uitstelle weer deur die hof of die respondente teweeggebring kan word, word dringende verdere saakbestuur nou van die hof versoek, sodat nuwe spesiale verhoordatums vasgestel kan word.  

Dit is die derde keer sedert September 2022 dat die aanhoor van die tweede been van Sakeliga se dringende hofaansoek oor die ineenstorting van munisipale regering in die Ditsobotla Munisipaliteit uitgestel is. Op vorige geleenthede is die saak uitgestel weens onderskeidelik: 

  • op 10 November 2022 die regering se nie-voldoening aan ‘n bevel wat Sakeliga in die eerste been van sy aansoek bekom het en die feit dat die hof se kragopwekker buite werking was; en 
  • op 18 November 2022 weens die feit dat die waarnemende regter wat die saak sou aanhoor van mening was dat hy nie die saak kon aanhoor nie en die saak na ‘n ander waarnemende regter verwys het. Die waarnemende regter het egter nie meer op daardie stadium waargeneem nie, en spesiale direktiewe moes by die regterpresident van die Noordwes-afdeling van die Hooggeregshof bekom word voor die saak verder geneem kon word.  

In die nuutste uitstel, het die hof op 23 Maart 2023 in reaksie op die laat liassering van die regering se antwoordende eedsverklarings, twee kostebevele vir die verspilde koste van die saak, teen die Ditsobotla Munisipaliteit toegestaan. Hierdie kostes sluit die kostes van drie advokate in. 
 
Die eedsverklaring wat deur Ditsobotla geliasseer is, is onder andere onderteken deur iemand wat homself voordoen as Ditsobotla se waarnemende munisipale bestuurder, alhoewel daar geen formele aanstelling vir daardie persoon is nie. In die verklaring getuig die persoon oor die kwansuis verbeterde munisipale situasie. Hierdie stellings word gemaak in dieselfde week as wat Sakeliga in besit gekom het van ‘n bedankingsbrief deur die einste persoon, wat dae tevore reeds by die munisipaliteit ingedien is. In sy bedankingsbrief lys die persoon die redes waarom hy met onmiddellike effek en onherroeplik by die munisipaliteit bedank, welke redes insluit dat die munisipale situasie en sy eie veiligheid in Ditsobotla onhoudbaar is. 

Die twee aansoeke vorm deel van Sakeliga se groter litigasiestrategie gerig op die ontwikkeling van ‘n regsraamwerk vir nie-staatlike ingrepe by algehele staatsverval.  

  • Sakeliga het aan sy regspan opdrag gegee om soveel moontlik druk uit te oefen om die saak spoedig weer op die rol te kry, sodat dit tot finaliteit gebring kan word. Indien regshulp in die Mahikeng-hof uiteindelik nie beskikbaar is nie, sal Sakeliga in oorleg met sy regspan alle nodige verdere stappe bring om regpleging te laat geskied.  
     

Lees meer oor die dringende aansoek hier

Argiewe