Lichtenburg munisipale krisis: regering bly in versuim, Sakeliga verskerp regstappe

theme-22

Nóg die administrateur van die Ditsobotla plaaslike munsipaliteit, nog die Noord-Wes-regering is klaarblyklik daartoe in staat om behoorlike watertoevoer na die dorpe Lichtenburg, Coligny en ander te herstel kragtens ‘n hofbevel wat Sakeliga reeds op 13 Oktober bekom het. Sakeliga verskerp daarom nou ons regsoptrede teen die president, die Noord-Wes-regering en die administrateur van die Ditsobotla-munisipaliteit.

Die 13 Oktober-bevel is in Deel A van ‘n twee-been dringende aansoek deur Sakeliga en andere, waarkragtens die administrateur van Ditsobotla reeds gelas is om onmiddellik watertoevoer te herstel na geaffekteerde gemeenskappe. Deel B van die aansoek, wat gister aangehoor moes word, fokus dan op medium-termyn oplossings, bepaald ingrepe op die hoogste vlak van regering – nasionale tesourie-administrasie kragtens artikel 139(7) van die Grondwet – en ingrepe deur gemeenskapsorganisasies self in sover dit nodig word.

Toe Sakeliga egter gister by die Noord-Wes Hooggeregshof in Mmabatho aankom vir die aanhoor van Deel B van die dringende aansoek, moes Deel B eers oorstaan as gevolg van die regering se nie-voldoening aan die deel A-bevel. Die regter het gisteroggend die hof verdaag sodat die regering se onderskeie regspanne eenstemmigheid kon bereik onder mekaar oor hoe die regering hul nie-voldoening aan die Deel A-bevel aan die hof kon verduidelik, en watter moontlike ooreenkoms met Sakeliga gemaak kon word. Die regering het ook hul antwoordende verklaring ten opsigte van die Deel B-aansoek ‘n dag voor die verhoor aan Sakeliga se regspan beteken (ten spyte daarvan dat die verklaring al twee dae voor die verhoor beëdig en dus gereed vir betekening was). Dit beteken dat Sakeliga nie geleentheid gehad het om die verklaring te oorweeg of om by wyse van repliserende verklaring daarop te reageer nie.

Die implikasies van die bogenoemde verwikkelinge is:

  1. Submissies oor die regering se nie-voldoening aan die deel A-bevel van 13 Oktober sal op Vrydag, 18 November voor die hof gemaak word met die oog op ‘n gewysigde Deel A-bevel wat Sakeliga se reeds verkreë regshulp versterk. In die lig van die regering se versuim om watertoevoer na behore te herstel, sal Sakeliga vra dat gemeenskapslede sonder obstruksie mag ingryp om self die watertoevoer te herstel, op die regering se onkoste
  2. Die deel B-aansoek vir nasionale regeringsingrepe kragtens artikel 139(7) van die Grondwet, sowel as vir toepaslike gemeenskapsingrepe in die Ditsobotla-munisipaliteit sal op dieselfde dag aangehoor word.
  3. Sakeliga sal vra vir ‘n bestraffende kostebevel ten opsigte van verspilde kostes verbonde aan die uitstel van die deel B-aansoek.

Sakeliga word bygestaan in ons hofaansoek deur twee mede-applikante, ‘n openbare belang-organisasie en ‘n plaaslike sakeman. Die respondente vertoon op ons kennisgewing van mosie, wat hier afgelaai kan word.

Lees meer oor die saak hier.

Argiewe