Sakeliga kry bevel teen Dlamini-Zuma oor openbaarmaking van inperkingsrekords

Besluitnemingsrekords oor Covid-inperkings sal vir eerste keer openbaar gemaak word

Vir die eerste keer sedert die verklaring van ‘n nasionale ramptoestand oor Covid-19 in Maart 2020, sal die sluier van geheimsinnigheid oor die regering se besluitnemingsprosesse oor Covid-rampbestuurregulasies, gelig word. Weens ‘n hofoorwinning wat Sakeliga vandeesmaand teen Minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Nkosazana Dlamini-Zuma, bereik het, het sy nou nie ‘n ander wettige keuse as om ‘n verskeidenheid rekords wat Sakeliga al in 2020 aangevra het, te lewer nie. Die hofoorwinning sluit ‘n litigasiestryd van twee jaar af. Die rekords wat die Minister nou moet lewer hou verband met die besluitnemingsprosesse wat in 2020 gevolg is om die land onder ‘n grendelstaat en rollende verlengings daarvan te plaas. Die inperkings- en ander maatreëls het ekonomiese- en sosiale aktiwiteit geweldige skade berokken.  

Die publiek sal nou vir hulself kan bepaal vir watter oënskynlike redes Dlamini-Zuma en haar departement polisiestaat-toestande aan die publiek opgedring het om seker te maak mense bly in hul huise en besighede skole, universiteite en kerke bly gesluit. Terwyl skade wat Covid-inperkings aangerig het mettertyd duideliker word, spreek Sakeliga nou die hoop uit dat ons hofoorwinning lede van die publiek in staat sal stel om die regering verantwoordbaar te hou vir skadelike besluite van die verlede en om soortgelyke besluite in die toekoms af te weer.

Dlamini-Zuma moet kragtens die bevel, in Sakeliga se guns, teen 9 Desember* ‘n verskeidenheid rekords van besluitneming oor Covid-inperkingsbesluite aan Sakeliga lewer. Dit sluit in alle rekords, redes, verslae, bevindings, beraadslagings, kommunikasie, memoranda en/of verdere dokumentasie waarop die Minister gesteun het toe sy keer-op-keer verreikende magte kragtens die Wet op Rampbestuur uitgeoefen het om die land in die greep van ‘n grendelstaat te hou. Dit is natuurlik moontlik dat Dlamini-Zuma sal beweer dat die rekords wat sy kragtens die hofbevel moet lewer grotendeels nie bestaan nie. Dit sou vermoedens bevestig dat daar onbehoorlike en arbitrêre besluitnemingsprosesse gevolg is met die uitvaardiging van Covid-regulasies, en opnuut vereis dat die regering tot verantwoording geroep moet en kan word vir grof onverantwoordelike optrede.

Sakeliga se regstryd om die regering se rekords van besluitneming oor Covid-inperkings te bekom was deurtrek met die regering se misbruik van hofreëls en vertragingstaktieke, soos om onreëlmatige kennisgewings van beswaar te liasseer en dit later terug te trek. Ondanks die regering se pogings om die saak te ontspoor en uit die hof te hou, het Sakeliga die proses deurgevoer. Uiteindelik het die Minister nie die hoof-aansoek geopponeer nie, en kon Sakeliga op 9 November verstekvonnis neem.

Sakeliga poog altyd om enige regsproses wat ons van stapel stuur deur te voer – veral wanneer dit kom by historiese magsmisbruik wat in die toekoms kan herhaal. Sakeliga is juis besig met twee ander sake om toekomstige magsmisbruik in verband met oordraagbare siektes te verhoed:

  1. ‘n Hofaansoek in die Hooggeregshof in Pretoria om te verhoed dat die Wet op Rampbestuur in die toekoms misbruik word om drakoniese maatreëls deur middel van regulasie-maak af te dwing. Lees meer hier.
  2. ‘n Hofsaak, wat reeds daarin kon slaag om verpligte masker-dra, verpligte inentings, en Covid-reisvereistes uit die weg te ruim, en steeds aan die gang is om toekomstige pogings tot indringende gesondheidsmonitering te verhoed. Lees meer hier.

Wat die pas gewonne saak teen Dlamini-Zuma betref, sal Sakeliga oorweeg om voort te gaan met ‘n aansoek om Dlamini-Zuma van minagting van die hof skuldig te bevind indien sy versuim om teen 9 Desember die tersaaklike rekords te lewer. In wat dan ‘n soortgelyke geval sou wees, is ‘n munisipale bestuurder in Limpopo wat in gebreke gebly het om rekords kragtens ‘n hofbevel aan Sakeliga te oorhandig, verlede week tronkstraf opgelê. Die vonnis is opgeskort maar sal van krag word indien die rekords nie binnekort aan Sakeliga gelewer word nie.

*Die gebruik van hofdae, eerder as kalenderdae, beteken dat die Minister effektiewelik tot 21 Desember 2022 om aan die bevel te voldoen.

Argiewe