Onteiening as strafmaatreël

lock

Benewens die veelvuldige kommerwekkende bepalings in die nuwe Onteieningswetsontwerp wat op 9 Oktober 2020 gepubliseer is, is dit duidelik dat die regering ‘n heeltemal nuwe konseptualisering van onteiening aanvaar het.

Onteiening word nie meer beskou as ‘n verskriklike ongerief waarvoor onberispelike eienaars vergoed moet word nie, maar eerder as ‘n kru beleidsinstrument wat die regering selfs kan gebruik om Suid-Afrikaners selektief te straf.

Hierdie konseptualisering is heeltemal onversoenbaar met ons grondwetlike demokrasie.

Onteiening word nêrens in die demokratiese wêreld as ‘n vorm van straf beskou nie. Sedert die Grondwet van Suid-Afrika in die negentigerjare aangeneem is, was dit ook die geval hier. Tot nou toe.

‘n Middel, nie ‘n wapen nie

Onteiening is ‘n instrument in enige regering se arsenaal om sy oënskynlike tweelingrolle te vervul: die lewering van basiese dienste en die skepping van ‘n omgewing wat bevorderlike is vir welvaart, onder meer die deur die bou van infrastruktuur.

Soms staan private eiendom in die weg van die regering om dit te doen, en daarom is die opsie beskikbaar om daardie eiendom te onteien – maar byna uitsluitlik as ‘n laaste uitweg.

Dit beteken nie dat die eienaar iets verkeerd gedoen het nie. Hulle is nie misdadigers nie. Hulle het geen delik – ‘n siviele skade – teen iemand gepleeg bloot deur hulle besit van eiendom nie.

Eienaarskap is so oud soos die mensdom self en is ‘n belangrike dryfveer vir welsyn en menslike vooruitgang. Daar is niks verkeerd aan eienaarskap nie.

Daar is wette wat handel oor eiendom wat vir kriminele oortredings gebruik word (soos bate-verbeuring) of delikte (soos om gelas te word om slagoffers te vergoed vir enige skade wat aangerig is). In beide gevalle word die individuele oortreder gestraf met die hoop dat hulle in die toekoms nie weer hul onregmatige gedrag sal herhaal nie. Hier is daar bewyse en regsprosesse wat uitspeel. Onteiening en onteieningswetgewing het niks met ieder van hierdie gevalle te doen nie.

Onteiening gaan eerder oor die neem van eiendom wanneer dit noodsaaklik is vir die bevorderinge van die publieke belang, sonder om die onberispelike eienaar te staf of te benadeel.

Die Onteieningswetsontwerp wat tans deur die Parlement oorweeg word, keer hierdie werklikheid op sy kop. Daar is ‘n baie duidelike kwaliteit van retribusie, boosaardigheid, en ‘n begeerde om eienaars te benadeel wat dwarsdeur die wetsontwerp geld. Enkele voorbeelde word genoem.

Voorbeelde van boosaardigheid

Die eerste is dat die regering blykbaar enige getrouheid tot die beginsel van markverwante waarde as vergoeding vir onteiening laat vaar het.

Die regering het met ander woorde ‘n oorweldigende begeerte om die slagoffers van onteiening in ‘n slegter posisie te plaas as wat hulle andersins sou gewees het as hulle die eiendom op die ope mark kon verkoop.

Die Grondwet maak voorsiening vir kompensasie onder markwaarde, maar dit moet duidelik die uitsondering wees, nie die reël nie.

Die tweede is dat die regering in staat wil wees om onteiende eiendom in besit te neem voordat regsgeskille oor die onteiening afgehandel is. Met ander woorde, die regering beskou eienaars wat grondwetlike regspleging gebruik om hul regte te beskerm as ‘n irritasie wat nie moet toegelaat word om in die pad te staan nie.

Die derde en mees voor-die-hand-liggende voorbeeld van die onduidelikheid van die wetsontwerp is die bepaling dat geen solatium vir onteiening betaal sal word nie. Solatium is vergoeding vir ongerief, en is tot dusver in Suid-Afrika en elders betaal bo en behalwe die vergoeding vir die waarde van die eiendom.

Klousule 4 van die bylaag tot Kenia se Grondverkrygingswet maak byvoorbeeld voorsiening vir die toevoeging van ‘n bedrag van 15% van die markwaarde tot die vergoeding, as “vergoeding vir versteuring”.

‘n Swakker maar soortgelyke bepaling bestaan in artikel 12(2) van Suid-Afrika se huidige Onteieningswet van 1975.

Dit maak sin. Onthou, eienaars is nie misdadigers of oortreders nie. Daarom, wanneer ‘n goedgesinde regering eiendom onteien, vergoed dit die eienaar boonop vir die geweldige swaarkry wat die regering aan ‘n onskuldige persoon veroorsaak. Dit is ‘n manier om verskoning te vra en om die oënskynlike noodsaaklike onreg wat die regering veroorsaak, reg te stel.

Daar is egter niks meer hiervan in Suid-Afrika nie. Die wetsontwerp beëindig die betaling van solatium.

Eienaars, as hulle gelukkig genoeg is om enige vergoeding vir die waarde van hul eiendom aangebied te word, sal slegs daardie vergoeding ontvang en niks meer nie. Met ander woorde, selfs as hulle markgebaseerde vergoeding ontvang, sal eienaars in ‘n slegter posisie wees as voor die onteiening, omdat hulle hul eiendom steeds genoeg gewaardeer het om dit te wil behou eerder as om dit te verkoop. Selfs die markwaarde is dan laer as die subjektiewe waardasie (wat sentimenteel kan wees) vir hul eiendom.

Onteiening, soos die regering in die wetsontwerp beoog, ignoreer duidelik enige subjektiewe kommer, sentimente, en planne van eienaars.

Nuwe definisie van ‘abandonering’

En laastens, nog ‘n voorbeeld, waarskynlik erger as die uitskakeling van solatium, is die wetsontwerp se herdefiniëring van “abandonering” (d.w.s., om eiendom verlate te laat) onder omstandighede van onteiening sonder vergoeding.

Ingevolge ons gemenereg en onder die vorige weergawe van die Onteieningswetsontwerp, word abandonering gedefinieer as 1) geen beheer oor die eiendom nie, en 2) geen duidelike bedoeling om die eiendom te besit nie. Die wetsontwerp skakel die latere vereiste uit en definieer abandonering slegs as die versuim om beheer oor die eiendom uit te oefen.

Dit beteken dat indien enige eienaar onwettig of verkeerdelik van hul eiendom afgesit word (byvoorbeeld deur misdadigers, of deur hulself uit te sluit, onderskeidelik), die regering dit kragtens die bepalings van die wetsontwerp kan beskou as gronde om daardie eiendom te onteien sonder vergoeding.

Gelukkig is dit onwaarskynlik dat ons howe so ‘n klaarblyklike onregverdige gebeurtenis sal toelaat.

Maar dat die wetsontwerp dit moontlik maak, toon ongelukkig die houding waarmee die regering vandag die idee van onteiening benader: suiwer boosaardigheid of ‘n kru politieke oorwegings.

Alle eienaars is in gevaar

Ras is hier vermy, aangesien dit geneig is om sommiges se aandag af te trek van dit wat werklik tersaaklik is. Alles hierbo is van toepassing op eienaars van wakker ras ook al.

Niemand is vrygestel nie, en eienaars in ‘n laer inkomstegroep het meer rede om bekommerd te wees.

Dit is hulle, nie die rykes nie, wat nie die regering se onheilspellende gedrag in die hof kan uitdaag nie. Hoe dit ook al sy, sover ek weet, doen die regering niks om regshulp beskikbaar te stel aan onteieningslagoffers wat sulke beslissings in die hof wil betwis nie. Groeperings in die burgerlike samelewing kan dit oorweeg om sulke fondse te stig.

Die Grondwet vereis dat die regering respek moet hê vir eienaars. Dit vereis inderdaad dat die regering eienaarskap moet uitbrei en vergroot deur ‘n grondhervormingsprogram wat eiendomsreg respekteer.

Die Grondwet kondoneer beslis nie die konseptualisering van onteiening-as-straf wat die regering in die Onteieningswetsontwerp aangeneem het nie.

Dit is die taak van konstitusionaliste van alle strepe om hierdie nuwe benadering te verwerp.

Martin van Staden is ‘n Regsgenoot by die onafhanklike sakegemeenskap Sakeliga. Hy studeer tans aan ‘n doktorsgraad in regte aan die Universiteit van Pretoria. Vir meer inligting besoek www.martinvanstaden.com.

Archives