Wetsontwerp onteiening het grondwetlike bekommernisse, bedreig die veiligheid van eiendom – Sakeliga

Grond

Die oogmerk van die Onteieningswetsontwerp, dat die regering privaat eiendom kan onteien, moet streng beperk en duidelik  omskryf word. Die wetsontwerp moet eiendomsreg eerbiedig en staatsmag beperk. 

Dit was enkele van die opmerkings in Sakeliga se uitgebreide kommentaar oor die omstrede wetsontwerp wat hy vandeesweek ingedien het as deel van die openbare deelnameproses. Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, meen dat die wetsontwerp met internasionale beste praktyk belyn behoort te word: “Beste praktyk beskou onteiening as ‘n ernstige, baie ontwrigtende en duur inbreuk op lewensbestaan, individuele en gemeenskapsoutonomie, sowel as ekonomiese produktiwiteit. Die meganismes van onteiening en ontneming van regte is skadelik en moet, indien enigsins, baie spaarsamig toegepas word. In die geval van onteiening, word staatsmag buitengewoon ten gunste van die staat en sy politieke agente gekantel en teen eienaars wat aan die wetgewing onderwerp word. Dit vra vir ernstige beperkings op staatsmag.” 

Martin van Staden, regsgenoot by Sakeliga, sê: “Dit is duidelik dat die wetsontwerp dit so maklik as moontlik wil maak vir die regering om na eie goeddunke eiendom te onteien. Hierdie agenda is in stryd met die doel van die onteieningsreg, naamlik om die regering se onteieningsbevoegdheid effektief, prakties en wesenlik te beperk. Onteieningswetgewing se  doel is juis die veiligheid en beskerming van private eiendomsreg wat in die openbare belang is, selfs volgens die Grondwet, gesonde ekonomie en die tydlose beginsels van konstitusionalisme.” 

Die  wetsontwerp stel  onteiening sonder vergoeding (of teen nil vergoeding) of ‘n dramatiese afwyking van die markwaarde voor  deur middel van ‘n proses om artikel 25 van die Grondwet te wysig. Onteiening sonder vergoeding, veral op die openlike manier wat in die wetsontwerp bedink word, sal rampspoedig wees vir die Suid-Afrikaanse ekonomie en vooruitsigte op groei en belegging. 

In besonder herdefinieer die wetsontwerp byvoorbeeld wat abandonering (om ‘n eiendom verlate te laat) in die Suid-Afrikaanse eiendomsreg beteken vir die doel van onteiening sonder vergoeding. Die gemeenregtelike standpunt is dat eiendom as geabandoneer beskou sou word as die eienaar nie meer die eiendom beheer nie en nie meer ‘n duidelike voorneme het om die eiendom te besit nie. Die wetsontwerp verwyder die laasgenoemde vereiste, wat beteken dat die regering eiendom as geabandoneer sal beskou as die eienaar ‘nie beheer daaroor uitoefen nie’. Die implikasie van hierdie nuwe definisie is dat, as ‘n eienaar onwettig van sy eiendom verdryf word, byvoorbeeld deur middel van grondgrype, die regering die situasie kan beskou as dat hy die eiendom kan onteien sonder om vergoeding aan die verontregte eienaar te gee.

Dit is slegs een van die tiental bepalings rakende die wetsontwerp. Die ekonomiese impak van sulke gebrekkige wetgewing as geheel moet ook in gedagte gehou word. Gerhard van Onselen, senior ontleder van Sakeliga, merk op: “Sonder duidelik afgebakende privaatbesit en beskermde eiendomsreg, is niemand seker wie mag met reg hulpbronne gebruik en beheer, daarin belê of daarmee handel dryf nie. Sonder sekerheid van eienaarskap word ekonomiese bedrywighede belemmer, potensieel konflikgeteisterd en kan ‘dooie’ en onproduktiewe kapitaal veroorsaak. Deur die sekerheid van private eienaarskap te benadeel, sal die staat die ekonomiese potensiaal benadeel.” 

Lees hier Sakeliga se volledige voorlegging oor die wetsontwerp.

Archives