10 Beste praktyke vir sakekamers teen staatsverval

Business-Chamber-Sliders-01

Met of sonder die toestemming van die staat: Wat kan sakekamers doen wanneer staatsverval hul dorpe bedreig?

Dit was die vraag by Sakeliga se 2023 Beraad vir Sterker Sakekamers en Sakeorganisasies. Hier is die sprekers se 10 beste praktyke vir sakekamers:

  1. Sakekamers is nie daar om besigheidskaartjies uit te ruil nie, maar om oplossings vir staatsverval te skep. Dit verg dat ’n sakekamer behoorlike fondse insamel en so gou as moontlik ’n voltydse bestuurder aanstel om by die dorp se verval in te gryp. Die beste sakekamerlede is dus nie diegene wat aansluit net in eie belang nie, maar daardie sakelui wat gemeenskaplike oplossings wil en kan befonds. – Russell Lamberti, Uitvoerende Direkteur by Sakeliga. (Klik hier vir sy toespraak.)

  2. Jy kan nie die staat reg litigeer nie – daarvoor is staatsverval te groot. Maar sakekamers kan en moet litigeer vir tussentydse verligting en om vir hulself ruimte te skep waarbinne hulle legitieme alternatiewe tot staatsverval in werking kan stel. – Péter Wassenaar, Prokureur by Kriek, Wassenaar & Venter. (Klik hier vir ‘n video oor hoe strategiese litigasie ekonomiese spelreëls kan verander.)

  3. Om ’n privaat brandweerdiens sonder winsoogmerk te begin is baie goedkoper as wat dit lyk. Die Sinvolle Brandbestrydingsvereniging het dit reeds gedoen en hulle deel graag die resep met sakekamers. – JP (Johan) Botha, Projekbestuurder en voormalige Voorsitter by die Sinoville Brandbestrydingsvereniging (Klik hier vir die SBBV)

  4. Besef ’n beter konstitusionele orde op ’n dorp begin op grondvlak, nie by die staat nie. Sakekamers kan met  treetjies konstitusionele orde op grondvlak skep te midde van staatsverval Die krisis van staatsverval is so groot, dat sakekamers meer konstitusionele invloed het as wat hulle mag dink. Konstitusionele werklikhede is nie statiese bevele wat van bo deur wetgewers op ’n bevolking afgedwing word nie, maar spruit eerder uit die praktyke, gewoontes en aksies van gemeenskappe. – Prof Koos Malan, Konstitusionele juris. (Klik hier vir sy reeks oor Konstitusies, geregtigheid en magsverdeling.)

  5. Moenie alle munisipale probleme van voor af probeer litigeer nie. Gebruik bestaande hofuitsprake of werk saam met ander litigante en vennote om gunstige beginsels toe te pas sodat jou koste van litigasie laag is en jou kans op sukses hoër. ’n Vinnige wen, wat miljarde rand kan bespaar, is byvoorbeeld indien sakekamers hul munisipaliteit se verkrygingsbeleid laat hersien om aan te pas by Sakeliga se Konstitusionele Hof-uitspraak teen BEE-voorvereistes in staatsverkryging.  – Tian Alberts, Regsbestuurder by Sakeliga (Klik hier vir hoe jou munisipaliteit miljoene of miljarde met verkryging kan bespaar)

  6. Bewerkstellig waar moontlik samewerking tussen die sakelui op ’n dorp en die landbou-organisasies in die omgewing. Hierdie groepe het sterk gedeelde belange en kan saamwerk nie net in litigasie nie, maar om alternatiewe strukture op te rig om die dorp se ekonomie te herstel. – Boeta du Toit, Uitvoerende Hoofbestuurder by Agri Noord-Wes. (Klik hier vir Agri-NW)

  7. Deur kennis oor wat werk en wat nie werk nie te deel, kan sakekamers hulle koste van die skep van oplossings verminder deur te verhoed dat hulle die wiel moet herontdek. Sakeliga voorsien sakekamers van ’n platform en netwerk vir toegang tot strategieë en oplossings wat ook deur ander op die proef gestel is. – Christo Bester, Hoof van die Sakekamer-ondersteuningsnetwerk by Sakeliga en Bestuurder by die Pretoria Sakekamer. (Klik hier vir die Sakekamer-ondersteuningsnetwerk.)

  8. Bekom algaande die deelname en bystand van verskeidenheid plaaslike gemeenskappe en organisasies. Die oplossing gaan nie van geïsoleerde nie, maar van samewerkende sakelui en gemeenskapsorganisasies vanuit dorpe self moet kom, anders sal daar geen herstel wees nie. – Jannie Schabort, Voorsitter van die Mafube Business Forum. (Klik hier vir die MBF.)

  9. Sakekamers kan die veiligheidsituasie in hul dorp baie verbeter deur selfs net goeie werksverhouding en ko-ordinasie te vestig met plaaslike wetstoepassing van die staat (waar funksioneel), buurtwagte en siviele sekuriteitsdienste. So kan sakekamers sonder groot ekstra koste misdaad dikwels in ’n hoë mate bekamp. – Gideon Joubert, Hoof van Sekuriteitsprojekte by Sakeliga. (Klik hier vir sy toespraak.)

  10. Bly doelgedrewe, naamlik om met of sonder die staat se toestemming weer ’n gunstige plaaslike sakeomgewing te verseker. Moenie dat seksionele belange afbreuk doen aan die sakekamer se vermoë om hierdie doel in die gemeenskaplike belang te dien nie.  – Piet le Roux, Uitvoerende Hoof by Sakeliga. (Klik hier vir Piet se toespraak by die opening van die Pretoria Sakekamer)

Wil jy meer van hierdie soort oplossings sien en uitgenooi word na toekomstige berade? Kontak dan vir Christo Bester by ons Sakekamer-ondersteuningsnetwerk: [email protected].

Wil jy Sakeliga help om ’n netwerk van sterk sakekamers en sakeorganisasies te bou, wat met of sonder toestemming weer hul dorpe se ekonomie kan laat floreer? Word vandag ’n befondser van Sakeliga – klik hier.

Argiewe