Konstitusies, Geregtigheid en Magsverdeling: ‘n Inleiding

Konstitusies, Geregtigheid en Magsverdeling- ‘n Inleiding-01

Wat is die doel van ’n konstitusie, meer bepaald, die konstitusie van ʼn staat? Om individuele regte te beskerm, sal baie mense moontlik antwoord. Die antwoord is nie sonder meriete nie, maar skiet nogtans te kort.

 

Geregtigheid

ʼn Meer korrekte antwoord is dat ʼn konstitusie moet dien as waarborg vir geregtigheid. Individuele regte is deel daarvan. Maar naas geregtigheid vir individue moet ʼn konstitusie ook geregtigheid vir gemeenskappe in stand hou. Trouens, dikwels doen situasies hulself voor waar geregtigheid vir gemeenskappe geregtigheid vir individue vooraf gaan, want geregtigheid vir individue is gewoonlik onmoontlik sonder geregtigheid vir gemeenskappe.

 

Die primêre wyse om geregtigheid vir individue te waarborg is deur die erkenning van basiese individuele vryheid. Dit opsigself is natuurlik nie voldoende nie en bowendien kan daar natuurlik ook nie ongebreidelde individuele vryheid wees nie.

Die primêre wyse om geregtigheid vir gemeenskappe te bewerkstellig is soortgelyk. Dit is deur die erkenning van die bevoegdheid van gemeenskappe om hulleself te regeer. In latere besprekings word meer aandag hieraan afgestaan.

 

Owerheidsmags- en -gesageverdeling; remme en teenwigte

Regerings tree egter dikwels nie vanself op so ʼn wyse op dat geregtigheid teenoor individue en gemeenskappe gehandhaaf word nie. Die morele en regsplig op ʼn regering tot geregtigheid is dus ontoereikend. Daarom word oortuigend geredeneer dat ʼn grondwet ʼn breë katalogus van individuele regte (in ʼn handves van regte) moet bevat, wat in die eerste plek daarop gemik is om individuele vryhede teen owerheidsdwang en -ingrype af te weer. Dit is goed, maar allermins voldoende want om geregtigheid in stand te hou, moet enige vorm van regeringsmag met teenmag gebalanseer word, juis ten einde magsmisbruik teen te werk.

 

ʼn Konstitusie moet dus gepaste reëlings oor die uitoefening van die mag en gesag van die owerheid bevat wat vir kontrole oor regeringsmag voorsiening maak. Dit behels dat ʼn konstitusie die instellings waarin bepaalde aspekte van owerheidsmag en -gesag setel, identifiseer; bepaalde magte en gesag aan hierdie instellings toedeel (allokeer); uiteensit hoe die magte en gesag uitgeoefen moet word; en reëlings bevat oor die toesig – kontrole en beheer – oor die uitoefening van mag en gesag deur die onderskeie sentra daarvan. Na laasgenoemde word gewoonlik as remme en teenwigte (checks and balances) verwys. Daardeur word gepoog om seker te maak dat owerheidsinstellings in hulle spore trap, hulle mag nie misbruik nie, en in belang van die geheel van die burgery in plaas van slegs sekere sektore regeer ten einde sodoende juis geregtigheid in stand te hou.

 

Verdeling van owerheidsmag (en -gesag) gepaard remme en teenwigte is wesenlik vir alle konstitusies, want wanneer alle mag en gesag ongekontroleerd in ’n enkele instelling gekonsentreer is, dreig die risiko van magsmisbruik en die voortspruitende verval van geregtigheid.

 

Die toedeling van owerheidsmag en -gesag behels die verdeling van gesag oftewel die sogenaamde skeiding van magte (separation of powers / trias politica). Wanneer ons hiervan praat, duik die verdeling tussen die wetgewer, uitvoerende gesag en die regsprekende gesag dadelik op. Dit is ʼn klassieke verskynsel van die moderne konstitusionele reg (staatsreg).

 

Dikwels word aangevoer dat die verdeling van gesag ʼn integrale deel van ʼn demokratiese konstitusie is. Die stelling is nie korrek nie. Mags- en gesagsverdeling gaan moderne demokratiese konstitusies vooraf. In die Westerse konstitusionele tradisie gaan verdeling van mag en gesag terug na ons klassieke Romeinse en Griekse wortels. Dit is egter na die formalisering tussen die mag van die wêreldlike owerhede en die gesag van die kerk laat in die elfde eeu waarheen ons eietydse opvattings en praktyke terug dateer, dit wil sê etlike eeue voor eietydse demokratiese konstitusies.

 

Soos ons in latere besprekings sal sien, is die belangrikste meganismes vir magsbeperking nogtans nie in die eerste plek die instellings waarna in ʼn grondwette verwys word nie. Inteendeel, die belangrikste instellings wat konstitusionalisme in stand hou, wat regte verdedig en wat magsewewig bewaar is instellings soos die sakesektor, die professies, onderwysinstellings, godsdienstige instellings, en dergelike ander instellings van die burgerlike gemeenskap.

 

Onbeperkte demokrasie rym nie met die konstitusionele idee van mags- en gesagsverdeling en remme en teenwigte nie. Ongebreidelde demokrasie gee vrye teuels aan die mag (soewereiniteit) van die volk (people), wat in die praktyk die meerderheid beteken. Wanneer dit nie behoorlik aan bande gelê word nie, kan dit tot ernstige vergrype lei teen diegene wat nie die oortuigings van die meerderheid deel nie.

 

Hierteenoor vereis konstitusionalisme dikwels dat die mag van die meerderheid juis aan bande gelê word. ʼn Verbintenis tot die konstitusionele idee wat geregtigheid en remme en teenwigte behels, vereis derhalwe dikwels dat demokrasie in die gedaante van die wil van die meerderheid ingeperk moet word. In latere besprekings gaan ons demokrasie verder toelig.

 

Mag en gesag (Potestas en auctoritas)

Hierbo is die begrippe mag en gesag gebruik. Dit is, soos hier onder verduidelik word, nie om dowe neute nie, want dit beteken nie dieselfde nie.

 

Die eerste vertakking van mag is die wetgewer wat regskeppend optree aangesien dit wetgewing kan maak, maar die wetgewer het nie die vermoë om die reg wat dit by wyse van wetgewing geskep het, uit te voer nie. Daardie verantwoordelikheid, die uitvoerende funksie berus by die uitvoerende gesag (executive).

 

Ofskoon ons in Afrikaans van die uitvoerende gesag praat, is dit die een vertakking van staatsgesag wat oor daadwerklike mag beskik. In Suid-Afrika het die president en ministers, wat die politieke hoofde van staatsdepartemente en dergelike staatsorgane is, die vermoë om wetgewing daadwerklik toe te pas / af te dwing, asook om nie net uitvoerende besluite te neem nie, maar dit daadwerklik uit te voer. Die mag van die uitvoerende gesag sluit spesifiek die vermoë in om dwang uit te oefen met inbegrip van die bevoegdheid om (gereguleerde) geweld te gebruik. Die polisie en die weermag is die treffendste voorbeelde van daadwerklike (uitvoerende) mag.

 

Die regsprekende gesag, wat in die howe setel, beskik op die keper beskou oor hoegenaamd geen mag nie. Ten beste het hulle gesag. Die regsprekende gesag (die regters) behoort uit die gelede van die mees senior strata van die regsprofessie te kom. Hulle gesag spruit voort uit hulle status en senioriteit in die regsberoep. Voorts dank hulle hul gesag aan die beoefening onpartydige geregtigheid, hulle geleerdheid, beredeneerdheid en waardigheid. Dit is wat aan hulle so ʼn hoë aansien behoort te verskaf dat hulle uitsprake en bevele, selfs bevele teen die uitvoerende gesag vrywillig deur die uitvoerende gesag gehoorsaam word. As hulle nie uit die mees senior strata van die regsberoep kom nie, intellektueel tekortkomend, gebrekkig beredeneerd en partydig is, hulle by politieke en dergelike omstredenheid betrokke raak, boet hulle hulle gesag in en is die regsprekende gesag bestem om te kwyn.   

 

Aangesien die howe egter oor geen mag beskik nie en geen uitvoerende vermoë in die vorm van iets soos ʼn polisie of weermag het nie, is hulle op die uitvoerende gesag aangewese om hulle bevele uit te voer. Indien die uitvoerende gesag traag of onwillig is om dit te doen, is daar oplaas niks wat die howe daaraan kan doen nie. In sodanige omstandighede kan die hof maar net hoop dat die wetgewer en die publiek die howe so hoog sal ag dat hulle druk op die uitvoerende gesag sal uitoefen om die howe van hulp te wees. Daar sonder is die hof se bevele nie werklik bevele nie, maar bloot versugtinge of wense. Op die keper beskou, is die howe dus afhanklik – in die besonder afhanklik van die uitvoerende gesag – asook van die publiek en in werklikheid magteloos.

 

Benewens mag en gesag is daar ook ʼn derde begrip wat van groot belang is vir die instandhouding van ʼn behoorlike konstitusionele orde. Dit is eiendom (dominium). Soos u later by die bespreking van hierdie onderwerp sal sien, is eiendom nie net ʼn baie belangrike privaatregtelike reg nie. Dit staan ook in die sentrum van die konstitusionele reg. Sonder eiendomsreg is die instandhouding van ʼn behoorlike konstitusionele orde buite die kwessie.

 

Nog vlakke en sfere van regering

Mag kan natuurlik ook verder verdeel word vir sover as wat daar verskeie vlakke oftewel sfere van regering is wat soos in die geval van Suid-Afrika in provinsiale en plaaslike regerings setel. Daar bestaan goeie rede daarvoor, aangesien dit regering nader aan die publiek bring, soos wat dit dikwels gestel word en derhalwe meer demokraties is. Voorts is dit lofwaardig omdat dit bydra tot verdere verspreiding eerder as sentralisering mag in die (enkele) nasionale regering.

 

Kragtige burgery en sakesektor

Die burgerlike- en sakegemeenskap beklee gewoonlik nie amptelik, byvoorbeeld in ʼn konstitusionele dokument ʼn belangrike posisie as strukture van ʼn konstitusionele orde nie. Nogtans vervul die georganiseerde burgery en die georganiseerde sakesektor veelvuldige rolle in ʼn konstitusionele bestel en beskik trouens ook oor beduidende mag en gesag, veral in ʼn vervallende bestel soos die huidige Suid-Afrika. Hierdie sektore moet derhalwe noodwendig ʼn belangrike item wees in enige bespreking oor ʼn konstitusionele orde en raak trouens by die dag belangriker. Ons gee inderdaad in latere besprekings daaraan aandag.

 

Besprekings

In volgende besprekings gaan ons talle konstitusionele kwessies prakties toelig, veral vir sover dit die Suid-Afrikaanse publiek en konstitusionele bedeling raak. Hieronder tel die vraag of die nasionale wetgewer veral die nasionale vergadering werklik doeltreffende beheer oor die uitvoerende gesag uitoefen; of die howe en liggame soos die openbare beskermer en ander sogenaamde hoofstuk IX-instellings werklik daarin slaag om behoorlike toesig uit te oefen; oor in welke mate provinsiale en plaaslike regering werklik in Suid-Afrika demokratiese regering bevorder en ʼn rem en teenwig teen die nasionale regering is; oor die rol van die burgerlike- en sakegemeenskap in die bevordering van geregtigheid die uitoefening remme en teenwigte en die bewaring van magsbalans. Ook gaan ons kyk na demokrasie en die vraag behandel van watter gehalte Suid-Afrika se demokrasie werklik is. Dan gaan kwessies soos gelykheid en eiendomsreg, openbare ampsbekleding en dergelike ander regte ook ons aandag geniet.

 

Ons gaan egter nie slegs probleme identifiseer nie. Inteendeel, ons gaan ook verduidelik hoe leemtes gevul en swakhede reggestel kan word, asook hoe die publiek, met inbegrip van sake- en burgerlike organisasies ʼn beduidende rol hierin kan speel.

 

Ook gaan ons kyk hoe konstitusionele bestelle verander naamlik nie slegs deur wysigings van grondwetlike bepalings nie, maar eenvoudig deur die vestiging van nuwe praktyke, verval van grondwetlike instellings, die opkoms van nuwe nie-staatlike instellings en die verskuiwing van mag en gesag vanaf een dominante magselite na ʼn volgende en vanaf een instelling na ʼn volgende.

DEEL HIERDIE ARTIKEL

Facebook
Twitter
LinkedIn
WhatsApp
Telegram
Epos

WEES DIE EERSTE OM:

Konstitusies, Geregtigheid en Magsverdeling: Remme en Teenwigte en die Dominante Magselite

ANDER ARTIKELS DEUR PROF. KOOS MALAN

Bou ’n staatsbestande toekoms vir besigheid

Beskerming van besighede en verseker betroubare kragtoevoer 

0
79 492 besighede beskerm teen onregverdige kragonderbrekings

Strategiese Litigasie

Regsaksie om skadelike staatsbeleid te beveg en te hervorm.

Word deel van die Sakeliga Binnekring

Nuusbriefintekenaars ontvang die jongste nuus oor litigasie, hoogtepunte van sake, sowel as analise en kommentaar oor sleutelgeberutenisse wat die ekonomiese en besigheidsomgewing beïnvloed. U kry ook toegang tot opnames en Sakeliga-geleenthede.

* Vereis
Taalvoorkeur: