Hoe kan sakekamers terugveg teen staatsverval?

pexels-photo-8450390

Sakeliga se missie is om skaalbare oplossings vir staatsverval te skep. Hierdie drie konsepte – skaalbaar, oplossings, staatsverval – hou ‘n paar sleutelinsigte in vir hoe georganiseerde sakegemeenskappe staatsverval en chaos in hulle dorpe kan teenstaan en gesonde omgewings kan bou vir sakeondernemings en die gemeenskappe wat hulle dien.

Kom ons bekyk al drie hierdie konsepte, en ons begin met die laaste een.

Staatsverval

Die staat verloor vinnig die vermoë om op alle regeringsvlakke en oor verskeie funksies heen te regeer. Ons sien veral totale wanbestuur van nasionale, provinsiale en munisipale infrastruktuur en ‘n voortdurende verlies aan polisiëringsvermoë om misdaad te bekamp.

Die gevolg is ernstig verslegtende saketoestande, aangesien die verbrokkeling van gedeelde ekonomiese infrastruktuur en toenemende gewelddadige en georganiseerde misdaad sakeondernemings se bedryfskoste en risiko’s tot onhoudbare vlakke verhoog en produktiwiteit benadeel.

Hierdie toestande van verval en ekonomiese ontbering lei toenemend tot ‘n onderbefondsde en finansieel gestremde staat. Met die staat se desperate pogings om meer fondse en hulpbronne van produktiewe, welvaartskeppende ondernemings en gemeenskappe weg te neem, sien ons ‘n eskalasie in korrupsie, patronaatskap en skadelike wetgewing en regulasies wat bedoel is om private bates meer onder die staat se beheer te bring en hulpbronne na staatsbegunstigde makkers te kanaliseer.

Hierdie optrede van ‘n desperate regering versnel egter sy verval en bring mee dat staats- en regeringsgesag in baie sfere krimp en in sommige gevalle feitlik heeltemal verdwyn – soos die bestuur van plaaslike munisipaliteite, die bedryf van streek- of nasionale infrastruktuur soos spoorweë, die handhawing van veiligheid en sekuriteit, en nog baie meer.

Die gapings, of leemtes, van orde en regering wat deur die terugtrekkende staat gelaat word, is sowel ‘n bedreiging as ‘n geleentheid. ‘n Bedreiging, want in die plek daarvan kan chaos, wanorde en georganiseerde misdadigheid ontstaan. ‘n Geleentheid, omdat hierdie leemtes gevul kan word deur georganiseerde groepe wat orde en regering herstel, in openbare belang.

Vir sakegemeenskappe wat hierdie geleentheid insien, is dit belangrik dat hulle georganiseerd, gereed en gewillig moet wees om:

  1. verantwoordelikheid te aanvaar om ‘n gunstige sakeomgewing te skep (wat nie van die staat of regeringstrukture afhanklik is nie).
  2. onafhanklik op te tree met of sonder toestemming van die regering.
  3. ‘n visie te hê om beheer te neem oor die noodsaaklike strukture wat florerende sakeondernemings, gemeenskappe en plaaslike ekonomieë moontlik maak.

Ongelukkig het die meeste sakekamers nog nie hierdie soort denkwyse aangeneem nie. Baie verwag steeds van hulle mislukkende plaaslike regerings om hulself te hervorm en hulle eie gemors reg te maak. Dit is ‘n verloorstrategie. Baie probeer om wye konsensus tussen verskeie belanghebbendes te bewerkstellig of om steun van die regering te kry voordat hulle optree, wat meermale veroorsaak dat hulle planne in eindelose vergaderings, politiek en gemeenskapsapatie verval. En baie besef nog nie dat georganiseerde sakegemeenskappe die kundigheid, befondsing en direkte belang het om beheer te neem van die noodsaaklike strukture wat voorsiening maak vir ‘n meer florerende omgewing vir sakeondernemings en die gemeenskappe wat hulle dien nie.

Gelukkig is dit besig om te verander. Sakekamers en organisasies in die Sakeliga Sakekamernetwerk besef die geleentheid wat hulle het om die leemtes wat die inkrimpende staat laat, met gefokusde en realistiese oplossings te vul.

Oplossings

Wat is die doel van ‘n sakekamer? Baie dink dat ‘n sakekamer ‘n plek is om netwerke met ander ondernemings te vorm, jou onderneming in die netwerk te bevorder, fondse vir liefdadigheidsorganisasies in te samel, of om by plaaslike politici te voetval vir spesiale gunste of toegewings. Hierdie dinge kan neweprodukte van gesonde sakekamers wees, maar hulle moet nooit die primêre fokus wees nie.

Plaaslike sakekamers moet eerder oplossingskeppers wees vir die oplossing van gemeenskaplike probleme wat die plaaslike sakeomgewing raak. Om effektiewe oplossingskeppers te wees, moet sakekamers permanent en professioneel beman word, toereikend befonds word en gestruktureer wees om ‘n gefokusde missie deur realistiese, konkrete strategieë na te streef.

Kortom, die sakekamer moet ‘n toegewyde instrument wees om die plaaslike sakeomgewing in openbare belang te verbeter.

Dit moet onder die bestuur en leiding van ‘n klein, gefokusde span wees en moet fondse insamel van sakeondernemings en individue wat die missie ondersteun. Hierdie ondersteuners van die sakekamer is nie lede wat geregtig is op voordele of dienste nie, maar eerder befondsers wat bydra tot ‘n gemeenskaplike missie en visie vir hulle dorpe – ‘n missie wat uitgevoer word deur ‘n professionele span in ‘n toegewyde entiteit met gesonde bestuurstrukture.

So ’n situasie bied ’n platform vir oplossings wat skaleer.

Skaalbaar

Om die probleem en geleentheid van staatsverval te erken en ‘n oplossingsgerigte en befondsde instrument op te stel om die probleem aan te pak, is belangrik. Maar dit sal steeds van beperkte waarde wees as die oplossings nie skaalbaar is nie.

Staatsverval is byna altyd verval op skaal. Vir verval op skaal het jy oplossings nodig wat skaleer.

Die eerste bron van skaal is inherent in die aard van organisasies self: samevoeging van hulpbronne (befondsing) om op te tree op ‘n skaal wat veel groter is as wat enige individu kan vermag. Formele, vertroude nie-winsstrukture met duidelike missies kan sulke gepoelde fondse insamel, administreer en ontplooi. Dit stel sakegemeenskappe in staat om groter, meer komplekse probleme aan te pak as in die geval van gefragmenteerde of ongestruktureerde pogings. Dit is die geval ongeag of dit behels om te litigeer teen ‘n munisipaliteit wat nie sy kant bring nie, om private dienste op die been te bring, of bloot om ‘n voltydse span te ondersteun om die missie uit te voer.

Tweedens moet die beplande oplossings self skaalbaar wees. Goed gestruktureerde en toepaslike litigasie kan aansienlike skaal bereik deur die gewig en toepassingsbestek van hofbevele en presedente. Privaat sekuriteit is doeltreffend om na private belange om te sien, maar ‘n sakekamer wat ‘n openbarebelangmandaat aan ‘n sekuriteitskontrakteur verskaf, kan begin om gemeenskaplike areas – noodsaaklik vir die funksionering van die dorp – veiliger te maak. Hierdie gebiede kan belangrike vragroetes, dorpspleine/sentrums, sakestrate, parke en dies meer insluit – sulke publiek-gefokusde sekuriteit kan veiligheid op skaal skep. Basiese dienste-oplossings vir water en elektrisiteit wat help om doeltreffende netwerke en verspreidingsinfrastruktuur te herstel, te herbou of te skep, kan skaal skep, in teenstelling met individuele oplossings soos om sonkragpanele op jou dak te installeer of enkele boorgate te sink.

Die derde sleutelbron van skaal om hier te noem, is om idees te deel en te repliseer. Sakeliga poog om sakekamers te voorsien van ‘n platform en netwerk vir toegang tot strategieë en oplossings wat reeds deur Sakeliga sowel as ander sakekamers geskep is. Deur kennis oor wat werk en wat nie werk nie te deel, kan sakekamers hulle koste van die skep van oplossings verminder deur te verhoed dat hulle die wiel moet heruitvind. Regspresedente en saaktemplate kan sakekamers help om sukses te behaal met litigasie teen baie laer koste deur die werklading vir prokureurs by die hantering van sake te verlig. Nasionale presedente wat in belangrike Sakeliga-sake gevestig is, kan gebruik word om sekere remedies bekostigbaar af te dwing en interdikte teen skadelike optrede te bekom wat andersins buitensporig duur sou wees.

Afsluiting

Sakeliga nooi sakegemeenskappe (sakekamers, bedryfsorganisasies en ondernemings wat nog nie georganiseer is nie) wat graag hulle dorpe wil regruk, om te reageer op die bedreiging en die geleentheid van staatsverval. Ons uitnodiging is om ‘n gekoördineerde en georganiseerde visie te ontwikkel om beheer oor hulle plaaslike ekonomie te neem, ‘n toegewyde, goed befondsde en professioneel bestuurde oplossingsinstrument op te stel, en in te skakel by ‘n netwerk van organisasies wat strategieë en kundigheid vir skaalbare oplossings deel.

Wanneer sakegemeenskappe by die Sakeliga Sakekamernetwerk aansluit, kry hulle toegang tot Sakeliga se kragtige strategiese benadering en ’n netwerk van organisasies wat hulle kan help – en vir wie hulle kan help – om skaalbare oplossings vir staatsverval te ontwikkel.

Sakeliga bring missiegerigte plaaslike sakegemeenskappe byeen wat ‘n visie het om verantwoordelike rentmeesters te wees, hulle gemeenskappe teen ‘n mislukkende staat te beskerm en ‘n toekoms te verseker in die plek waarvoor hulle lief is.

Argiewe