Sakeliga verwelkom Grondwethofuitspraak teen EFF en Malema oor betreding en aanhitsing

Sakeliga het op Vrydag, 27 November 2020 die uitspraak van die Grondwethof verwelkom, naamlik dat betreding ’n misdaad bly, in teenstelling met die aansprake van mnr Julius Malema en die EFF. Sakeliga verwelkom ook die hof se instandhouding van mnr Malema en andere se aanspreeklikheid vir die misdaad van aanhitsing, alhoewel beperk tot ernstige misdrywe. 

Sakeliga is bly om as amicus curiae die Grondwethof te kon bystaan in hierdie saak tussen die Economic Freedom Fighters en mnr Julius Malema v Die Minister van Justisie en Korrektiewe Dienste en ‘n Ander. 

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, sê “Mnr Malema en die EFF wou, deur agter die vaandel van vryheid van spraak weg te kruip, aanspreeklikheid vir kriminele oortredings ontsnap. Hierdie uitspraak steek daar ‘n stokkie voor, ondersteun die kantoor van die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging (NDOV) in sy vermoë om te vervolg, versterk die regsorde, verbeter die sakeomgewing, en is in die openbare belang. Dit is bevredigend om ’n rol daarin te kon speel.” 

Agtergrondinligting 

Sakeliga het tydens die hofverrigting in Februarie 2020 geargumenteer teen die applikante se poging om belangrike dele van die Wet op Oproerige Byeenkomste (17 van 1956) en die Wet op Betreding (6 van 1959) ongeldig te laat verklaar, wat hulle vrypas sou gee om hul volgelinge tot onwettige grondbesettings aan te hits. 

Die saak het gespruit uit die applikante se pogings deur die loop van jare om vervolging vir die misdaad van aanhitsing te ontsnap. Soos aangedui in hofstukke is daar verskeie soortgelyke klagtes teen mnr Malema hangend, naamlik dat hy “onregmatig en doelbewus sy Ekonomiese Vryheidsvegter-volgelinge en/of ander aangehits, opgesteek, beveel, of ingespan het om ‘n misdaad te pleeg, in besonder: betreding … deur onwettig enige oop grond te beset …”. 

Mettertyd het die NDOV besluit om mnr Malema te vervolg. Nadat hy van die vervolging in kennis gestel is het mnr Malema en die EFF probeer om skuldigbevinding vry te spring deur die grondwetlikheid van die Wet op Oproerige Byeenkomste en die Wet op Betreding te bevraagteken. 

Sakeliga sal bykomende kommentaar lewer na verdere bestudering van die uitspraak. 

Argiewe