Sakeliga en vennote begin regstappe teen nasionale regering oor vervallende Oos-Kaapse munisipaliteit

telephone-g5b5228229_1920

Sakeliga en ons plaaslike vennote het met regstappe teen die nasionale regering begin oor die voortslepende staatsmislukking wat die Enoch Mgijima-munisipaliteit in die Oos-Kaap se ineenstorting veroorsaak. 

Die litigasie beoog om tussentydse verligting vir besighede en inwoners van Queenstown en ander geaffekteerde dorpe te verseker, terwyl blywende regspraak ontwikkel word vir meer uitgebreide toesig en ingrepe deur georganiseerde besigheid. 

Alhoewel die verval by die Enoch Mgijima munisipaliteit met ander ineengestorte munisipaliteite ooreenstem, bied hierdie saak ‘n duidelike en paslike feitelike basis vir strategiese litigasie. Die saak word nou deel van Sakeliga se litigasiestrategie oor munisipale ineenstorting, waardeur ons onderling ondersteunende uitsprake vestig. Sodoende kan aanspreeklikheid waar moontlik verhoog word en terselfdertyd staatsbestande, gemeenskapsgebaseerde oplossings verder aanhelp. 

Die Enoch Mgijima munisipaliteit het totaal ineengestort, ontdanks die feit dat dit sedert 6 April 2022 onder nasionale administrasie, ingevolge artikel 139(7) van die Grondwet geplaas is. Dit is die hoogste vlak van regeringsingryping waarvoor die Grondwet voorsiening maak. Nietemin, het die haglike situasie in die dorpe wat deur die munisipaliteit bedien word, nie verbeter nie. Die munisipaliteit skuld Eskom nagenoeg R1 miljard, terwyl fondse vir dienslewering vir stygende loonrekeninge aangewend word. Dienslewering en infrastruktuur het feitlik in duie gestort ondanks debiteurrekeninge wat ophoop. Queenstown en ander geaffekteerde dorpe word boonop gereeld aan onluste onderwerp, soos op 26 en 27 Januarie 2023 toe 2 000 inwoners die sakekern in Komani tot stilstand gedwing het.  

Sakeliga en sy vennote weet dat hofbevele wat die nasionale regering se ingrepe in munisipaliteite versnel, onvoldoende sal wees om orde en voorspoed te herstel. Die staat het sy onvermoë om enige herstel te bewerkstellig, herhaaldelik bewys. Sakeliga se litigasie, hier en elders, neem die nie-nakoming van hofbevele deur nasionale en ander vlakke van die regering in ag. Die litigasie behels voorbereiding vir opeenvolgende én gelyklopende hofaansoeke, wat telkens judisiële bevestiging vir, en die beskerming van direkte ingrepe deur sakegemeenskappe, onder die hof se toesig, uitbrei.  

Terwyl die litigasie wat ons nou in Enoch Mgijima begin, soos elders, poog om dringende tussentydse verligting te verskaf, moet ons beklemtoon dat litigasie kompleks is en dikwels vertraag word. Benewens om so gou moontlik dringende verligting te bring, voorsien ons dat die verdere strategiese doelwitte, naamlik groter erkenning van toesig en ingryping deur die sakegemeenskap slegs geleidelik met verloop van tyd bereik sal word. 

In samewerking met ons vennote, die Border-Kei Chamber of Business: Komani en CRAEM (Civic and Ratepayers Association of Enoch Mgijima), het Sakeliga nou die Nasionale Regering skriftelik aangemaan dat die Nasionale Regering, veral die Minister van Finansies: 

  • die munisipale raad van Enoch Mgijima ontbind; 
  • die munisipale finansiële herstelplan wat deur die minister van finansies goedgekeur is, onmiddellik in werking stel en sorg dat dit spoedig uitgevoer word; 
  • instem tot voortgesette en betekenisvolle skakeling met Sakeliga en andere oor die herstel van die munisipaliteit en die uitvoer van die munisipale finansiële herstelplan.  

Sakeliga se betrokkenheid by Enoch Mgijima vorm deel van ons groter litigasiestrategie om stapsgewys ’n regsraamwerk te skep waarbinne sakegemeenskappe toesig kan hou en kan ingryp om orde en welvaart in hul plaaslike ekonomieë te herstel. Ons beskou dit as ‘n deurslaggewende en dringende poging in die belang van plaaslike gemeenskappe en ‘n stabiele samelewing. 

Lees meer oor Sakeliga se litigasie in ander munisipaliteite: 

Noordwes: (hier en hier). 

Limpopo: (hier en hier). 

Argiewe