Sakeliga en Pretoria Sakekamer gaan PEU/TUMS-aangeleentheid in Tshwane ondersoek

Sakeliga en die Pretoria Sakekamer nader die Stad Tshwane oor tot dusver versweë aanspreeklikhede wat voortspruit uit onwettige elektrisiteitsmeterkontrakte met PEU Capital Partners (PEU) en Total Utility Management Services (TUMS).

Sakeliga en die Pretoria Sakekamer gaan verdere inligting versoek, insluitend finansiële en ouditinligting, wat ons in staat sal stel om te bepaal tot watter mate ons die stad kan help om los te kom van aanspreeklikhede wat uit onwettige aktiwiteite voortspruit.

Dit volg op onthullings vroeër vandag deur Cilliers Brink, burgemeester van Tshwane, dat betalings ter waarde van sowat R2 miljard   gemaak is in verband met hierdie aanspreeklikhede. Dit blyk dat die aanspreeklikhede voortspruit uit betalings wat PEU en/of TUMS aan hulself gemaak het, op ‘n tydstip toe hulle direkte toegang tot die stad se bankrekeninge gehad het.

Ingevolge die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur mag geen maatskappy direk toegang verkry tot munisipale bankrekeninge in die afwesigheid van ‘n hofbevel of wettige vrystelling tot daardie effek nie. Sakeliga het al voorheen sulke reëlings by wyse van interdikte verhoed.

Vir verdere inligting oor ons vorige litigasie om die kontrakte met PEU en TUMS, wat onder die destydse burgemeester  Kgosientsho Ramokgopa (tans minister van elektrisiteit) gesluit is, tersyde te stel, klik hier.

Argiewe