Sakeliga waarsku oor Ramokgopa ná elektrisiteitmeter-tenderskandaal wat belastingbetalers miljarde kos

Smart-Electricity-Power-Meter-technology

Die nuut-aangestelde minister in die presidensie vir elektrisiteit, Kgosientsho Ramokgopa, se aktiwiteite behoort met groot omsigtigheid dopgehou te word, in die lig van ‘n reuse tenderskandaal waarby hy betrokke was in sy tyd as burgermeester van die Tshwane-munisipaliteit, wat belastingbetalers miljarde gekos het. 

Sakeliga en andere het tussen 2014 en 2017 uitgerekte hofsake gevoer teen die Tshwane-munisipaliteit onder Ramokgopa se burgemeesterskap, oor miljarde rande se verliese met onwettige tenders vir elektrisiteitsmeters. Ramokgopa het sy amp as burgemeester verlaat te midde van R2-miljard se addisionele skuldlas op die munisipaliteit weens ‘n onwettige ooreenkoms vir die installasie en onderhoud van elektrisiteitsmeters waarop hy afgeteken het, nieteenstaande verskeie waarskuwings van sy politieke base en opposisiepartye dat die ooreenkoms geen voordeel vir die stad sou inhou nie. 

Ramokgopa se onwettige en onbekostigbare tenderskandaal in Tshwane 

Die skandaal soos oopgevlek in die hofstukke toon dat die stadsraad, onder leiding van Ramokgopa, ‘n kontrak met PEU Capital aangegaan het vir die installasie van “slim” elektrisiteitsmeters. Sakeliga en andere het in hofstukke uitgewys dat Tshwane kon kies om hul eie slim elektrisiteitsmeters teen sowat R11 miljoen per jaar te bedryf, maar volhard het om 70 keer die bedrag aan ‘n kontrakteur te betaal. Die ooreenkoms met PEU het behels dat Tshwane 19,5 sent in die rand aan PEU as kommissie moes oorbetaal vir elke rand elektrisiteit verkoop. Ramokgopa het hom nie aan destydse Minister van Finansies, Pravin Gordhan, se waarskuwing gesteur dat Tshwane elektrisiteit teen ‘n verlies sou verkoop aangesien die kommissie aan PEU in die rand betaalbaar telkens meer sou wees as die winsgrens waarteen Tshwane kragtens Nersa se bepaling ‘n eenheid elektrisiteit mog verkoop nie. Boonop het Tshwane elektrisiteit wat in grootmaat by Eskom gekoop is, ook deur die PEU-stelsel gekanaliseer en sodoende twee maal vir hul eie elektrisiteit betaal. Ramokgopa se eie finansiële hoof se advies ten spyt dat die projek nog nooit die verwagte voordele ingehou het nie en ook nooit sou nie, wou Ramokgopa daarmee voortgaan. 

Weens die litigasie en ander druk is Tshwane later genoop om die kontrak met PEU te kanselleer en die infrastruktuur by PEU oor te koop. Die stadsbestuur kon ‘n kansellasiereëling met PEU beding wat tot ‘n terugbetaling vir die stad sou lei, maar ná Ramokgopa se oorweging van die reëling het ‘n nuwe reëling agter toe deure tot stand gekom waarkragtens die stad in plaas van ‘n terugbetaling bekom, eerder kansellasiebedrae aan PEU sou moes betaal. Weer het Sakeliga en andere ingegryp en met sukses ‘n dringende interdik bekom om die nadelige kansellasieooreenkoms te stop, en sodoende die oorbetaling van R950 miljoen aan PEU te staak. Teen die tyd wat die hofbevel bekom is, is groot skade egter reeds aangerig omdat die stad vir etlike jare nagenoeg R630 miljoen per jaar aan PEU oorbetaal het vir “dienste gelewer”. 

Die hooggeregshof in Pretoria het uiteindelik in 2017 in die applikante se guns bevind dat die ooreenkoms tussen Tshwane en die PEU in geheel onwettig en ongrondwetlik was, en dat ‘n bedrag van R950 miljoen in ‘n trustrekening aan die munisipaliteit oorbetaal moes word, en nie aan PEU nie. Tshwane worstel tot vandag egter steeds met die gevolge van die onwettige PEU-kontrak wat onder Ramokgopa se leiding en op sy aandrang aangegaan is.  

Argiewe