Nóg dringende regshulp in Sakeliga se guns in Ditsobotla, maar groot geveg lê nog voor

FeeKHk0WYAUaJX1

Die Hooggeregshof in Mahikeng het verlede week verdere dringende regshulp toegestaan in Sakeliga se voortslepende hofaansoek oor die krisis in Lichtenburg en Coligny in die Ditsobotla Plaaslike Munisipaliteit.

Dit volg op dringende regshulp wat die hof op 14 Oktober 2022 toegestaan het wat van die munisipaliteit vereis het om dringend volledige watertoevoer na die gemeenskappe van Lichtenburg en Coligny te herstel. Dit het nie gebeur nie, en in verlede week se uitspraak is die Ngaka Modiri Molema-distriksmunisipaliteit gelas om teen 17 Maart 2023 die watertoevoer te herstel en ook aan die hof verslag te doen daaroor.

Verlede week se uitspraak in Deel A van die aansoek handel oor tussentydse verligting en vorm ‘n onderdeel van ‘n omvangryke hofsaak waarmee Sakeliga en andere gemeenskappe se rol by die herstel van watervoorsiening ordelik wil versterk en waar toepaslik ingryping deur die nasionale regering wil afdwing. Deel B van die aansoek, waarin verdere regshulp versoek word, sal op 23 en 24 Maart 2023 aangehoor word.

Sakeliga voorsien nie dat die Ngaka Modiri Molema-distriksmunisipaliteit aan die bevel sal voldoen om teen 17 Maart 2023 die watertoevoer in geaffekteerde gemeenskappe te herstel nie. Sodanige versuim sal moontlik versterkend werk in Sakeliga se aansoek in deel B van die uitspraak, wat vra vir strukturele regshulp wat ‘n kombinasie van nasionale ingrepe en erkenning vir gemeenskapsingrepe behels.

Die deel B-aansoek sal aangehoor word tesame met Sakeliga se sogenaamde betaalmeestersaak wat medium-termyn regshulp vra ten opsigte van die finansiële verval van sowel die Ditsobotla- as die Naledi-munisipaliteite in Noordwes. Die regshulp versoek in ons betaalmeestersaak, in Mei 2021 geloods, oorvleuel beduidend met die regshulp versoek in die dringende deel B-aansoek oor watertoevoer. Die regter-president van die hof het daarom ingevolge saakbestuur bepaal dat die sake saam aangehoor kan word. Dit is nie toevallig dat die regshulp oorvleuel nie. Weens die langsame verloop van die betaalmeestersaak (grootliks as gevolg van respondente se gebrek aan samewerking), moes Sakeliga in Oktober verlede jaar ‘n verdere hofaansoek loods, op dringende grondslag, oor spesifiek die waterkrisis in Ditsobotla. Die twee sake kan nou saam aangehoor word.

In deel B van die aansoek oor wateringrepe, saamgelees met die betaalmeester-aansoek, vra Sakeliga dan op 23 en 24 Maart die hof dat:

  • Die nasionale regering kragtens artikel 139(7) van die Grondwet moet ingryp in die Ditsobotla- en Naledi-munisipaliteite
  • Hangende die behoorlike implementering van ‘n finansiële herstelplan soos deur die nasionale tesourie voorberei, ‘n spesiale meester – oftewel betaalmeester – invorderings vir dienste in ‘n aparte bankrekening by Ditsobotla en Naledi ontvang, welke inkomstes direk aan diensverskaffers uitbetaal moet word, onder toesig van die hof
  • Die nasionale regering moet toesien dat watertoevoer in Ditsobotla herstel word, by welke versuim gemeenskapsorganisasies gemagtig word om dit self te doen en alle redelike uitgawes kan terugeis by die munisipaliteit.

Sakeliga word bygestaan in ons hofaansoek oor watertoevoer in Ditsobotla deur twee mede-applikante, ‘n openbare belang-organisasie en ‘n plaaslike sakeman. Die respondente vertoon op ons kennisgewing van mosie, wat hier afgelaai kan word.

Lees meer oor die saak hier.

Lees meer oor ons betaalmeestersaak hier.

Argiewe