Begroting hou SA op koers vir fiskale krisis, strydig met president se ekonomiese plan – Sakeliga

Hierdie begroting stuur Suid-Afrika nie weg van fiskale krisis nie, ongeag hoeveel begrip ‘n mens vir minister van finansies Tito Mboweni se pogings om politieke druk te hanteer sou kon hê. 

Suid-Afrika se werklike begrotingstekort sal vanjaar byna 400% wees van die projeksie daarvan in die 2017/18 begroting, die laaste begroting gelewer deur voormalige minister van finansies Malusi Gigaba (sien eerste grafiek hieronder). Boonop verwag mnr Mboweni dat die begrotingstekort dan, vir ten minste drie verdere jare, tussen 200% en 300% van mnr Gigaba se slegste projeksies sal bly. As ons toe bekommerd was, moet ons nou vier maal so bekommerd wees.  

Van verdere belang is die skerp verskille tussen mnr Mboweni se begrotingsvoorstelle en president Cyril Ramaphosa se onlangs gepubliseerde Ekonomiese Heropbou- en Herstelplan. Byvoorbeeld, mnr Mboweni beraam dat die staatsdiens se salarisrekening met ‘n jaarlikse gemiddeld van 0,8% in die 2021-mediumtermynuitgaweraamwerk (MTEF) sal toeneem, maar mnr Ramaphosa se plan berus op “massa-indiensnameprogramme.” Om mnr Ramaphosa aan te haal: “Tradisionele vorme van staatsindiensname word uitgebrei en nuwe vorme van staatsindiensname word geskep.” Mnr Mboweni se teenstrydige beskouing van hoe die staat se salarisrekening behoort te lyk is sekerlik verkieslik, maar aangesien dit nie regeringsbeleid is nie sal dit nie realiseer nie. 

Oor die algemeen sal hierdie begroting verdiskonteer word deur analiste en sakelui as té optimisties, gegewe die onwrikbare verbintenis van die regering tot groter staatsinmenging en staatsbesteding. Die Suid-Afrikaanse fiskus is aan die verswak tot by verre sy slegste toestand ooit. Hierdie verswakking dreig nou ‘n beslissende deurbreking te word van die Bernholz-ratio, ‘n internasionale maatstaf vir naderende fiskale en geldeenheidkrisisse. 


Archives