Werkgewers is in ’n sterk posisie teen nuwe indiensnemingskwotas

53352935880_d2e3b77ffc_w

Minister van arbeid Thulas Nxesi se jongste diensbillikheidskwotas is so swak saamgestel en afgewater dat dit eintlik getuig van hoe swak die departement van arbeid se posisie is. Werkgewers is in ’n sterk posisie om verdere staatsinmenging by aanstellingsprosesse te vermy en teen te staan.

Die nuwe kwotas, soos vervat in die minister se jongste konsepregulasies, is bedoel om uiting te gee aan die gewysigde Wet op Diensbillikheid van 2023. Dié wet het ten doel dat die staat ondernemings dwing om werknemers volgens die regering se teikens vir ras en geslag aan te stel. Op papier sou die staat selfs boetes van tot 10% van omset kon oplê aan ondernemings wat aanhou om werknemers vryelik aan te stel.

In praktyk is die staat egter toegegooi onder staatsverval om elke hoek en draai. Nieteenstaande sy aansprake op sterk implementeringsvermoë, is die staat egter te swak selfs om net ’n samehangende stel regulasies te publiseer, wat nog te sê om die wet in werking gestel te kry en af te dwing.

Sakeliga staan die inwerkingtreding van sowel die Wysigingswet as die konsepregulasies teen (kyk hier vir ons verklaring oor die Wysigingswet).

Alhoewel die jongste regulasies ook onaanvaarbaar en skadelik is omdat dit groei en indiensname skaad, verteenwoordig dit egter reeds ’n drastiese terugslag vir Minister Nxesi. In Mei 2023 het hy in bladsy na bladsy gevul met tabelle vol persentasies ’n veelvoud van kwotas voorgestel vir mans en vrouens, onderverdeel vir bruin, swart en indiër persone, en dan verdeel oor 9 provinsies en 18 verskillende “sektore”.

Sakeliga se Missie: Bou Skaalbare Oplossings Teen Staatsverval

In die aangesig van omvattende plaaslike en internasionale weerstand het die Minister nou die Februarie 2024-weergawe gepubliseer. Sonder enige verduideliking wyk hy hiermee drasties af van sy vorige aspirasies. Die nuwe weergawe bevat slegs nasionale syfers en geen provinsiale indeling nie, en slegs spesifikasies vir mans, vrouens en gestremdes. Hoewel dit melding maak van “aangewese groepe” is daar in die regulasies geen duidelikheid oor hoe dit toegepas moet word nie.

Vandeesmaand se groot afwatering dui daarop dat die minister bewus is van die wesenlike probleme met sy beplande beleide. Soos Sakeliga se prokureurs verlede jaar aan hom uitgewys het, sou sy vorige regulasies substantief sowel as prosedureel in ’n regsproses sneuwel. Die nuwe weergawe verskil dalk op die oog af, maar dit het dieselfde substantiewe en prosedurele probleme as die vorige en behoort eweneens teruggetrek te word.

Sakeliga raai sakelui aan om ferm te bly en geen veranderinge aan hul indiensnemingsbeleide aan te bring vir die doeleindes van die Wysigingswet en die konsepregulasies nie. Gegewe die minister se klaarblyklike bereidwilligheid om sulke wilde spronge te doen in die ontwerp van sy kwotas is daar tans geen duidelikheid oor wat die uiteindelike regulasies is wat hy hoop om te maak nie, wat nog te sê die tydlyne waarteen hy dit in werking gestel sou kon kry nie.  Teenkanting vanuit die sakesektor en wyer het nou ’n terugtrede by die staat teweeg gebring. Hierdie druk moet volgehou word. Sowel die wetswysiging as die konsepregulasies bly hoogs aanvegbaar in litigasie, onuitvoerbaar in praktyk, en in algeheel teen die openbare belang.

Maak 'n kragtige en blywende ekonomiese impak.

Archives