Sakeliga eis onmiddellike terugtrekking van konsepregulasies oor billike indiensname 

Thulas Nxesi

Prokureurs vir Sakeliga het vandag aan minister Thulas Nxesi geskryf en hom gewaarsku dat sy regulasies oor sektorale teikens in die werksmag en die kommentaarproses daaroor onsamehangend en onverstaanbaar is en teruggetrek moet word. Indien hy dit nie terugtrek nie sal die regulasies, indien gepromulgeer, vatbaar wees vir regterlike hersiening. 

In die  konsepregulasies wat op 12 Mei gepubliseer is, poog die minister om raskwotas per industrie per provinsie te bepaal. Die regulasies volg op die onlangse wysiging van die Wet op Billike Indiensname om vir sektorale ras- en geslagskwotas voorsiening maak. Dit is egter so onsamehangend en wiskundig onverstaanbaar opgestel dat dit onmoontlik is om daarop kommentaar te lewer. Geen verduideliking is voorsien om te kan sin maak van die syfers nie. 

Sakeliga is gekant teen onredelike staatsinmenging in privaatondernemings. Die konsepregulasies en die instaatstellende wetgewing daarvoor maak voorsiening vir opdringerige ras- en geslagkwotas wat die Minister oënskynlik op enige besigheid met meer as 50 werknemers kan afdwing. Sakeliga is reeds besig om hofstukke voor te berei om die gewysigde Wet te laat hersien en die mees aanvegbare dele daarvan ter syde te laat stel. Die feit dat die konsepregulasies nog boonop onverstaanbaar en onsamehangend is, is verswarende omstandighede. 

In Sakeliga se aanmaning vandag aan die Minister wys ons daarop dat Sakeliga soos dit tans daaruit sien nie kan kommentaar lewer op die konsepregulasies nie en die res van die publiek sal waarskynlik ook nie kan nie.  Die proses om kommentaar in te win oor die regulasies is van meet af onregmatig en onbillik. Sakeliga eis daarom dat die konsepregulasies teruggetrek word en waarsku dat indien hy langs hierdie weg voortgaan die regulasies hersienbaar sal wees en ons die reg voorbehou om dit te laat hersien. 

Lees Sakeliga se prokureursbrief hier

Argiewe