Sakeliga vra dringende hofbevel om waterdienste te herstel en nasionale regering te dwing om by Lichtenburg in te gryp

theme-17

In ‘n verreikende dringende hofaansoek vra Sakeliga nou ‘n hofbevel wat die nasionale regering dwing om direk by die Ditsobotla plaaslike munisipaliteit (Lichtenburg en Coligny) in te gryp en wat gemeenskapsinstansies magtig om self noodingrepe te doen.

Die stukke vir die hofaansoek versoek magtiging vir gemeenskapsinstellings om op ‘n tussentydse basis by die lewering van waterdienste in die munisipaliteit in te gryp, en sluit ook die versoek in dat die ingrypingsproses deurlopend onder hoftoesig moet plaasvind. Sakeliga vra ook onder andere dat ‘n spesiale meester aangestel moet word indien regeringsingryping aanhou misluk.

Die onlangse ineenstorting in plaaslike regeringsvermoë in Ditsobotla dwing Sakeliga om sy reeds hangende regsprosesse te eskaleer na die hoogste vlak van ingryping waarvoor die Grondwet voorsiening maak. Die aansoek poog ook om van die politieke en administratiewe probleme wat met hierdie vlak van staatsverval gepaard gaan, te oorbrug.  

Sakeliga geniet breë ondersteuning vanuit die Lichtenburg en Coligny gemeenskappe en word ook in die aansoek ondersteun deur mede-applikante, insluitende die Sentrum vir Goeie Regering en Sosiale Geregtigheid (MSW), en veral ook sakelui in die twee dorpe.

Provinsie se mislukte ingryping ingevolge artikel 139(1)

Die hofaansoek, wat gister aan die presidensie en ander regeringsfere beteken is, kom te midde van grootskaalse regeringsinploffing in die Ditsobotla plaaslike munisipaliteit in Noordwes in September vanjaar. In die soveelste irrasionele en mislukte poging tot ingryping het die provinsiale regering in September besluit om die munisipale raad ingevolge artikel 139(1)(c) van die Grondwet te ontbind. Dít, desnieteenstaande die feit dat die munisipaliteit na bewering  stilweg  reeds in November 2021 onder gedwonge administrasie in terme van artikel 139(5) van die Grondwet geplaas is. Geen administrateur is in November 2021 aangestel nie en die provinsie het skynbaar eers begin met die proses om een aan te stel nadat die besluit in September vanjaar geneem is om die munisipale raad te ontbind.

Watervoorsiening het op talle plekke tot stilstand gekom, riool en vullis bou oral op, normale besigheid is ondraaglik, en medici waarsku oor ‘n moontlike gesondheidskrisis oor die gebrek aan watertoevoer aan die dorpe.

Provinsie se mislukte ingryping ingevolge artikel 139(5)

Die tot onlangs ongeopenbaarde artikel 139(5)-ingryping van November 2021 is van groot belang, omdat dit plaasgevind het te midde van die  betaalmeesterhofsaak wat Sakeliga in Junie 2021 ingestel het. Nie net het nóg die provinsie nóg enige van die ander respondente tydens byna ‘n jaar se litigasie aan Sakeliga openbaar dat artikel 139(5) toegepas is nie, maar het almal van hulle sowaar aangehou om Sakeliga se aansoek, dat die hof sodanige administrasie moet beveel, teen te staan.

Die aanvanklike betaalmeestersaak het deel uitgemaak van Sakeliga se strategiese litigasieplan teen plaaslike staatsverval, met die oog daarop om finansiële administrasie en kritieke dienslewering in mislukte munisipaliteite soos Ditsobotla onder beheer van onafhanklike ouditeure te plaas. Klik hier vir meer oor die betaalmeestersaak van 2021.

Die staat se kwaadwillige opponering van Sakeliga se 2021-betaalmeestersaak tel op verskeie wyses teen hom en sal in die hof geopper word. Prakties gesproke is die belangrikste feit nou egter dat sake onder die provinsie se beheer, ingevolge artikel 139(5), na 11 maande ooglopend slegs versleg het – die artikel 139(5)-ingryping het dus heeltemal misluk.

Waarvoor die Grondwet voorsiening maak: artikels 139(7) en 172

Die hoogste vlak van ingryping by mislukte munisipaliteite, waarvoor die Grondwet uitdruklik voorsien, is artikel 139(7). Ingevolge hierdie artikel is die nasionale regering verplig om direk in te gryp wanneer ligter ingrepe deur die provinsiale regering, voorgeskryf in artikels 139(1) tot 139(5), nie slaag nie.

Gegewe egter dat selfs hierdie hoogste uitdruklike ingreep in die Grondwet nie vinnig genoeg kritieke watervoorsiening gaan herstel óf sukses waarborg nie, vra Sakeliga die hof om verder te gaan, en wel ingevolge artikel 172 van die Grondwet. Artikel 172 bepaal dat die hof, deur regspraak, oplossings moet ontwikkel vir ongrondwetlike situasies waarvoor daar nie andersins voorsiening in wetgewing of die Grondwet bestaan nie. Algehele plaaslike munisipale verval, wat nie deur staatsoptrede ingevolge artikel 139 van die Grondwet opgelos word nie, verteenwoordig só ‘n situasie.

Wat Sakeliga nou vra: eskalasie van ingryping, gemeenskapsbehartiging en hoftoesig

Met verwysing na onder meer artikels 139 en 172 vra Sakeliga die hof derhalwe om

  • te bevind dat die provinsie se artikel 139(5)-ingryping misluk het;
  • die nasionale regering te beveel om ‘n artikel 139(7)-ingryping te doen;
  • kritieke tussentydse dienslewering, bepaald watervoorsiening, deur gemeenskapsinstansies te erken en, indien nodig, later uit te brei en selfs aan ‘n spesiale meester oor te dra;
  • toesig te hou oor die proses, met maandelikse rapportering deur die nasionale regering, onder eed, oor hul vordering; en
  • ander bevele te gee wat die hof gepas ag.

Drastiese versnelling in Sakeliga se strategiese litigasie

Na etlike staatsinstansies Sakeliga se betaalmeerstersaak sedert Junie 2021 kwaadwillig vertraag het, het die mislukking op alle vlakke van regering, om funksionele plaaslike regering te verseker, hulle ingehaal.

Die hofaansoek wat Sakeliga nou instel is ‘n drastiese versnelling van die strategiese munisipale litigasie waarmee Sakeliga besig is en waarmee ons regspraak vir toepassing dwarsoor die land wil skep. Dit eskaleer Ditsobotla se plaaslike staatsverval tot die hoogste vlak van ingryping waarvoor die Grondwet voorsiening maak en bied leiding in die skepping van regspraak waarmee die probleem, op den duur, volhoubaar opgelos kan word.

Sakeliga bly daartoe verbind om stapsgewys, al duur dit lank, ‘n regsraamwerk te skep waarbinne sakelui self hul plaaslike ekonomieë kan herstel, tot diens van plaaslike gemeenskappe en in die belang van ‘n stabiele samelewing.

Mede-applikante en ondersteuners uit die gemeenskap

Sakeliga word in die aansoek bygestaan deur twee mede-applikante, ‘n openbare belang-organisasie en ‘n plaaslike sakeman. Die openbare belang-organisasie, die eerste mede-applikant, is die Sentrum vir Goeie Regering en Sosiale Geregtigheid (MSW), verteenwoordig deur sy uitvoerende direkteur, mnr Mandla Boyce Mpempe. Die Sentrum onderneem openbare belang-litigasie ter bevordering van sy oogmerke en posisioneer homself onafhanklik en apolities.

Benewens die mede-applikante het Sakeliga se aansoek gebaat by bydraes deur persone en organisasies uit verskillende gemeenskappe in Ditsobotla, in besonder Agri Noordwes, die Lichtenburg Sakekamer en ander sakelui in Lichtenburg en Coligny. Ons spreek ons dank vir hierdie samewerking uit.

Klik hier vir die hofstukke in die jongste hofsaak, soos beteken op 6 Oktober 2022.

Argiewe