Sakeliga vat Eskom hof toe oor lasvermindering

sunset-g98ceb4b80_1920

Sakeliga, in samewerking met Agri Noord-Wes, TLU SA en geaffekteerde besighede, het vandag ‘n hofaansoek teen Eskom geloods om volgehoue lasvermindering op geteikende toevoerlyne stop te sit. Eskom staak nou al vir meer as ‘n jaar lank gereeld en vir ure aaneen direkte gebruikers op bepaalde toevoerlyne se kragtoevoer in ‘n oënskynlike poging om onwettige gebruik stop te sit en skuld in te vorder. In die proses word betalende eindgebruikers – gereeld besighede en boerderye – ook geteiken. Lasvermindering word bo-en-behalwe beurtkrag geïmplementeer en veroorsaak geweldige ontwrigting vir produksieprosesse en skade aan toerusting.  

Sakeliga het op 1 Augustus ‘n aanmaningsbrief aan Eskom gestuur en ‘n onderneming geëis dat onwettige lasvermindering op geïdentifiseerde toevoerlyne gestaak word. Eskom het geen antwoord op die aanmaningsbrief gelewer nie. Sakeliga het sedertdien ons regspan instruksie gegee om die hof te nader om sowel Eskom se lasverminderingsbeleid as die implementering daarvan onwettig en ongrondwetlik te verklaar en ter syde te stel. Agri Noord-Wes, TLU SA en ‘n geaffekteerde besigheid is mede-applikante in die hofaansoek wat vandag geliasseer is. 

Alhoewel die Wet op Regulering van Elektrisiteit voorsiening maak vir ‘n vorm van lasvermindering, mag dit nooit ‘n volledige staking van elektrisiteitstoevoer behels nie maar slegs ‘n gepaste vermindering in lasgrootte. Lasvermindering mag ook nie as ‘n as ‘n algehele skuldinvorderingsmeganisme gebruik word nie. Korrespondensie waartoe Sakeliga toegang verkry het dui daarop dat Eskom wel lasvermindering op toevoerlyne implementeer in ‘n poging om skuld in te vorder en onwettige gebruik stop te sit. In die proses word verskeie betalende eindgebruikers se elektrisiteitstoevoer vir ure aaneen gestaak.  

Sakeliga het al meermale suksesvol teen Eskom gelitigeer om betalende eindgebruikers te beskerm teen wanorde wat by en onder staatsorgane heers. In die geval van lasvermindering blyk dit dat Eskom nie oor die vermoë of bereidwilligheid beskik om daadwerklik probleme rondom onwettige gebruik en infrastruktuuropgradering te takel nie. Lasvermindering word dan eerder geïmplementeer om sowel onwettige as wettige direkte eindgebruikers te teiken. Hierdie stap is sowel irrasioneel as onbillik. 

Dit is onaanvaarbaar dat wettige eindgebruikers se besighede en lewensbestaan in die slag moet bly weens versuim en agteruitgang by Eskom. Ten spyte van die verval en bedreiging wat dit vir die ekonomie en besighede inhou kies die regering om ‘n statutêre monopolie oor elektrisiteitsvoorsiening te handhaaf in Eskom. Bo-op die onbestendigheid en verhoogde kostes wat beurtkrag reeds veroorsaak, word diegene op sekere toevoerlyne wat pligsgetrou elke maand hul elektrisiteitsrekeninge vereffen nou verder gestraf omdat Eskom nie hul infrastruktuur in stand hou nie en in gebreke bly om onwettige verbindings op toevoerlyne te verwyder.  

Sakeliga se nuutste hofsaak teen Eskom om lasvermindering te staak is ‘n tussentydse stap om verligting te bring. Besighede en die publiek in Suid-Afrika is uitgelewer is aan ‘n mensgemaakte kragkrisis veroorsaak deur die obstruksie van privaat elektrisiteitsvoorsiening, gepleeg deur die staat op wetgewende en uitvoerende vlak. Die groter regstryd wat Sakeliga daarom ondersoek is regsaksie om obstruksies tot alternatiewe elektrisiteit in Suid-Afrika uit die weg te ruim. Ons nooi sakelui en andere wat konkrete pogings wil aanwend om alternatiewe elektrisiteit op te wek, te versprei, te verkoop, of aan te koop en ‘n spesifieke behoeftes aan regsbystand op ‘n beginselgrondslag het, om ons te nader. Lees meer oor hierdie inisiatief hier

Argiewe