Sakeliga stuur aanmaning aan Eskom om onwettige lasvermindering te staak 

light-bulb-g2c7830223_1920

Sakeliga het gister ‘n aanmaning aan Eskom gestuur om die toepassing van onwettige lasvermindering, oftewel strafkrag, stop te sit. Sakeliga werk saam met Agri Noord-Wes en TLU SA om in belang van geaffekteerde lede van die drie organisasies in Noord-Wes en Limpopo, die onwettige implementering van lasvermindering stop te sit. Die geaffekteerde lede is meestal boere en klein besighede in landelike gebiede.  

Lasvermindering, wat onderskei moet word van die nasionale beurtkragprogram, is ‘n onlangse praktyk waarmee Eskom elektrisiteitstoevoer op geteikende toevoerlyne vir ure aaneen heeltemal staak. Die rede hiervoor is oënskynlik om te verhoed dat die netwerk in hoë-digtheidgebiede, waar daar talle onwettige aansluitings is, oorlaai word en skade aan netwerkinfrastruktuur aangerig word.  

Alhoewel die Wet op Regulering van Elektrisiteit voorsiening maak vir ‘n vorm van lasvermindering, mag dit nooit ‘n volledige staking van elektrisiteitstoevoer behels nie maar slegs ‘n gepaste vermindering in lasgrootte. Gebruikers moet ook deeglik vooraf in kennis gestel word. Eskom tree onwettig op deur elektrisiteitstoevoer op geteikende lyne heeltemal te staak en in baie gevalle nie redelike vooraf-kennisgewing te bied nie. 

Sakeliga, Agri Noord-Wes en TLU SA merk ook op dat dit gereeld landbouplase en kleiner organisasies, wat nie binne hoë-digtheid gebiede val nie, is wat aan voortdurende elektrisiteitstoevoeronderbrekings onderwerp word. Daarby beweer Eskom al vir maande dat lasvermindering ‘n tussentydse maatreël is vir tyd en wyl ‘n oudit op geïdentifiseerde toevoerlyne gedoen word sodat netwerkverliese tot ‘n aanvaarbare vlak verminder kan word. Dit kom egter voor of die voorgenome oudits nie gedoen word soos vooraf ooreengekom word met die boere nie, en dat Eskom nie beplan om binnekort lasvermindering te staak nie.  

Sakeliga glo dat Eskom die weg van minste weerstand probeer volg deur eerder betalende eindgebruikers aan elektrisiteitsonderbrekings onder die vaandel van lasvermindering te onderwerp, as om onwettige aansluitings op toevoerlyne daadwerklik uit die weg te ruim. Sodoende belemmer Eskom die vermoë van sy direkte en betalende eindgebruikers – veral landbouplase – om hul ondernemings te bedryf. Daarby word onherstelbare skade aan produksietoerusting aangerig weens onbeplande kragonderbrekings, en sukkel eienaars om sekuriteitsmaatreëls in reeds onveilige gebiede op hul persele te handhaaf.  

Eskom se optrede in hierdie verband is onaanvaarbaar, sowel as onwettig, en moet teen erkende regsbeginsels getoets word. Sakeliga het in die onlangse verlede suksesvol regstappe teen Eskom gedoen, juis weens die ongegronde benadeling van betalende eindgebruikers.* Dit word nou weer nodig om regstappe teen Eskom te doen.  

Ons eis daarom in gister se aanmaningskrywe dat Eskom binne 10 dae skriftelik onderneem om alle voorgenome oudits op geïdentifiseerde toevoerlyne binne drie maande af te handel. Eskom moet ook binne tien dae onderneem dat strafkrag onmiddellik gestaak sal word en dat hangende die afhandeling van die oudits, lasvermindering slegs volgens wetlike voorskrifte geïmplementeer sal word. In besonder mag lasvermindering nooit ‘n werklike staking van elektrisiteitstoevoer behels nie. 

By gebreke van dienooreenkomstige ondernemings van Eskom, sal Sakeliga die Hooggeregshof in Pretoria nader vir gepaste regshulp. 

Besighede en persone wat lasvermindering ervaar, word aangemoedig om hul besonderhede hier te voorsien. 

*By name, in 2018 in Musina waar Eskom elektrisiteitstoevoer aan onder andere betalende eindgebruikers wou staak weens ‘n dispuut tussen Eskom en die munisipaliteit oor ‘n eskalerende skuldrekening. In die daaropvolgende en aparte Resilient-saak in die Hoogste Hof van Appèl het Sakeliga as vriend van die hof submissies gemaak dat nóg Eskom nóg enige ander staatsinstelling eindgebruikers mag benadeel weens ‘n dispuut tussen staatsorgane. Die hof het saamgestem met Sakeliga se argumente, en daarvolgens beslis.  
 

Uitgereik deur: 
Tian Alberts 

Regs- en Skakelbeampte,  
Sakeliga 

Argiewe