Sakeliga stel dringende eise aan president en premier oor Lichtenburg-krisis

Sakeliga eis dringende, behoorlike ingryping deur die premier van Noordwes in die munisipale krisis in Lichtenburg, of in geval van sy versuim, deur die president van Suid-Afrika.

Die dringende aanmaning Vrydag deur Sakeliga se prokureurs volg nadat die provinsiale regering vandeesweek vir die soveelste keer ‘n waningryping gepleeg en ‘n akute krisis in die Ditsobotla munisipaliteit veroorsaak het. Die provinsiale regering het boonop die mislukte ingryping gedoen sonder om Sakeliga te raadpleeg en versuim nou reeds 18 maande lank om betekenisvolle interaksie te voer, nieteenstaande Sakeliga se hangende litigasie oor die situasie in die Ditsobotla munisipaliteit.

Feitlik alle munisipale administrasie en dienslewering het vandeesweek tot stilstand geknars, nadat die provinsiale regering op 15 September alweer verkeerdelik besluit het om diskresionêre ingryping ingevolge artikel 139(1) van die Grondwet toe te pas. Hierdie ingryping dra wél verantwoordelikheid vir munisipale bestuur aan die provinsiale regering oor, maar tog is geen kritieke stappe, soos die aanstelling van ‘n administrateur om die dorp se administrasie oor te neem, egter gedoen nie. Die besluit is boonop verkeerd omdat die Grondwet in artikel 139(5) ‘n ander, hewiger en verpligte intervensie voorskryf. Die provinsiale owerheid het nou egter die laaste oorblyfsels van funksionaliteit omvergewerp sonder om iets in plek daarvan te stel.

Gegewe die versuim deur die provinsiale regering is Sakeliga se prokureurskrywe aan sowel die president as die premier gerig. Die Grondwet bepaal in artikel 139(7) dat die nasionale regering moet ingryp waar ‘n provinsiale regering nie sy pligte oor munisipale ingryping nakom nie.

In die skrywe versoek Sakeliga ‘n vergadering met regeringsverteenwoordigers, op 27 September 2022 om 09:00. Intussen eis Sakeliga dat:

  1. Die provinsiale regering onverwyld nie diskresionêre ingryping nie, maar verpligte ingryping ingevolge artikel 139(5) toepas, soos vereis deur die Grondwet in gevalle waar munisipaliteite finansieel en operasioneel inplof;
  2. In geval dat die provinsie nie ‘n 139(5)-ingryping doen nie, die nasionale regering ‘n artikel 139(7)-ingryping instel, soos vereis deur die Grondwet in gevalle waar provinsiale regerings versuim om hul pligte na te kom;
  3. ‘n Administrateur teen nie later as 27 September 2022 aangestel word nie;
  4. Die provinsiale owerheid teen nie later as 27 September ‘n voldoende bedrag uit die sogenaamde billike deel-belastinggeld wat Ditsobotla toekom aan hulle oorbetaal, vir betaling van salarisse;
  5. Die administrateur teen nie later as 28 September 2022 gemagtig word om salarisse te betaal en beheer oor diensleweringsfunksies te neem; en
  6. Die administrateur instruksie ontvang om met Sakeliga en die inwoners van Ditsobotla te vergader om die probleme en oplossings daarvoor te bespreek.

Sakeliga het die regering tot Maandag, 26 September 2022 om 10:00, gegee om op die brief te reageer. Sakeliga het die geadresseerdes ook in kennis gestel dat Sakeliga die reg, om die hooggeregshof op ‘n dringende grondslag om konstitusionele, verklarende of verpligtende regshulp te nader, voorbehou. Klik hier vir die volledige brief.

Intussen gaan Sakeliga se regsaak, om ‘n spesiale meester in Ditsobotla en Naledi (Vryburg) aan te stel, ook voort. In die saak versoek Sakeliga ‘n gestruktureerde interdik ingevolge waarvan die hof konstitusionele toesig neem van ingryping om ordentlike munisipale bestuur te herstel. As deel daarvan versoek Sakeliga die hof om onafhanklike ouditeure opdrag te gee om, as sogenaamde spesiale meester, die mees noodsaaklike finansiële administrasie oor te neem, totdat ‘n behoorlike ingryping plaasgevind het. Die saak vorder stelselmatig, nieteenstaande meerdere regeringsfere se voortdurende vertragingstaktieke. Die saak is intussen vir saakbestuur aan ‘n regter toegeken, om oor vordering toesig te hou, en ‘n ontmoeting is vir 17 November 2022 geskeduleer. Sakeliga se jongste regskrywe verleen verdere momentum aan die hangende saak. Vir meer oor die hangende saak, klik hier.

Argiewe