Sakeliga-ramptoestandsaak: Dlamini-Zuma wend haar tot desperate vertragingstaktiek om tronkstraf te vermy 

binding-contract-g3b499a953_1920

Na weke se minagting van ‘n finale hofbevel om aan Sakeliga rekords van haar besluitneming oor die regering se Covid-ramptoestand te lewer, wil Dr. Nkosazana-Dlamini Zuma, minister van samewerkende regering, nou daardie hofbevel ten volle of gedeeltelik ter syde laat stel. Dit is ‘n desperate poging van die minister om tronkstraf en die lewering van Covid-ramptoestandrekords te vermy. 

Sakeliga het reeds ons prokureurs instruksie gegee om enige dergelike hofaansoek van Dlamini-Zuma te opponeer en terselfdertyd voort te gaan met ons eie aansoek om Dlamini-Zuma aan minagting van die hof skuldig te bevind. Sakeliga sal die hof vra om ‘n bestraffende kostebevel teen die minister te maak. 

Dlamini-Zuma moes kragtens ‘n bevel wat Sakeliga op 9 November 2022 bekom het ‘n verskeidenheid rekords waarop sy gesteun het toe sy die nasionale ramptoestand in Maart 2020 afgekondig het en telkens daarna verleng het, teen 22 Desember 2022 aan Sakeliga oorhandig. Die minister het Sakeliga sedertdien probeer paai deur nietersaaklike rekords te lewer wat reeds in die openbare domein beskikbaar is. Toe dit egter duidelik word dat Sakeliga volhard met ‘n regsproses om die minister aan minagting van die hof skuldig te bevind en dat sy tronkstraf in die gesig staar, het sy kwansuis ‘n nuwe regspan aangestel met voorneme om die November 2022-hofbevel “ter syde te stel en/of te wysig”.  

Die oënskynlike gronde waarop die minister se voorgenome aansoek om ter sydstelling berus is onsamehangend en verwyderd van die feite van die saak en wetsbepalings en dus kenmerkend van ‘n vertragingstaktiek om verantwoordbaarheid te vermy. Dit volg ook op ‘n regstryd van meer as 2 jaar waarin Sakeliga geseëvier het, maar wat deurspek was met die regering se misbruik van hofreëls en vertragingstaktieke, soos om onreëlmatige kennisgewings van beswaar te liasseer en dit later terug te trek.  

Prokureurs vir Sakeliga het die staatsprokureur aangemaan om die minister se tersydestellingsaansoek teen 6 Februarie te liasseer, en dat Sakeliga intussen voortgaan met ons eie aansoek om Dlamini-Zuma aan minagting van die hof skuldig te bevind.  
 

Argiewe