Sakeliga maan Eskom aan oor Tshwane-dreigemente

afribusiness-launches-paia-application-against-eskom

Sakeliga het Eskom in ‘n prokureurskrywe gewaarsku dat enige poging om elektrisiteitstoevoer na die Tshwane metropool te staak, tot dringende litigasie sal lei.

Sakeliga se brief volg op herhaaldelike dreigemente die afgelope dae deur Eskom dat dit alle elektrisiteitstoevoer na Tshwane kan afsny vanweë dié metropolitaanse owerheid se agterstallige skuld. Die dreigement van Eskom sluit in dat dit elektrisiteit na betalende sakelui en ander      gebruikers wil onderbreek. Sakeliga ondersteun wettige en rasionele skuldinvordering deur Eskom, nie sulke algehele dreigemente wat sowel onwettig as irrasioneel is nie.

Eskom se dreigement dat dit Tshwane se elektrisiteitstoevoer geheel en al sal afskakel is ’n skadelike,  onwettige en irrasionele taktiek om betalende sakelui en ander gebruikers gyselaar te hou ten einde munisipale skuld te verhaal. Dit is uiters ontwrigtend vir ekonomiese aktiwiteite, want al het sakelui en ander gebruikers reeds hul rekeninge betaal, moet hulle nou steeds voorberei op kragonderbrekings. En deur sakelui en andere wat reeds betaal het se krag ook af te skakel skep Eskom ‘n donker spiraal van ekonomiese ineenstorting wat juis diegene wat wél betaal ook benadeel en hul vermoë om rekeninge te betaal ondermyn. Dit is onaanvaarbaar dat betalende elektrisiteitsgebruikers en ‘n hele ekonomiese omgewing weens ‘n geskil tussen twee staatsorgane benadeel word.

In die brief wys Sakeliga Eskom op regspraak wat Sakeliga nou oor etlike jare en by meerdere geleenthede help ontwikkel het, ingevolge waarvan Eskom verplig word om interregeringsgeskilbeslegting toe te pas en rasionele invorderingsmetodes te volg. Só het die Hoogste Hof van Appèl in 2020 in die gevolgryke Resilient-saak teen Eskom bevind, waarin Sakeliga as amicus curiae opgetree het. Die betalende eindgebruiker se toegang tot kritieke dienste, waarvoor betaal is, mag nie in die slag bly nie.

Sakeliga se prokureursbrief beklemtoon Eskom se konstitusionele verpligtinge en versoek ‘n vergadering met die uitvoerende bestuur van Eskom, sodat alternatiewe oplossings bespreek kan word. Sakeliga is ten gunste van rasionele skuldinvordering en streng, maar wettige maatreëls deur munisipaliteite en Eskom om wanbetalers vas te vat. Sou Eskom egter besluit om hul onwettige en iraasionele dreigement om elektrisiteitstoevoer na die hele Tshwane-metropool te staak uit te voer, sal ons in belang van ons lede en besighede en die publiek in die algemeen, regstappe doen.

Argiewe