Sakeliga maak regshulppakket vir KMMO’s beskikbaar

pexels-photo-872957

Die sakegroep, Sakeliga, het vandag ‘n regshulppakket vir informele, klein en mediumgrootte ondernemings aangekondig, vir die voortsetting van “noodsaaklike” sakebedrywighede. Die hulppakket halveer die koste van regsmenings oor noodsaaklike dienste en voorsien sakelui van ‘n sertifikaat wat al die nodige inligting kan bevat om oop te bly.

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, sê hulle het reeds senior advokate se advies oor die regulatoriese raamwerk ingewin: “Nou het ons ‘n voorlopige R100 000 ekstra beskikbaar gemaak, waarmee ons 50% van die koste sal dra om gespesialiseerde regsmenings by KMMO’s individueel uit te kry.”

Die geld vorm deel van R500 000 se Covid-19-hulp wat Sakeliga gister aangekondig het.

Ondernemings wat die sertifikaat en regshulp wil bekom kan Sakeliga se Covid-19-webblad besoek, by https://staging.radiantweb.co.za/sakeliga/en/essential-services-certficate/

Ondernemings wat tans besigheid doen kan hulself ook gaan lys op Sakeliga se platform vir noodsaaklike dienste, by www.noodsaaklik.co.za.

Duidelikheid dringend nodig 

“Besighede moet weet watter van hul aktiwiteite as noodsaaklik kwalifiseer. En wetstoepassers moet bygestaan word om dit korrek te interpreteer. Met hierdie sertifikate en regsmenings wil Sakeliga die verwarring van die onduidelike en dikwels teenstrydige regulasies omkeer, sodat besigheid kan voortgaan,” sê Le Roux.

“Ons moedig veral informele, klein en mediumgrootte ondernemings aan om van die diens gebruik te maak. Met laer regskoste kan klein besighede makliker hul deure oop hou. Duisende besighede word tans belemmer om noodsaaklike onderhoud, goedere en dienste te verrig,” vervolg Le Roux.

Sakeliga wys daarop dat baie besighede – byvoorbeeld sogenaamde informele besighede, eenmansake, trusts en vennootskappe – tans geen eenvoudige wyse het waarop hulle dokumentasie in orde kan kry om sogenaamde noodsaaklike aktiwiteite te verrig nie.

“Die CIPC-sertifiseringsproses, wat volgens ons regsadviseurs in elk geval ultra vires is, is slegs beskikbaar vir enkele regsvorme, soos maatskappye. Meeste besighede is en was nog nooit by die CIPC geregistreer nie. Sakeliga wil met hierdie sertifikaat en regshulp ondernemings en wetstoepassers bystaan om, binne die regulasies, die lewering van noodsaaklike onderhoud, goedere en dienste so maklik as moontlik te maak,” sê Le Roux.

Oorval met navrae 

Sakeliga is die afgelope twee weke oorval met navrae deur ondernemings wat wou weet of hul aktiwiteite as noodsaaklik kwalifiseer. Baie besighede is verbied om met hul sake voort te gaan, selfs al kwalifiseer hulle as noodsaaklik.

Sakeliga het reeds verskeie skrywes oor die skadelikheid en onnodigheid van die sertifiseringsproses vir besighede aan die Ministers van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, van Handel, Nywerheid en Mededinging, van Polisie en ander geskryf.

“Tog word die nodige regstellings en duidelikheid hieroor nie verskaf nie. Trouens, die jongste uitbreidings aan die regulasies maak dit prosesgewys vir baie ondernemings – insluitende informele handelaars – ‘n administratiewe nagmerrie om “noodsaaklike” goedere en dienste te verrig. Ons regshulppakket is een van die stappe wat ons neem om hierdie toedrag van sake om te keer.”

Besoek www.sakeliga.co.za/covid19 om die sertifikaat en regshulp te bekom.

Archives