Sakeliga kondig R5m-loodsprojek vir kommersiële arbitrasie in Pretoria aan

law

Die sake-organisasie Sakeliga kondig môre ‘n loodsprojek met meer as R5 miljoen se pro deo* (gratis) arbiterdienste vir kommersiële arbitrasie in Pretoria aan.  

Die projek het ten doel om die reuse agterstande met kommersiële regspleging in Suid-Afrika, wat die ekonomie ernstig kniehalter, te help oplos. Partye met verhoorryp sake in die Pretoria Hooggeregshof, oor ‘n kommersiële aangeleentheid, word genooi om hul geskille na ‘n geskikte arbiter op Sakeliga se arbiterlys te verwys. 

“Daar is verskeie kommersiële partye op die hofrol wat nou al maande op ‘n hofdatum wag, maar ook nie honderde duisende rande op arbitrasie kan bestee nie. Sakeliga se arbitrasieprojek maak dit vir daardie partye moontlik om sonder bykomende koste hul geskille te laat besleg, deur ervare advokate en prokureurs wat bereid is om pro deo* op te tree. Dit is bemoedigend dat die regslui wat ons genader het so geredelik na vore getree het en die projek nou van stapel gestuur kan word,” sê Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga. 

Vir die loodsprojek het rondom veertig advokate en prokureurs in Pretoria, waaronder  20 senior advokate, hul dienste as arbiters pro deo, oftewel kosteloos in belang van die regspleging en gemeenskaplike goeie, aangebied. Die dienste is beskikbaar vir verhore wat binne drie dae afgehandel kan word en val binne die spesialisvelde van die arbiters. Saam gereken, beloop die waarde van die dienste wat die arbiters pro deo aanbied meer as R5 miljoen. 

Sakeliga het die ontwikkeling van sy arbitrasieprojek bespoedig nadat dit aan die lig gekom het dat sowel die Pretoria Landdroshof as die Hooggeregshof vir ‘n geruime tyd geweier het om bestrede sake aan te hoor, oënskynlik met verwysing na Covid-19. Hierdie howe het intussen aangekondig dat alle sake weer aangehoor word, maar staar nou groot agterstande in die gesig wat al oor jare opbou. 

“Alhoewel alle sake weer in die Pretoria Hooggeregshof aangehoor mag word, is daar ‘n reuse bottelnek op die hofrol. Sommige partye moet nou tot twee jaar op ‘n hofdatum wag. Dit hou groot risiko’s vir besighede met sake op die agterstallige hofrol in – veral waar verhaalbare bedrae en afdwinging van ooreenkomste ter sprake is. Sakeliga se arbitrasieprojek is ontwikkel sodat regslui op ‘n selfstandige wyse, in gemeenskaplike belang, die bottelnek kan oplos. Indien die loodsprojek genoeg aanvraag geniet, sal dit aangepas en uitgebrei word, wat kostedoeltreffende finansiering en vergoeding vir arbiters kan insluit.” 

Partye en regslui wat geskille na Sakeliga se arbitrasienetwerk wil verwys, kan ‘n eenvoudige proses volg deur https://sakeliga.co.za/arbitrasie te besoek. Sake kom slegs in aanmerking indien dit: 

  • verhoorryp in die Pretoria Hooggeregshof is; 
  • kommersieel van aard is; 
  • die instemming van alle partye tot die saak, via Sakeliga se platform, bekom is; en;
  • verhore behels wat na verwagting een tot drie dae sal duur. 

Sakeliga se bekendstellingsfunksie vir die arbitrasieloodsprojek sal Dinsdag 19 Oktober 2021 om 10:00 begin en kan by hierdie skakel gevolg word. 

*In die Suid-Afrikaanse reg kom daar hoofsaaklik drie vorme van kostelose of kosteverminderde regsdienste voor: pro amico (ten behoewe van ‘n vriend), pro bono (ten behoewe van ‘n verdienstelike persoon) en pro deo (ten behoewe van ‘n verdienstelike saak, in besonder die gemeenskaplike goeie). Omdat die dienste wat die regslui in hierdie arbitrasieprojek kosteloos gelewer word in belang van die regspleging self en die gemene goeie in die samelewing is, is pro deo die aangewese term. 

Archives