Sakeliga-hofsaak: Dlamini-Zuma volhard in vertragingstaktiek om inperkingsrekords te weerhou

Sakeliga sukkel nou al etlike maande om die samewerking te kry van Minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, in ‘n hofsaak wat Sakeliga al op 5 Augustus 2021 van stapel gestuur het om die Minister te verplig om bepaalde rekords van besluitneming oor inperkingsregulasies openbaar te maak. Nadat die Minister meer as 50 hofdae* laat was met die liassering van haar kennisgewing van opponering en nou al meer as 10 hofdae laat is met die liassering van haar antwoordende eedsverklaring, wend sy haar nou tot verdere vertragingstaktieke om daartoe te sien dat rekords van besluitneming oor inperkingsregulasies verlede jaar nie gou die lig sien nie.

Soos uiteengesit in Sakeliga se prokureurskrywe aan die staatsprokureur, is die mees onlangse vertagingstaktiek die oppering van merietelose klagtes oor tegniese aspekte van Sakeliga se kennisgewing van mosie, wat hoegenaamd nie van toepassing is op die tersaaklike tipe hofaansoek nie.

Sakeliga se hofsaak teen die Minister kom nadat sy botweg geweier het om enige rekords van besluitneming rondom inperkingsmaatrëls deur Sakeliga versoek kragtens die Wet op Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA), te voorsien. Sakeliga het reeds op 15 Desember 2020 – meer as ‘n jaar gelede – rekords, redes, beraadslagings en dokumentasie versoek waarop die minister gesteun het toe sy onder meer die volgende besluite en regulasies gemaak het:

  • Eerste inperkingsregulasies van 15 Maart 2021
  • Die verlenging en uitbreiding van die verklaring van ‘n nasionale ramptoestand soos onderskeidelik gepubliseer in die Staatskoerant op 5 Junie 2020, 13 Julie 2020, 15 Augustus 2020, 14 September 2020, 14 Oktober 2020, 15 November 2020 en 11 Desember 2020
  • Verskeie inperkingsregulasies in 2020 gepubliseer, wat onder meer verband hou met die toemaak van sekere besighede en die verbod op verkoop van sekere produkte.

Die Minister het ‘n blanko-weiering aangedui om enige rekords te voorsien, kwansuis omdat dit alles deur kabinetspriviligie gedek word. ‘n Jaar nadat die oorspronklike PAIA-versoek aan die Minister gerig is vertraag die Minister nou die lewering van haar antwoordende eedsverklarings in die hofsaak om die Minister te verplig om rekord te lewer.

Sakeliga wil hierdie rekords van besluitneming openbaar en ontleed sodat dit, indien nodig, in die openbare debat en moontlik regsaksie gebruik kan word om die skade van inperkingsbesluite te beperk.

Die rekords  kan ook help om skadelike beleide stop te sit en toekomstige skade te verhoed. In elk geval mag en moet besighede en verbruikers weet op watter gronde hulle vir uitgebreide tydperke hul besighede moes sluit, nie werk toe kon gaan nie, hul werke verloor het, en selfs waarom hulle – banaal genoeg – nie sekere produkte soos warm hoender mag gekoop of verkoop het nie.

Sakeliga het reeds ‘n kennisgewing by die Hooggeregshof in Pretoria geliasseer om die Minister se onreëlmatige klagte oor tegniese aspekte van Sakeliga se kennisgewing van mosie, ter syde te laat stel. Indien die Minister se regspan versuim om binne 10 hofdae die klagte, wat nou die saak vertraag, self terug te trek, sal Sakeliga voortgaan om die hof te nader vir ‘n bevel om die klagte ter syde te stel sodat die saak onverwyld kan voortgaan.

*’n “Hofdag” is enige dag wat nie ’n Saterdag, Sondag of openbare vakansiedag is nie.


Uitgereik deur:

Tian Alberts: Regs- en Skakelbempte, Sakeliga
[email protected]

Archives