Sakeliga bring hofaansoek vir Dlamini-Zuma se Covid-bevelsraadrekords

Files

Die sakegroep Sakeliga het ‘n hofaansoek gebring om die regering te dwing om sy gronde vir die staat van inperking, rampbestuursregulasies en grendelstaatvlakke openbaar te maak.  

Die hofaansoek vorm deel van ‘n proses, ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting, om dr. Nkosazana Dlamini-Zuma se rekords van besluitneming oor die grendelstaat en alle rampbestuursregulasies te bekom. Ingevolge die Wet op Rampbestuur is Dlamini-Zuma as Minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake die verantwoordelike persoon vir die uitvaardiging van hierdie regulasies. 

“Die doelpale, vir wanneer die inperking opgehef moet word, skuif aanhoudend. President Cyril Ramaphosa se standpunt hierdie afgelope Sondag dat die inperking sal voortduur totdat ‘n aanvaarbare hoeveelheid persone ingeënt is, weerspreek die vroeëre rasionaal dat inperkings ‘n tydelike stap is en net ten doel het om infeksiegolwe af te plat. Hierdie vorige standaard, asook hospitaalkapasiteit en aantal sterftes, skuif nou op onverklaarde wyse op die agtergrond. Die verskuiwing van doelpale, sonder deursigtigheid, is nadelig vir die maatskaplike, ekonomiese en konstitusionele orde,” sê Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga. 

Sakeliga beoog om die inligting wat met hierdie proses bekom word openbaar te maak vir die oorweging van burgerlike samelewing en algemene publiek.  

“Die ingrypende inperkings, die koste daarvan, en nou die sprake van inentingsdwang is faktore wat met groot sorg nagegaan moet word. Die besluite wat daartoe gelei het dat nagenoeg 2 miljoen meer mense vandag sonder werk sit as begin verlede jaar moet deeglik ondersoek word. Tog het President Ramaphosa sedert die begin van die inperking nog nie een mediakonferensie gehou om vrae oor die regering se strategie te beantwoord nie. Daar heers ‘n sluier van geheimsinnigheid oor die neem en wysiging van inperkingsbesluite. Die hofaansoek is daarom daarop gerig om die persoon wat wetlik vir die besluite verantwoordelik is, Minister Dlamini-Zuma, te dwing om haar rekords van besluitneming vir openbare insae beskikbaar te maak,” sê Le Roux. 

Ter regverdiging van haar weiering om die inligting aan Sakeliga openbaar te maak het Minister Dlamini-Zuma haar gewend tot die bewering dat haar besluite deur kabinetsprivilegie beskerm word. Dit kan egter nie die geval wees vir al die inligting relevant tot haar besluite nie, aangesien die wet duidelik is dat sy in die uitvaardiging van regulasies haar oordeel moet uitoefen. Nie alles wat relevant is kan deur kabinetsprivilegie gedek word nie. Sakeliga versoek die hof daarom om haar te dwing om die rekords van besluitneming, wat nie deur kabinetsprivilegie beskerm word nie, beskikbaar te maak. 

Sakeliga wil hierdie rekords openbaar en ontleed, sodat dit, indien nodig in die openbare debat en moontlik regsaksie gebruik kan word om die skade van inperkingsbesluite te beperk.  

“’n Mens kan waarskynlik min aan die skade doen wat reeds met swak besluitneming aangerig is, maar die rekords kan help om skadelike beleide stop te sit en toekomstige skade te verhoed. Besighede en verbruikers mag en moet weet op watter gronde hulle vir uitgebreide tydperke hul besighede moes sluit, nie werk toe kon gaan nie, hul werke verloor het, en selfs waarom hulle – banaal genoeg – nie sekere produkte soos warm hoender mag gekoop of verkoop het nie,” sluit Le Roux af. 

Die Minister het nou geleentheid om opponerende stukke by die hof in te dien.  

Laai Sakeliga se hofstukke hier af. 

Argiewe