Sakeliga daag Mogalakwena munisipale bestuurder voor hof oor minagting

theme-22

Sakeliga het ‘n hofaansoek in die Hooggeregshof in Polokwane gebring om die waarnemende munisipale bestuurder van die Mogalakwena Plaaslike Munisipaliteit in Limpopo aan minagting van die hof skuldig te bevind.

Die aansoek volg op ‘n hofbevel wat Sakeliga op 18 Januarie vanjaar bekom het, om die munisipale bestuurder te verplig om verskeie rekords soos finansiële verslae en raadsbesluite aan Sakeliga te oorhandig. Die hofbevel volg op ‘n onbeantwoorde versoek kragtens die Wet op Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) wat Sakeliga reeds in Mei verlede jaar aan die munisipaliteit gerig het. Sakeliga het die versoek gerig na aanleiding van samewerking met die Mokopane Sakekamer.

Die 18 Januarie-bevel, wat deur Sakeliga aan die munisipale bestuurder per balju beteken is, het die munisipale bestuurder gelas om binne 30 dae die rekords in die oorspronklike PAIA-versoek te voorsien. Die munisipale bestuurder het skynbaar die bevel geïgnoreer. Ons vra derhalwe dat die hof die munisipale bestuurder nou tronkstraf oplê, sou die rekords nie binne ‘n sekere aantal dae soos deur die hof bepaal, gelewer word nie.

Sakeliga se aanvanklike rekordversoek op 18 Mei 2021 het ondanks verskeie aanmanings ná die betekening van die PAIA-versoek per balju onbeantwoord gebly. Die PAIA-versoek dek heelwat rekords wat die gemeenskap in staat sal stel om ‘n totale gebrek aan finansiële bestuur by die munisipaliteit aan te spreek met litigasie en ander stappe.

Meer as ‘n jaar en ‘n hofbevel in Sakeliga se guns later, het die munisipaliteit nog nie met die rekords vorendag gekom nie.

Daar is geen rede in goeie regeringsbestuur waarom Sakeliga ‘n staatsorgaan behoort te dwing om aan ‘n hofbevel gehoor te gee nie. Oor meer as ‘n jaar se versuim en ook minagting van ‘n hofbevel om eenvoudige rekords te oorhandig waaroor enige munisipaliteit wetlik behoort te beskik en vir die publiek beskikbaar moet stel, is daar ‘n paar ooglopende afleidings wat Sakeliga kan maak. Dit sluit in, naamlik, dat die Mogalakwena munisipaliteit tot so ‘n mate verval het dat dit nie die vermoë het om basiese rekords beskikbaar te stel nie, of dat daardie rekords nie bestaan nie, of dat die rekords so inkriminerend is dat die munisipaliteit dit eerder sal weerhou selfs in weerwil van ‘n hofbevel.

Indien die rekords nie bestaan nie, sou dit nie net bevestiging van ‘n totale gebrek aan finansiële bestuur daarstel nie, maar ook bevestiging van afwesigheid van enige georganiseerde munisipale bestuur.

Sakeliga merk ‘n tendens in sowel Limpopo as in Noord-Wes op dat munisipaliteite eenvoudig nie oor die vermoë en/of bereidwilligheid beskik om aan basiese inligtingversoeke kragtens PAIA gehoor te gee nie. Sakeliga moes byvoorbeeld in November verlede jaar ook minagting van die hof verrigtinge van stapel stuur om die Kgetlengrivier Plaaslike Munisipaliteit in Noord-Wes te dwing om rekords kragtens ‘n vorige hofbevel en inligtingsversoek te oorhandig. Die munisipaliteit het gevolglik die meeste van die rekords oorhandig, terwyl ‘n hele aantal rekords klaarblyklik nie bestaan nie.

Dit kom voor of die Mogalakwena munisipaliteit in Limpopo nie oor die vermoë beskik om sy basiese wetlike pligte en selfs hofbevele na te kom nie. Hierdie mate van verval belemmer regspleging en plaaslike sakesekerheid.

Argiewe