Sakeliga bied paneelgesprek aan oor Onteieningswetsontwerp en wysiging van artikel 25 van die Grondwet

NUL RAND NOOT

Tian Alberts  

ONTEIENING, KONFISKERING, BESLAGLEGGINGS EN DIE WAARDE VAN EIENDOM 

Die sakeorganisasie Sakeliga het op Dinsdag, 30 Maart 2021 ‘n regstreekse paneelgesprek op sy Facebook-blad gehou, waartydens verskeie brandpunte rondom die omstrede Onteieningswetsontwerp en wysigings aan artikel 25 van die Grondwet bespreek is. Dit volg na twee sterk parlementêre voorleggings deur Sakeliga tydens verlede week se openbare verhore. Verskeie kwessies wat Sakeliga tydens sy voorlegging uitgelig het, is verder onder die loep geneem. Die deelnemers by hierdie geleentheid was Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, prof. Koos Malan, professor in Publiekreg aan die Universiteit van Pretoria, en Martin van Staden, regsgenoot by Sakeliga.

Van Staden se kommentaar het ag geslaan op die verskynsel van fraus legis – ‘n wanvoorstelling in die reg met die oog daarop om die reg self te bedrieg en die werking van die reg te verydel. In die konteks van onteiening sonder vergoeding, kom dit daarop neer dat indien die Parlement besluit om voort te gaan met die wysiging van die Grondwet om sogenaamde “onteiening sonder vergoeding” moontlik te maak, dit ‘n handeling in fraudem legis sal wees, aangesien onteiening en vergoeding onskeidbaar is en onteiening teen “nul waarde” eintlik neerkom op konfiskasie of verbeurdverklaring van bates. Met ander woorde, wanneer sogenaamde “onteiening onder vergoeding” ter sprake is, is dit eintlik die verbeurdverklaring van bates aan die staat onder die dekmantel van die term “onteiening”, wat nog altyd met vergoeding gepaard gegaan het.

Die Parlement sou op hierdie trant onder die vaandel van ‘n onaanvegbare begrip van “onteiening”, ‘n aanvegbare, onkonstitusionele  beginsel – konfiskasie van wettige eienaars se grond – tot  die Grondwet bywerk. Daar word sodoende wegbeweeg van onteiening in die korrekte sin daarvan, na die domein van bateverbeuring soos waar die staat bates wat tydens ‘n misdaad aangewend is tipies konfiskeer. Dit beteken dat indien die Grondwet gewysig word om voorsiening te maak vir sogenaamde onteiening sonder vergoeding, die wysiging besmet word deur bedrog. Dit is, ipso facto, ongeldig. Konstitusionaliste van alle strepe uit die burgerlike samelewing, hier en in die buiteland, moet die wysiging teenstaan en moet onverpoos daaraan werk om dit te herroep, en om grondwetlike legitimiteit te herstel.

Professor Malan het deurlopend geargumenteer dat die voorgestelde wysiging van die Grondwet indruis teen die fundamentele idee van konstitusionalisme, want dit doen weg met die waarde van burgerskap deurdat mense gereduseer word tot onderdane van die staat wat tevrede moet wees met die staat se ongebreidelde mag.

“Jy kan enige optrede bestempel met ‘n aangenaam klinkende etiket… maar die Parlement wat dit [in die eerste plek] deurgevoer het, het eintlik afbreuk gedoen aan die inherente aard van die konstitusie sodanig,” meen Malan. “In vorm kan dit nog ‘n konstitusie wees, maar in wese is dit iets anders”.

Malan beklemtoon dat aangesien die Grondwet juis weggedoen het met die beginsel van parlementêre soewereiniteit in die 1990s, die aanvaarding van onteiening sonder vergoeding selfs met ‘n tweederdemeerderheidstem in die Parlement inherent onkonstitusioneel sal wees omdat dit wegdoen met die fundamentele uitgangspunte van ‘n regstaat en konstitusionalisme.

Die deelnemers was dit eens dat vanweë georganiseerde burgerlike teenstand teen onteiening sonder vergoeding wat oor demografiese grense heen strek, asook vanweë uitbundige ekonomiese realiteite, die regering nie so ‘n grondwetlike wysiging sal kan implementeer nie.

“Die punt is dat ons moet nie dink dat al die mag by die regering lê om ingevolge ‘n grondwetlike wysiging te doen wat hy wil nie. Mag is verspreid oor die hele gemeenskap heen,” sê Malan.

Ter samevatting het Le Roux daarop gewys dat die konstitusionele praktyk altyd meer weeg as die onkonstitusionele teks, en dat die burgerlike samelewing nie onder enige omstandighede onteiening sonder vergoeding, oftewel konfiskering van bates, as praktyk in ons konstitusionele bestel sal aanvaar nie. ‘n Wysiging van die Grondwet wat die weg baan na onwettige onteiening, sal op alle wettige maniere teengestaan word.

Opsommend: 

Kyk hier na Sakeliga se voorleggings by die Parlement oor die voorgestelde wysiging van die Grondwet.

Archives