Regering vergader Vrydag met Sakeliga oor Lichtenburg-krisis

pexels-photo-872957

Die staatsprokureur en regeringslui vergader op Vrydag 30 September oor die krisis in Lichtenburg en die groter Ditsobotla plaaslike munisipaliteit.

Die vergadering spruit uit eise wat Sakeliga op 23 September gestel het, vir die dringende regstel van die Noordwes provinsie se chaotiese en irrasionele intervensie in die ineengeplofte Ditsobotla plaaslike munisipaliteit. Ondernemings en inwoners van Ditsobotla gaan gebuk onder ‘n erg verskerpte ineenstorting van plaaslike dienslewering, ná die nasionale tesourie se weerhouding van die munisipaliteit se billike deel allokasie en die irrasionele besluite van die provinsiale regering om die munisipaliteit onder vrywillige administrasie te plaas sonder om ‘n administrateur aan te stel.

Sakeliga het verskeie ondersteuners uit die sakegemeenskap en plaaslike gemeenskap genooi om bystand tydens die vergadering met die regering te verleen, insluitende Agri Noordwes en die Lichtenburg Sakekamer. Tensy die regering Sakeliga tevrede stel dat dit genoegsame noodmaatreëls getref het en in plek stel, is ons van voorneme om op ‘n dringende grondslag met litigasie voort te gaan. Ons bly daarom in konsultasie met ons regspan, ter voorbereiding van ‘n dringende aansoek.

Sakeliga waarsku dat nie slegs ‘n humanitêre nie, maar ‘n konstitusionele krisis in Ditsobotla aan die ontvou is, gegewe die regering op alle vlakke se oënskynlike algehele onvermoë om uitvoering aan grondwetlike voorsienings vir ingryping by mislukte plaaslike regering te gee. Ons het vertroue in Sakeliga se regsposisie en vermoë om die onkonstitusionaliteit van die regering se optrede in die howe bevestig te kry. Terselfdertyd waarsku ons dat die oplossings vir sodanige onkonstitusionaliteit, in die konteks van omvattende mislukking van die uitvoerende gesag, versigtige en innoverende litigasie vereis en met ‘n wesenlike mate van onsekerheid gepaard gaan. Ons regstrategie is daarom daarop gerig om ondernemings en die plaaslike gemeenskap met so veel korttermynverligting as moontlik by te staan terwyl ons ‘n grondslag vir duursame oplossings lê, welke slegs met verloop van tyd ontwikkel kan word.

Vir meer inligting oor Sakeliga se brief verlede week, klik hier.

Argiewe