Nuwe betredingwetsontwerp skryf eienaars uit regsraamwerk

oorregulering-van-die-arbeidsmark-sal-werknemers-slegs-benadeel

Sakeliga  waarsku dat die Wetsontwerp oor Onwettige Betreding van Persele eienaars uitskryf uit die regsraamwerk waarmee persele teen onwettige besetters beskerm moet word. Ofskoon die statutêre misdaad van onwettige betreding in stand gehou word, maak die wetsontwerp dit vir eienaars, wat nie terselfdertyd hul persele okkupeer nie, byna onmoontlik om teen betreding en onwettige besetting op te tree.

Die tekortkominge kleef aan ‘n konsepwet wat onlangs deur die minister van justisie gepubliseer is, na aanleiding van ‘n Konstitusionele Hof-uitspraak in 2020, waarin Sakeliga tot belangrike regsbeskerming teen onwettige besetting bygedra het.*

In die konsepwet setel die verskraling van die rol van eienaars in die ongehoord uitsluitlike rol wat die wet aan ‘n wettige okkupeerder van ‘n perseel, eerder as aan die eienaar en/of wettige okkupeerder gee, om teen betreders op te tree. Die definisies van “regmatige okkupeerder” en “ongeokkupeerde perseel”, saamgelees met die remedies en bevoegdhede in die wetsontwerp wanneer dit by betreding kom (paragrawe 3(3), 6(1), 7(1), 7(2)), blyk die eienaar van ‘n perseel wat nie fisiese okkupasie uitoefen nie te verhinder om betreders te laat uitsit. Bystand word vir regmatige fisiese okkupeerders gereserveer. In die heersende politieke klimaat kan dit byvoorbeeld ernstige probleme skep vir boere wat plase besit wat uit meerdere persele, waarvan sommige dalk ongeokkupeerd is, bestaan wanneer onwettige betreders daar sou opdaag of strukture oprig. Dieselfde geld vir ontwikkelaars, die eienaars van industriële gebiede, en meer.

Perseeleienaars oefen nie gedurig fisiese okkupasie oor al hul persele uit nie en geen wetsontwerp wat eienaars, bloot op grond van hul okkupasiestatus, van remedies teen onwettige betreders uitsluit is aanvaarbaar nie.

Dit is nie duidelik of die wetsontwerp doelbewus of per abuis die tekortkominge openbaar nie, veral aangesien baie dele van die wetsontwerp welkome verbeteringe en opklaringe bevat, maar terselfdertyd elders onder vaaghede en teenstrydighede gebuk gaan.

Die wetsontwerp skep byvoorbeeld skadelike voorskrifte oor die prosedure wat gevolg moet word om onwettige betreders van ‘n perseel te verwyder. Paragraaf 7(2) beoog dat ‘n wettige okkupeerder van ‘n perseel in die aangesig van dreigende of aktiewe onwettige betreding, die bystand van ‘n “gemagtigde lid van die SAPD” moet ontbied. Ook in die geval van ‘n onwettige betreder wat weier om die perseel te verlaat, moet sodanige bystand van ‘n “gemagtigde” lid van die SAPD ontbied word, wat dan die betreder moet verwyder. Benewens die onbehoorlike inkorting wat dit op sekere gemeenregtelike remedies van ‘n eienaar of wettige okkupeerder plaas om die onwettigheid te stop of te laat stop, hou dit nie rekening met die SAPD se onvermoë om deurlopend betroubare en effektiewe bystand aan die publiek te bied nie. In die geval van onwettige betredings sal eienaars dalk ure of selfs dae moet wag vir bystand deur een van ‘n handjievol “gemagtigde” polisielede wat deur die nasionale kommissaris aangewys is. Nie net sal dit misdaadbekamping bemoeilik nie, maar ook skerp en toenemende spanning tussen ‘n wetsgehoorsame publiek en ‘n oorbelaste SAPD skep.

Hoewel paragraaf 7(2) van die wetsontwerp tekortkominge het, wys Sakeliga egter daarop dat die wetsontwerp nie die geykte gemeneregbeginsels oor selfverdediging en noodweer aantas nie. Enigiemand mag uit noodweer sélf proporsionele stappe neem om ‘n onregmatige aanval af te weer wat aanvang geneem het of onafwendbaar is, ten einde regserkende belange soos lewe, liggaamlike integriteit en in sommige gevalle, eiendom, te beskerm. Die wetsontwerp maak nie inbreuk op hierdie beginsels nie en reguleer nie selfverdediging nie.

Sakeliga sal die vordering van die wetsontwerp en sy toekomstige weergawes dophou. Enige poging tot verwatering van eiendomsreg sal, soos in die verlede, sterk teengestaan word.

Klik hier vir Sakeliga se volledige kommentaar, soos ingedien.

* Sakeliga beklemtoon dat privaat eiendomsbesit, waarby inbegrepe die reg tot voorkoming van onwettige betreding, onmisbaar vir enige florerende ekonomie en gemeenskap is. Ter bevordering hiervan het Sakeliga in 2020 regsaksie in die Grondwethof gevoer, om te help verhoed dat Julius Malema en die EFFdele van die huidige Wet op Oortreding (6 van 1959) en Wet op Oproerige Byeenkomste (17 van 1956) ongeldig laat verklaar. Sodanige ongeldigverklaring, wat eindelik afgewend is, sou Malema en ander vrypas gee om hul volgelinge tot onwettige grondbesettings aan te hits en verwydering van onwettige besetters ernstig bemoeilik. Vir meer inligting oor die rol wat Sakeliga, as amicus curiae, in die saak gespeel het, klik hier.

Argiewe