Lisensieraad vir Lugdienste win regsadvies in oor hul onwettige BEE-vereistes

pexels-ekky-wicaksono-3760564

Die Lisensieraad vir Lugdienste (ASLC) is kniediep in die moeilikheid oor hul onwettige BEE-vereistes en vra nou by Sakeliga tyd om regsadvies in te win.

Die ASLC is ’n statutêre liggaam wat lisensies aan lugdiensondernemings moet toeken onderhewig aan operasionele, veiligheid- en aanspreeklikheidsvereistes.

Sakeliga het einde verlede jaar onthul dat die ASLC lugdiensondernemings onder druk plaas om hul “verbintenis tot transformasie” aan te dui en “hul belofte van deelname aan B-BBEE te verhoog” alvorens lisensies aan hulle toegestaan sal word. Ons prokureurs het die raad in Desember gemaan om die optrede te staak en hom te beperk tot dit waarvoor hy wetlik gemagtig is.

Sakeliga sal die ASLC tyd gun om die regsadvies in te win. Indien behoorlik, sal daardie advies aan hom bevestig dat daar geen basis in wetgewing bestaan om ras, transformasie, of B-BBEE as ’n voorvereiste te stel vir lugdienslisensies nie. Die tersaaklike wetgewing, soos die Wet op Lugdienslisensiëring (115 van 1990), se fokus is – soos dit hoort – uitsluitlik op bedryfaspekte, veiligheid en aanspreeklikheid.

Intussen bly ons eis dat die ASLC die misbruik en manipulasie van lisensieprosesse vir doeleindes van BEE onmiddellik staak. Die ASLC se optrede is buite sy magte, ongrondwetlik en onregmatig. Dit bring boonop ook die veiligheid en kommersiële vryheid van plaaslike lugvaart in gedrang, deur lisensievereistes wat niks met bedryfstandaarde en aanspreeklikheid te make het nie te stel.

Enige lugdiensverskaffer, wat deur die ASLC onder druk geplaas word oor BEE, word genooi om Sakeliga direk of via hul bedryfsorganisasies te nader. Ons beveel intussen aan dat lugvaartrolspelers ferm bly en nie aan onregmatige eise toegee nie.

Sakeliga bedank rolspelers en kenners in die industrie wat ons bystaan met inligting en advies.

Archives