Lichtenburg onder bestuur van “gangsterism”, maar regering neem nie oor

theme-19

“This place is managed by gangsterism” – so het ‘n direkteur generaal van ‘n nasionale departement vanoggend die Ditsobotla Munisipaliteit beskryf. Nieteenstaande hierdie erkenning sleep die regering op nasionale en provinsiale vlak steeds voete om beheer te neem en kritieke dienslewering te herstel.

Die vergadering het gespruit uit eise van Sakeliga verlede week aan President Cyril Ramaphosa as hoof van die nasionale regering en Premier Bushy Maape as hoof van die provinsiale regering om te verduidelik wat hulle posisie oor die krisis in Lichtenburg is en wat hulle daaraan gaan doen. Bo-op jare se staatsverval in die dorp het die regering vandeesmaand ‘n akute krisis veroorsaak deur besluite oor die ontbinding van die munisipale raad en administrasie te neem, maar sonder om ‘n administrateur aan te stel en terwyl hulle fondse weerhou.

Tydens die vergadering het regeringslui die volgende aan Sakeliga meegedeel:

  1. ‘n Administrateur is aangestel, maar het nog nie diens aanvaar nie.
  2. Die administrateur sal eers op ‘n onbepaalde datum diens aanvaar, nadat die provinsiale regering goedkeuring vanaf die nasionale raad van provinsies ontvang vir die administrasie wat die ingevolge artikel 139(1) van die grondwet toepas. Hulle hoop dat dit spoedig sal gebeur.
  3. Die finansiële billike deel-toedeling word steeds weerhou, hangende nie net die indiensstelling van die administrateur nie, maar moontlik selfs ook nog eers die oplossing van dispute oor wie in Ditsobotla nou werklik die munisipale bestuurder is, sowel as die aanstelling van ‘n finansiële beampte, aangesien die munisipaliteit nie eens daaroor beskik nie.
  4. Die provinsiale regering het reeds op 24 November 2021 die Ditsobotla Munisipaliteit onder verpligte administrasie ingevolge artikel 139(5)* van die grondwet geplaas.

Sakeliga het die regeringslui meegedeel dat ons nie berus by vae voornemens en verduidelikings oor administratiewe prosesse, terwyl ‘n sakesektor en ‘n gemeenskap van basiese dienste ontneem word nie. Ons verwag bevredigende terugvoering en herstel van kritieke dienste soos watervoorsiening teen Maandag. Sakeliga het ook uitgewys dat sowel die nasionale as provinsiale regering in gebreke bly om op ‘n lys vrae van Sakeliga te antwoord en om noodsaaklike inligting aan ons en die gemeenskap te verskaf.

Sakeliga gaan daarom intussen voort met voorbereiding vir dringende regshulp. Ons het pertinent teenoor die regeringslui aangebied dat, indien daar enige wetlike aspekte is wat hul verhoed om dringend regstelling in Ditsobotla te doen, ons dit deel van ons litigasie sal maak om sodanige belemmerings uit die weg te ruim met behulp van artikel 172 van die grondwet.

Sakeliga het beklemtoon dat ons, nieteenstaande regsaksie waarin ons juis vir artikel 139(5)-administrasie vra, nog nooit deur die provinsiale regering of enige van die ander respondente daaroor ingelig is nie. Hierdie versuim en ander verswarende doen en late sal vir oorweging aan Sakeliga se regspan voorgelê word ten opsigte nie net van die dringende regsaksie wat aanleiding tot die vergadering gegee het nie, maar ook van Sakeliga se spesiale meester-hofsaak. Die spesiale meester-hofsaak is ‘n langtermyn-regstrategie om onafhanklike ouditeure onder toesig van die hof aan te stel om kernaspekte van munisipale finansies te bestuur. Vir meer oor die spesiale meester-hofsaak, klik hier.

*Artikel 139(5) administrasie is ‘n meer robuuste vorm van administrasie waar ‘n finansiële herstelplan voorberei en in werking gestel moet word, onder toesig van nasionale tesourie.

Argiewe