Kragonderbrekings buiten beurtkrag? Besighede en boere wat direk by Eskom krag koop met strafkrag getref

power-electricity-line-pylon-159218

Te midde van die beurtkragkrisis wat tans in Suid-Afrika woed, word duisende boere en ondernemings regoor die land wat hul krag direk by Eskom aankoop nou ook met strafkrag getref. Sakeliga se regsuksesse teen Eskom, om betalende eindgebruikers teen onderbrekings te beskerm, is wyd bekend, spesifiek in die Resilient-saak.  Eskom se optrede in hierdie verband is onwettig, en moet teen erkende regsbeginsels getoets word. Sakeliga het die presedent reeds geskep en gaan dit weer in die hof bevestig.

Koop jy jou krag direk by Eskom? JA/NEE 

Is jy op datum met kragbetalings? JA/NEE 

Ervaar jy gereelde kragonderbrekings buiten beurtkrag? JA/NEE 

Kry jy voortydig ‘n kennisgewing van kragonderbrekings buiten beurtkrag? JA/NEE 

Ly jy skade wanneer kragonderbrekings sonder ‘n voldoende kennisperiode ingestel word? JA/NEE 

Indien jou antwoorde JA, JA, JA, NEE, JA is, is jy waarskynlik ‘n slagoffer van strafkrag 

Meld strafkrag aan

Jy kan hierdie hofsaak steun! Sluit aan

Sakeliga glo dat Eskom die weg van minste weerstand probeer volg deur betalende eindgebruikers aan elektrisiteitsonderbrekings onder die vaandel van lasvermindering te onderwerp, eerder as om onwettige aansluitings op toevoerlyne uit die weg te ruim. Sodoende belemmer Eskom die vermoë van sy direkte en betalende eindgebruikers – veral landbouplase – om hul ondernemings te bedryf. Daarby word onherstelbare skade aan produksietoerusting aangerig weens onbeplande kragonderbrekings, en sukkel eienaars om sekuriteitsmaatreëls in reeds onveilige gebiede op hul persele te handhaaf. 

Lasvermindering, wat onderskei moet word van die nasionale beurtkragprogram, is ‘n onlangse praktyk waarmee Eskom elektrisiteitstoevoer op geteikende toevoerlyne vir ure aaneen heeltemal staak. Die rede hiervoor is oënskynlik om te verhoed dat die netwerk in hoë-digtheidgebiede, waar daar talle onwettige aansluitings is, oorlaai word en skade aan netwerkinfrastruktuur aangerig word. 

Alhoewel die Wet op Regulering van Elektrisiteit voorsiening maak vir ‘n vorm van lasvermindering, mag dit nooit ‘n volledige staking van elektrisiteitstoevoer behels nie maar slegs ‘n gepaste vermindering in lasgrootte. Gebruikers moet ook deeglik vooraf in kennis gestel word. Eskom tree onwettig op deur elektrisiteitstoevoer op geteikende lyne heeltemal te staak en in baie gevalle nie redelike vooraf-kennisgewing te bied nie.

Eskom beweer al vir maande dat lasvermindering ‘n tussentydse maatreël is vir tyd en wyl ‘n oudit op geïdentifiseerde toevoerlyne gedoen word sodat netwerkverliese tot ‘n aanvaarbare vlak verminder kan word. Hierdie oudits blyk nie gedoen te word nie en dit is onwaarskynlik dat Eskom binnekort lasvermindering gaan staak. 

Argiewe