Sakeliga-argumente in Resilient-saak bring finaal ‘n einde aan krag- en wateronderbrekings weens wanbetaling-geskille

pexels-sora-shimazaki-5669619-1-scaled (1)

Staatsinstellings wat dienste lewer, insluitend Eskom, sal voortaan nie meer betalende eindgebruikers kan benadeel weens wanbetaling deur munisipaliteite nie. Geen geskil tussen enige staatsinstellings mag trouens meer aanleiding gee tot benadeling van betalende eindgebruikers nie. Hierdie beginsel, wat verlede jaar in ‘n uitspraak van die Hoogste Hof van Appèl neergelê is in die Resilient-saak teen Eskom waarby Sakeliga betrokke was, is nou finaal deur die Konstitusionele Hof bekragtig Die Konstitusionele Hof het Eskom se aansoek om verlof tot appèl in die Resilient-saak sowel ‘n soortgelyke saak in Sabie geweier. 

Sakeliga het as amicus curiae (vriend van die hof) in die Hoogste Hof van Appèl die noodsaaklikheid van interregeringsgeskilbeslegting en rasionele skuldinvorderingsmetodes onderstreep, en uitgewys dat besighede en ander eindgebruikers nie gyselaar gehou kan word weens dispute tussen staatsinstellings nie. Die hof het Sakeliga gelyk gegee. 

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, benadruk dat die implikasies van die Hoogste Hof van Appèl se uitspraak in Resilient, wat nou finaal regspresedent geword het, enorm is.  

“Staatsinstellings in dispuut oor ‘n aangeleentheid soos skuldinvordering moet hul nou op interregeringgeskilbeslegting beroep, en die Nasionale Tesourie het ‘n verantwoordelikheid om in te gryp om dispute te help oplos. Voor hierdie uitspraak is hierdie prosesse nie gevolg nie en kon staatsinstelling soos Eskom ‘n maklike uitweg nastreef – om betalende eindgebruikers gyselaar te hou tót skulde vereffen is.” 

Le Roux wys verder daarop dat die werklike impak van die uitspraak veel verder strek as geskille tussen Eskom en munisipaliteite.  

“Die uitspraak het betrekking op alle staatsinstellings, en kom daarop neer dat staatsverval nie langer die probleem van gemeenskappe en private derde partye gemaak kan word nie. Die nasionale regering het ook nou ‘n onbetwyfelbare plig om verantwoordelikheid vir plaaslike en provinsiale staatsverval te neem, en kan nie langer passief omgaan met daardie verantwoordelikheid nie. Dit is beduidend dat die hof krities staan teenoor die nasionale regering se jare-lange pligsversuim in hierdie verband.” 

Sakeliga is optimisties oor die onmiddellike verligting vir betalende eindgebruikers van staatsdienste landswyd wat deur die Resilient-saak teweeggebring word. Terselfdertyd, meen Sakeliga dit sal nie  volhoubaar wees indien Eskom nie deur munisipaliteite betaal word nie. Om onder andere hierdie rede is Sakeliga reeds besig met ‘n hofsaak in Noord-Wes, en vra daar die hof om ‘n spesiale betaalmeester in munisipaliteite aan te stel om invorderings vir dienste soos water en elektrisiteit, direk aan verskaffers soos Eskom oor te betaal. Eskom, ‘n respondent, het hierdie week hofstukke geliasseer wat steun bied vir Sakeliga se aansoek. 

“Net soos die Resilient-saak nie die volledige oplossing was nie, sal die spesiale meester litigasie munisipaliteite ook nie alleenlik funksioneel maak nie. Dit is egter deel van ‘n pro-aktiewe strategie om óf behoorlike bestuur en dienslewering deur die staat te herstel, óf ‘n alternatief te bewerk om staatsinstellings van laste te verlig waar hulle nie in staat is om dit te hanteer nie. Intussen bied die Resilient-uitspraak ondernemings, sakekamers en plaaslike gemeenskappe in die algemeen regoor die land medium-termyn verligting teen strawwe en grootmaat elektrisiteitsonderbrekings,” aldus Le Roux. 

Archives