Die Derde Golf van BEE: Wat Dit Is en Waarom Dit Gestop Moet Word

47224081342_1267af79d7_c

Die ANC se beleid van Swart Ekonomiese Bemagtiging (BEE) is vanjaar 30 jaar oud.

By die onlangse Black Business Council se Gala-ete het President Cyril Ramaphosa gesê dat BEE ’n sukses was.

Inteendeel, BEE het verreikende en blywende skade aangerig.

BEE belas die Suid-Afrikaanse ekonomie met laag op laag se strukturele koste. Ontelbaar veel besighede verloor tenders wat andersins beter goedere en dienste teen laer pryse vir openbare verbruik sou voorsien. Ander, wat geen hoop het om te voldoen nie of weersin ervaar by die vooruitsig om hul ondernemings op ’n rassegrondslag te herontwerp, bly weg. Voorspelbaar lei hierdie al kleiner wordende poel van verskaffers tot stygende pryse en verslegtende gehalte.

Vir meer as twee dekades al betaal staatsentiteite in Suid-Afrika enigiets tussen 10% en 1000% ekstra vir goedere en dienste. ’n Mens moet hierdie feit in die gesig staar om staatsmislukking in Suid-Afrika te verstaan, van die ineenstorting van munisipaliteite, metro’s en provinsies tot die nood by Eskom en die reeks probleme in ander staatsbeheerde entiteite.

In die privaat sektor is BEE se skade miskien minder ooglopend, omdat die dissipline van winsbejag die rampspoed beperk. Nogtans is dit daar ook ’n lastige ondermyner van prestasie wat dwarsdeur waardekettings gevoel word. Die vervanging van waardegerigte met politiesgerigte besigheid kom onvermydelik teen ’n duur prys.

Maar die politieke voorstanders van BEE blyk ongestoord. Verlede week het die President selfs persoonlik onderneem om BEE te verskerp eerder as te verslap.

By Sakeliga beskou ons hierdie verskerping as ’n derde golf van BEE.

Dit is moeilik om aan ’n meer verderflike regulatoriese risiko vir besighede en die kliënte en werknemers wat van hulle afhanklik is te dink as derde-golf BEE. Maar ’n mens moet hierdie golf verstaan as deel van ’n stapsgewyse eskalasie van BEE oor 30 jaar namate die staat gepoog het om alle ekonomiese aktiwiteit onder rasgebaseerde regulatoriese beheer te bring.

Sakeliga se Missie: Bou Skaalbare Oplossings Teen Staatsverval

Eerste Golf BEE: Politieke Voetwerk terwyl Markte Oopmaak (Sedert 1994)

Die eerste golf van BEE het in 1994 begin. Dit was ’n nie-statutêre fase gekenmerk deur spesiale-belang politieke druk in ’n tyd toe markte internasionaal en intern oopgemaak het. Teen die tyd dat die 1994-verkiesings plaasgevind het was byna alle rasgebaseerde wetlike beperkings in Suid-Afrika opgehef. Vryer markte het beteken dat besighede van die kleinste eenmansake tot die grootste korporasies kon begin om ongekende sakegeleenthede saam te ontgin, waarde te skep, en wins oor rasse- en gemeenskapsgrense heen te maak.

Maar as die 1990’s ’n aftakeling van rasgegronde ekonomiese versperrings gesien het, het dit ook nuwe politieke voetwerk in die korporatiewe sektor gesien toe die ANC sy planne vir ’n nuwe rasgegronde ekonomiese beleid begin verwoord het.

In teenstelling met algemene aannames, verskyn die term Swart Ekonomiese Bemagtiging nie in die Suid-Afrikaanse Grondwet nie. So ver as wat ons kan bepaal, lê die oorsprong daarvan by ANC-beleidsdokumente ontwikkel in aanloop tot die 1994-verkiesing. Teen die einde van daardie jaar, by sy 49ste nasionale konferensie en onder die sekretaris-generaalskap van niemand anders nie as Cyril Ramaphosa, het die ANC die ferm resolusie aanvaar: “Dat swart ekonomiese bemagtiging sentraal tot heropbou en ontwikkeling is, en gemik moet wees op die bemagtiging van gemeenskappe eerder as om op ’n beperkte aantal individue gerig te wees.”

Van “die bemagtiging van gemeenskappe eerder as ’n beperkte aantal individue,” het dadels gekom. Selfs invloedryke ANC-lede het al telkemale erken dat die groot bemagtigingstransaksies van die 1990’s hoofsaaklik klein groepe polities verbonde mense massaal verryk het — een daarvan is die huidige president van Suid-Afrika.

Die 1990’s was dus ’n redelik komplekse tydperk. Daar was algemene ekonomiese opgang vir swart en ander gemeenskappe in Suid-Afrika as gevolg van vryer en minder rasgedrewe handelstoestande. Maar hierdie verbetering het amper onmiddellik begin wankel deur die opkomende politieke en rassevereistes van BEE.

Tweede Golf BEE: Die Statutêre Fase (Sedert 2004)

In laat 2003 het die ANC-beheerde Parlement die Wet op Breëbasis Swart Ekonomiese Bemagtiging (B-BBEE) aangeneem en daarmee die hoeksteen vir BEE as ’n statutêre instrument gelê. Van toe af moes enigiemand wat met die staat sake wou doen, ’n BEE-sertifikaat met ’n BEE-telling hê, en hoe hoër, hoe beter. Soos President Thabo Mbeki dit in 2003 gestel het: “Vir seker, in enige beduidende transaksie met die staat, sal dit van ’n onderneming verwag word.”

Hierdie tweede golf was die samekoms van ’n doelbewuste, jare lange proses.

Teen 1998 het die Johannesburgse Effektebeurs alleen meer as 200 BEE-ooreenkomste ten bedrae van ongeveer R40 miljard getel, wat in relatiewe ekonomiese terme vandag ongeveer R300 miljard is. Dit was gewild om hierdie ooreenkomste met skuld te hefboom, so toe aandeelpryse tydens die Asiatiese Krisis wêreldwyd onder druk kom het hierdie ooreenkomsstruktuur skielik minder aantreklik gelyk. Dit was moeilike tye en BEE-ooreenkomste het begin opdroog.

Vir die Black Business Council – ’n ANC-verbonde lobbygroep vir BEE – was die antwoord op die ekonomiese druk ’n politieke teendruk, en in Mei 1998 het dit sy skuif gemaak met die stigting van die BEE-kommissie.

Die doel? ’n “Versnelde nasionale BEE-strategie.”

Die voorsitter? Cyril Ramaphosa.

Toe die BEE-kommissie in 2001 uiteindelik sy verslag, het die Mbeki-regering die geleentheid aangegryp. In sy Staatsrede vroeg in 2003 het Mbeki aangekondig dat die “Regering saamstem met die siening van die BEE-kommissie dat dit nou nodig is om ons beleide oor swart ekonomiese bemagtiging meer uitdruklik te maak.”

Die ‘telkaart’-stelsel wat deur die Wet op B-BBEE ingestel is, het listig verseker dat ’n maatskappy se BEE-punte nie net op homself berus nie, maar ook op die telling van sy diensverskaffers. Die gevolg was ’n giftige kettingreaksie, waarin maatskappye wat staatsbesigheid wou bekom of wat politieke risiko blootstelling gehad het, aangespoor was om deel van die politieke druk vir BEE op hul verskaffers af te skuif, hoewel daardie verskaffers self nie met die staat handel gedryf het nie.

So voor-die-hand-liggend as wat die skadelike effek van BEE vandag mag voorkom, was dit nie maklik om BEE in sy vroeë dae te kritiseer nie. Wit mense se besware teen BEE is dikwels misverstaan of verdraai om die indruk te skep van huiwering om sake met swart mense te doen, eerder as om gesien te word vir wat dit was, naamlik skeptisisme uitdruklik gerig op die politieke beleid van BEE en op drakoniese staatsbeheer en bo-na-onder rasse-ingenieurswese van die ekonomie. En met die ANC stewig in die saal kon die ontlokking van die party se toorn jou maatskappy aan vernietigende vlakke van politieke viktimisasie blootstel.

Inderdaad, toe die petrochemiese reus Sasol in sy 2003-aansoek vir ’n sekondêre notering op die New Yorkse Aandelebeurs BEE as ’n potensiële risiko gelys het, het President Mbeki die maatskappy openlik aangeval. Sasol het vinnig van deuntjie verander, en die hele episode het ’n ysige sein aan die res van korporatiewe Suid-Afrika gestuur.

Ongelukkig is gerespekteerde swart mense wat oor die jare teen BEE gepraat het, vir politieke gerief opsygeskuif. Tot vandag toe weier voorstanders van BEE om te erken dat Richard Maponya en Sam Motsuenyane – waarskynlik die mees gerespekteerde swart sakelui in Suid-Afrika – BEE afgekeur het. Dit is ’n raaisel hoe die minister van kleinsake, Stella Ndabeni-Abrahams, haar opmerkings verlede week by die heengaan van Motsuenyane dat “die grootste eer wat ons sy gedagtenis kan betoon” sou wees “om breëbasis swart ekonomiese bemagtiging voor te sit” versoen met Motsuenyane se eie stellings in 2012 dat “BEE selfstandigheid vernietig het” en “’n kultuur van toe-eiening gekweek het”.

Waarskuwingstekens

Amptelik het die tweede golf slegs BEE vereis waar die staat op een of ander manier deel van die transaksie was. ’n Besigheid kon vrywillig kies om nie met die staat of met besighede wat BEE vir voorsieningskettingdoeleindes vereis handel te dryf nie, hoe duur ook al die besluit hulle te staan gekom het.

Nietemin was golf twee ’n enorme beleidsoorskryding vergesel van onheilspellende en onbetwisbare tekens van die staat se begeerte om BEE te bly uitbrei en verskerp. In die Mynbouhandves, met visvangkwotas, en in ’n beperkte aantal ander gevalle waar die staat reeds die bedryf swaar gereguleer het, het BEE ’n uitdruklike vereiste geword vir besigheid doen, of dit nou met die staat was of nie.

Pravin Gordhan, destyds minister van finansies, se 2017 regulasies oor staatsverkryging het tweede-golf BEE drasties aangevuur. Die regulasies het bepaal dat staatsentiteite voortaan kan besluit om minimum BEE-kriteria vir tenders so hoog as wat hulle maar wil te stel. Dit was ’n skerp wending in die regulasies vir die Wet op die Raamwerk vir Voorkeurverkrygingsbeleid van 2001, waarvolgens besighede ’n maksimum van 10 of 20 persent van hul tenderpunte sou verloor indien hulle onvoldoende BEE-punte gehad het.

Teen 2022 kon Sakeliga die 2017-regulasies deur litigasie omkeer en noodsaaklike verligting bring vir munisipaliteite en staatsentiteite wat waarde-vir-geld verkryging wou doen. Maar hierdie hofstryd het ’n nuwe vasberadenheid by die Ramaphosa-administrasie, om BEE so diep as moontlik in die kommersiële sfeer te vestig, blootgelê.

Dit bring ons by die derde golf van BEE.

Derde Golf BEE: Toegangsbeheer (Sedert ~2018)

Die derde golf van BEE is ’n meer onlangse en veel gevaarliker verskynsel. Hier, vir die eerste keer, gaan dit nou oor toegangsbeheer tot die ekonomie – oor die direkte afdwinging van BEE in private transaksies en oor private bates wat niks met die staat te doen het nie.

In teenstelling met die vorige golwe, steun die derde golf nie op ’n enkele beleid of wet nie, maar behels dit ’n omvattende heroriëntasie van die staat om BEE oral verpligtend te maak.

Die slimmigheid van hierdie golf lê in sy tweestap-benadering: Eerstens probeer dit om die greep van die staat te vergroot deur voorheen vrye ekonomiese aktiwiteit voortaan aan regulatoriese goedkeuring of uitdruklike lisensiëring te onderwerp. Daarna poog dit om daardie einste goedkeuring aan BEE onderhewig te maak.

Hier is drie onlangse treffende voorbeelde van derde-golf BEE:

Dieselfde neiging is in ’n menigte ander bedrywe te bespeur, insluitend medisyne en mediese toerusting, lugvaart, telekommunikasie, finansiële dienste, en meer. Sakeliga ondersoek tans tien staatsdepartemente en veertien ander staatsentiteite vir pogings om BEE-deelname ’n verpligte vereiste te maak vir die wettige bedryf van ’n besigheid—en daar is ongetwyfeld meer.Top of Form

Sakeliga se Missie: Bou Skaalbare Oplossings Teen Staatsverval

Om die Nuwe BEE te Stop

Verantwoordelike sakelui kan nie toelaat dat BEE ’n vereiste vir deelname aan die ekonomie word nie. ’n Suksesvolle strategie om dit te stop vereis ten minste drie dinge.

Eerstens moet sakelui BEE-vereistes as onetiese riglyne hanteer, vanweë die skade wat dit aan individuele besighede en die algemene welstand aanrig. Sakeliga noem dit ’n benadering van maksimum haalbare nie-nakoming. Waar ’n mens oordeel dat nie-nakoming onuitvoerbaar is, sou nakoming van BEE aanvaarbaar wees, maar waar uitvoerbaar, vereis etiek nie-nakoming. Dit sou vir ondernemings wys wees om deeglike regsadvies hieroor in te win, aangesien sowel nie-nakoming as nakoming van BEE elk hul eie risiko’s inhou.

Die tweede is om op ongekende skaal te litigeer. So veel as moontlik van die nuwe uitbreidings van BEE moet so gou as moontlik in die hof uitgedaag word. In sommige gevalle sal dit slaag; in ander sal dit slegs (kosbare) tyd koop; in nog ander mag dit misluk.

Uit ondervinding kan ons getuig dat sukses inderdaad moontlik is, en hierdie moontlikheid moet tot die volle beskikbare mate benut word.

Die derde is vir sakegemeenskappe om sterk en invloedryk genoeg te word om “nee” te sê; om betrokke te wees by die politiek van die dag, maar terselfdertyd ook verder as verkiesings en regerings te kyk; om organisasies te stig wat ’n gunstige sakeomgewing wil bou, sonder om te wag vir staatsoplossings wat dalk nooit sal kom nie; om te onthou dat die rol van enige staat in die ekonomie kan uitbrei of verskraal, deels afhangende van hoe georganiseerde sakegemeenskappe daardie rol wil definieer en hul onafhanklikheid laat geld.

Die volgende tien jaar in Suid-Afrika sal uitdagend wees.

Sukses is binne bereik.

’n Beduidende deel van daardie sukses vereis dat ons ’n ferm en klinkklare “nee” sê teen die derde golf van BEE.

Maak 'n kragtige en blywende ekonomiese impak.

Argiewe