Gesentraliseerde risikobestuur is steeds nie die oplossing

lockdown

Die kenmerk van die Suid-Afrikaanse regering se Covid-19-reaksie is die sentralisering van risikobestuur. Dit het voorkeur verleen aan ongenuanseerde ingrepe op die ekonomie, onderwys, godsdiens, medikasie, inentings, tot ‘n beduidende mate protokolle by mediese fasiliteite, en meer. 

Vanaand se aankondiging van ‘n aangepaste vlak vier grendelstaat sit hierdie benadering voort, deur besluitneming deur die regering steeds sentraal tot pandemierespons te plaas. Tog was die resultate van die gesentraliseerde benadering tot so ver uiters swak. 

Vir vele mense is vlak vier nie genoeg nie en hulle sal voorkomende maatreëls neem wat baie strenger is as wat die regering beveel. Vir baie ander is vlak vier skadelik en nodeloos beperkend, soos diegene wat desperaat is om kos op die tafel te plaas, of hul werknemers in diens wil hou, of familie wat hulle dalk nooit weer sal sien nie wil besoek. Vir vele jonger mense verteenwoordig Covid-19 weglaatbare risiko, en tog word hulle ingeperk op dieselfde wyse as andere, in stede daarvan om aan hulle die geleentheid te gee om diensbaar te wees wyl diegene met wesenlike risiko terugstaan. 

Min dinge kan persoonlike veiligheid en maatskaplike en politieke stabiliteit in ‘n land soveel op risiko plaas as om miljoene mense voedselsekuriteit te ontneem. Selfs terwyl meer as 11 000 Covid-19-gevalle tans in hospitaal opgeneem is, met 2 000 in intensiewe sorg, is 1,4 miljoen mense wat voor die grendelstaat verlede jaar ‘n werk gehad het vandag steeds werkloos. Ná meer as ‘n jaar het die etlike miljoene mense wat van hierdie nou-werkloses afhanklik is hul reserwes opgebruik. Hulle is en word steeds toegang tot die ekonomie, wat net so veel van ‘n lewensondersteuningsmasjien as die mediese sektor self is, ontsê. Die sluiting van die restaurant- en alkoholindustrieë – alweer -plaas miljoene mense en hul families se inkomstes en voedselsekuriteit in gedrang. 

Gesentraliseerde risikobestuur was ook medies skadelik. Die oorgrote aantal mense wat inentings wil bekom word dit ontsê weens beperkings op privaatsektordeelname. Suid-Afrikaanse mediese reguleringsliggame het belemmerend ingewerk op mediese innovasie deur onnodige blokkasie van bona fide medikasie- en behandelingspogings van dokters. Kinders is onderwys ontneem ongeag plaaslike omstandighede en dikwels in gevaar geplaas deurdat sommige van hulle tuis moes wees sonder hul ouers. 

Dit is tot sy eer dat mnr Ramaphosa erken dat baie foute gemaak is. Maar na meer as ‘n jaar van kollaterale skade word ‘n paradigma-skuif eerder vereis: om die gesentraliseerde reaksie met ‘n gedesentraliseerde een te vervang. Dit behoort groter desentralisasie van risiko-bestuur te behels en nie strenger inperkings nie; meer ruimte vir mediese praktisyns om medikasie en behandelingsprotokolle te beproef, onderhewig aan die etiese vereistes van hul professie in plaas van burokratiese voorskrifte; om onbeperkte, vrywillige privaatsektor inentingsprogramme in parallel met dié van die regering toe te laat; en om nie enige sektore van die ekonomie te sluit nie. Hierdie is die weg tot herstel en gesondheid. 

Navrae 
Piet le Roux 

Archives