Dringende regshulp toegestaan in Sakeliga-saak in Ditsobotla

theme-18

Die Hooggeregshof in Mahikeng het gister dringende regshulp toegestaan in Sakeliga se hofaansoek oor die krisis in Lichtenburg en Coligny in die Ditsobotla Plaaslike Munisipaliteit.

Die uitspraak vorm ‘n onderdeel van ‘n hofsaak waarmee Sakeliga en andere, gemeenskappe se rol by die herstel van watervoorsiening ordelik wil versterk en ingryping deur die nasionale regering wil afdwing. Gister se uitspraak is in Deel A van die aansoek, wat hoofsaaklik met die dringende herstel van watertoevoer aan die gemeenskappe van Ditsobotla handel. Watertoevoer in die distrik het op verskeie plekke tot stilstand geknars ná ‘n mislukte ingryping deur die Noordwes Provinsie etlike weke gelede, toe dit die munisipale raad ontbind het sonder om ‘n administrateur aan te stel, werknemers se salarisse te betaal, en meer.

Die hof het die administrateur van Ditsobotla nou gelas om “watertoevoer te verseker”, onder toesig van Sakeliga. Die toevoer moet “ooreenkomstig die behoeftes van die gemeenskap” voorsien word en die administrateur moet binne 15 dae aan die hof rapporteer oor die herstel van watertoevoer. Ooreenkomstig hierdie bevel het ons vanoggend by die administrateur onder meer aangedring dat watertoevoer binne die volgende 24 tot 48 uur herstel word en dat ons genomineerde verteenwoordigers van die plaaslike sakekamer en andere volle toesig gegun word.

Deel B van die aansoek, waarin verdere regshulp versoek word, is geskeduleer om op 10 November aangehoor te word.

Uitspraak skiet te kort

Alhoewel die regter se uitspraak ‘n mate van verligting bied, skiet dit tekort, omdat dit nog nie ‘n dringende, ordelike wyse voorskryf waarop gemeenskappe tydens algehele staatsineenstorting kritieke dienslewering kan herstel nie. Dit ken ook steeds take toe aan die provinsiale regering en die administrateur nieteenstaande hul bewese onvermoë om dit uit te voer en te midde daarvan die provinsie self al by herhaling onder administrasie geplaas is.

By wyse van die toesigrol wat die bevel aan Sakeliga toeken, beweeg die hof wél nader aan gemeenskapsbetrokkenheid, maar ons beskou dit as onvoldoende en sal voortgaan met die ontwikkeling van verdere regspraak.

Die algehele staatsverval soos wat dit die afgelope paar weke in Ditsobotla afgespeel het dreig in vele munisipaliteite landswyd. Staatsverval laat ‘n magsvakuum wat gevul sal word óf deur bendes en misdadigers – gepaardgaande met ‘n uittog van sakelui en inwoners – óf deur organisasies in gemeenskappe wat sélf orde skep. Sakeliga se aansoeke is gerig op geregtelike fasilitering deur die hof, vir ‘n ordelike pad waarmee gemeenskappe met minder risiko sélf kan intree om plaaslike ekonomieë en gemeenskappe te stabiliseer.

Gister se uitspraak is onvoldoende omdat die hof nog te veel dringende ingryping vir die administrateur en die staat reserveer. In praktyk laat dit ruimte vir verdere verval en vir misdadige elemente in die munisipaliteit om hul magsposisies te versterk. Sakeliga sal daarom met hierdie en ander regsaksie voortgaan ten einde stapsgewys regspraak te ontwikkel wat groter gemeenskapsbehartiging fasiliteer.

Intussen sal Sakeliga die oorsiggesag wat ons bekom het, in die herstel van watertoevoer deur die administrateur, nougeset en in samewerking met sake-organisasies en ander gemeenskapsinstansies in Ditsobotla uitoefen.

Eiebelang van staatsorgane

Die regeringsvlakke en staatsorgane wat as respondente in die saak opgetree het, se benadering in gister se hofaksie spreek van eiebelang eerder as die belange van geaffekteerde gemeenskappe. Hul onverantwoordelike opponering van die regshulp wat Sakeliga versoek getuig van ‘n poging om ten alle koste beheer te behou oor die stukkende munisipale verskaffingsketting in Ditsobotla.

Die idee dat gemeenskappe tevrede wees om besighede en huishoudings sonder water te bedryf, al sou hulle self die probleem kon oplos, is onhoudbaar en sal in praktyk nie kan seëvier nie.

Verdere regshulp

Deel B van Sakeliga se aansoek word op 10 November ook op dringende grondslag aangehoor, en handel met meer omvattende mediumtermyn regshulp. Daarin vra Sakeliga onder andere:

  1. ‘n Verklarende bevel dat die provinsiale regering nie voldoende in Ditsobotla ingegryp het nie, en gevolglik in gebreke bly om hul administrasiebevoegdhede in die Grondwet uit te oefen
  2. ‘n Gebiedende interdik dat die nasionale uitvoerende gesag in Ditsobotla moet ingryp, kragtens artikel 139(7) van die Grondwet – die hoogste vorm van ingryping waarvoor die Grondwet uitdruklik voorsiening maak. Dit behels, onder andere, dat die nasionale uitvoerende gesag ‘n herstelplan moet implementeer, sodat basiese munisipale verpligtinge nagekom word.

Sakeliga voorsien egter die moontlikheid dat die nasionale regering, net soos die provinsiale regering, nie doeltreffende ingrepe sal kan doen en orde herstel nie. Daarom bied ons die hof ook die geleentheid dat Sakeliga of die hof tussentyds ‘n spesiale meester aanstel met alle nodige magte en bevoegdhede om basiese dienslewering in die dorpe te herstel, tot tyd en wyl die nasionale regering orde en dienslewering tot bevrediging van die hof herstel het. Ten slotte vra ons die hof verlof om die hofstukke en bedes aan te vul indien verdere versuim deur die staat dit noodsaak om ten behoewe van sakelui en die gemeenskappe van Ditsobotla in te tree.

Argiewe