Dreigende ICASA BEE-regulasies sal die hele ekonomie skade berokken

pexels-troy-squillaci-2525871 (1)

Die telekommunikasie- en internetdienstebedryf in Suid-Afrika staar ’n beduidende bedreiging in die vorm van ICASA se eienaarskapregulasies in die gesig. Hierdie regulasies het onder meer lastige rassevereistes ingestel wat billike mededinging belemmer en die lewensvatbaarheid van ondernemings in ’n kritieke sektor van die ekonomie bedreig.

Daar word van individuele lisensiehouers vereis om aan streng sogenaamde “eienaarskapsbillikheidskriteria” te voldoen, insluitend die histories-benadeelde groepe (HBG)-ekwiteitvereiste en die swart-ekwiteitvereiste. Versuim om aan hierdie vereistes te voldoen, kan lei tot vernietigende boetes en strawwe, wat talle besighede in die gedrang plaas.

Wat is op die spel?

Die koppeling van vereistes vir Swart Ekonomiese Bemagtiging (BEE) aan lisensievoorwaardes – wat Sakeliga ‘derdegolf BEE’ noem – skep ’n gevaarlike presedent. Dit baan die weg vir eskalerende rassevereistes as ’n voorvereiste om ’n besigheid te bedryf, wat besigheidsvorming, innovasie, en investering kan onderdruk en rig honderde miljarde rande se ekonomiese skade aan.

Die dringende behoefte aan aksie

Met die afdwingingsdatum van 30 Maart 2024 wat op hande is, is dit van kardinale belang vir belanghebbendes om kragte saam te snoer en die beleid uit te daag voordat dit vastrapplek in die bedryf kry. Hoewel litigasie moontlik nie voor die inwerkingstredingdatum voltooi sal wees nie, kan die behoefte aan optrede om die regulasies terug te rol moeilik oordryf word. Verantwoordelike sakegemeenskappe kan nie toelaat dat regulasies wat skadelike en onredelike boetes en strawwe op hul bedrywighede oplê die norm word nie.

Sakeliga se Missie: Bou Skaalbare Oplossings Teen Staatsverval

Jou ondersteuning is van kardinale belang

Ons kan hierdie uitdaging nie alleen aanpak nie. Deur finansiële ondersteuning van ons litigasie, kan besorgde belanghebbendes in die telekommunikasie- en internetdienstebedryf en elders saam met Sakeliga staan teen hierdie skadelike regulasies. Wydverspreide steun is van kardinale belang om die verreikende effek van hierdie regulasies en die dringende behoefte aan hervorming te demonstreer.

Ons voorgestelde benadering

Sakeliga, saam met ander betrokke partye, maak gereed om hierdie regulasies in die hof uit te daag. Ons regspan het verskeie gronde geïdentifiseer waarop hierdie regulasies betwis kan word, insluitend:

  1. Die regulasies se strawwe vir nie-nakoming kan die gesag wat deur magtigende wetgewing verleen word oorskry, wat dit ongrondwetlik maak.
  2. ICASA se afwyking van die IKT-sektorkode in die formulering van hierdie regulasies laat vrae oor wettigheid en billikheid ontstaan.
  3. Wysigings wat in 2022 aan die regulasies aangebring is, is sonder behoorlike proses gedoen, wat hul legitimiteit verder ondermyn het.
  4. Die vereistes wat deur die regulasies gestel word, kan onredelik inmeng met besighede se regte om hul ambag of beroep te kies.
  5. Bestaande lisensiehouers se regte en wettige verwagtinge kan onbillik deur hierdie regulasies beïnvloed word, wat onbillike administratiewe optrede daarstel.

Neem nou aksie

Die tyd om op te tree is nou. Ons doen ’n beroep op besorgde belanghebbendes in hierdie bedryf en verder om saam te staan agter ons pogings om ICASA se eienaarskapregulasies uit te daag. Met suksesvolle strategiese litigasie kan Sakeliga en sy ondersteuners saam hierdie bedryf en andere wat vir soortgelyke aanvalle kwesbaar is oop vir besigheid, produktief, en waardevol vir die samelewing hou.

Om Sakeliga se volledige memorandum oor die voorgestelde regulasies te lees, klik hier.

Vir navrae wat verband hou met ons litigasie in hierdie saak, klik hier.

Om Sakeliga se litigasiepogings teen ICASA sowel as ander hofuitdagings met ’n groot impak te ondersteun, klik hier

Maak 'n kragtige en blywende ekonomiese impak.

Argiewe