Bou aan ‘n kragtige (en kragryke) sakegemeenskap

Sakeliga KragDag Wes-Kaap
Sakeliga KragDag Wes-Kaap

Dit verskaf my groot plesier om u namens Sakeliga by die eerste KragDag Weskaap welkom te heet. Ons vennootskap met KragDag is een wat ons hoog op die prys stel. Dit vergestalt veel van waaroor Sakeliga gaan: die saamkom van ‘n werklik onafhanklike sakegemeenskap, wat waarde skep deur handel en wat oplossings bou wat ons vryer, welvarender en – belangrik – staatsbestand maak! 

Te midde van verwoestende elektrisiteitstekorte bied KragDag ‘n positiewe visie op ‘n wêreld van bekostigbare en oorvloedige energie, verskaf nie deur ‘n enkele, oneffektiewe staatsmaatskappy nie, maar deur duisende entrepreneurs wat met ‘n verskeidenheid energietegnologieë die uiteenlopende behoeftes van hul klante dien. 

Dit is wat “kom ons bou ‘n kragstasie!” beteken: om energie-onafhanklikheid terug in eie hande te neem en oplossings van onder af te bou, waarlangs ons ontslae raak van ons afhanklikheid van die staat se ineenstortende energie-infrastruktuur. Hierdie “kragstasie” is ‘n netwerk van ondernemings en gemeenskappe wat ‘n energie-beleggingsherlewing skep wat, verbinding-vir-verbinding, van rollende kragonderbrekings iets sal maak wat net in geskiedenisboeke bestaan. 

KragDag is een van die snelgroeiendste platforms vir die uitstal van sommige van die land se mees innoverende en onafhanklik-gesinde entrepreneurs. Sakeliga ondersteun hierdie gemeenskap deur te werk na ‘n meer gunstige sakeomgewing vir ons lede en die gemeenskappe waarin hulle besigheid doen. Ons doen dit deur skadelike ekonomiese beleide teen te staan en vir oplossings te koördineer daar waar die staat onwillig of onbevoeg is om gedeelde probleme die hoof te bied. Ons litigeer om te verseker dat die regsomgewing so gunstig as moontlik vir besigheid is, om korrupte en onbekwame regering by plaaslike ekonomieë reg te stel en om die hefbome van ekonomiese beheer uit die hande van die staat terug te plaas waar dit hoort: in die hande van entrepreneurs, beleggers, werknemers en klante. 

In die groeiende Sakeliga-sakenetwerk heg ons waarde aan vryer en oop markte; onwrikbare beskerming van eiendom; waarde-gebaseerde en nie rasgebaseerde sakepraktyke; snel reagerende, eerlike regering geskik vir plaaslike toestande; en veerkragtigheid in die aangesig van staatsverval. Sakeliga het, in onlangse jare, suksesvol teenstand gebied teen swart ekonomiese bemagtigingsvereistes in openbare verkryging, teruggedruk teen skadelike grendelstaatbeleide en gesondheidsregulasies, die onkonstitusionele gebruik van staatsgesag gestop, verligting te midde van munisipale verval bewerkstellig, die beskerming van privaat eiendom versterk en meer. 

Ons is sedert 2018 trotse vennote van KragDag en is verheug om die ekspo van krag-tot-krag te sien gaan. Om KragDag na die Weskaap te bring stel die volgende hoofstuk in die storie daar en ons wens u ‘n diep bevredigende, inspirerende en produktiewe tyd saam met ons in Malmesbury toe. 

Russell Lamberti 
Direkteur 
Sakeliga 

Argiewe