Wysigingswet op Maatskappye sal teenproduktief en skadelik wees

Patel

Sakeliga het kritiek teen die voorgestelde Wysigingswet op Maatskappye (“die Wet”) in sy kommentaar aan die portefeuljekomitee oor Handel, Nywerheid en Mededinging gelewer.

Dié Wet wat skynbaar ter tafel gelê is met die doel om “gelykheid tussen direkteure en senior bestuur aan die een kant, en aandeelhouers en werkers aan die ander kant hand” te bewerkstellig sowel as “die aanspreek van openbare kommer oor hoë vlakke van ongelykhede in die samelewing” dreig eerder om wesenlik maatskaplike en ekonomiese skade te verrig – sonder dat enige dienooreenkomstige voordeel meegebring word.

Die bepaling dat die name van direkteurs of ander voorgeskrewe beamptes wat vergoeding vanaf ‘n aangewese onderneming ontvang gepubliseer en bekendgemaak moet word dien geen legitieme doel nie en sal eerder ongelukkigheid en onmin in ondernemings kweek.

Verder, is daar geen logiese of regsverwante verbintenis tussen die verpligte bekendmaking van die sogenaamde vergoedingsgaping tussen verskeie vlakke van personeel binne ‘n organisasie en enige sinvolle oogmerke van die staat nie.

Die gaping in vergoeding van werknemers is nie ‘n toevallige gebeurtenis nie. Dit is eerder die produk van ‘n konstante proses van onderhandeling en afwegings. Die werkgewer let byvoorbeeld op die potensiële waardetoevoeging van ‘n werknemer tot die maatskappy, terwyl die werknemer let op beter betalende werksgeleenthede wat nagestreef kan word elders.

‘n Sentrale en gedwonge poging om vergoedingsbepalings van maatskappye op ‘n kunsmatige manier te manipuleer sal net lei tot bedankings, afleggings en onproduktiewe gedrag. Dit sal ook pasgemaakte aansporingstrukture wat werknemers se prestasie in bepaalde omstandighede aandryf verwring.

Alhoewel verbeterde deursigtigheid nie per se skadelik is nie, kan reuseskade veroorsaak word deur maatskappye te dwing om gedetailleerde vergoedingsbeleide en verslae aan te neem, wat heel moontlik in die hande van alle of meeste werknemers en die publiek kan beland.

Sakeliga meen dat gegewe die negatiewe impak wat veral artikels 5 en 6 van die Wet inhou, sowel as die oënskynlike ongrondwetlikheid daarvan moet die Wet nie toegelaat word om voort te gaan alvorens hierdie bepalings nie hersien is nie.

________________________

Jou finansiële ondersteuning maak hoë-impak litigasie moontlik, bevorder alternatiewe strukture, en help om die toekoms te vorm wat jy wil sien. Klik hier en befonds Sakeliga.  

Argiewe