Tronkstraf naby vir munisipale bestuurder oor nie-voldoening aan Sakeliga-hofbevel

theme-21

Die voormalige munisipale bestuurder van die Mogalakwena Plaaslike Munisipaliteit in Limpopo sal volgende week moet tronk toe gaan, tensy die munisipaliteit vandag rekords waarvoor reeds in Mei 2021 aansoek gedoen is, aan Sakeliga oorhandig.

Hendrick Ngoepe, voormalige munisipale bestuurder, asook die munisipaliteit self en sy huidige munisipale bestuurder is verlede week in ‘n aansoek deur Sakeliga aan minagting van die hof skuldig bevind, omdat hulle versuim het om te voldoen aan ‘n hofbevel wat Sakeliga al op 21 Januarie vanjaar bekom het. Ngoepe is sestig dae tronkstraf opgelê, opgeskort mits die munisipaliteit teen 2 Desember volledig rekord lewer.

Die aanvanklike hofbevel van 21 Januarie 2022 en die voortspruitende minagting en tronkstraf lei alles terug na `n inligtingsversoek oor dienslewering en munisipale aangeleenthede wat Sakeliga in samewerking met die Mokopane Sakekamer al in Mei 2021 aan die munisipaliteit gerig het. Die versoek dek heelwat rekords wat die gemeenskap in staat sou kon stel om ‘n totale gebrek aan finansiële bestuur by die munisipaliteit aan te spreek met litigasie en ander stappe. Die inligtingsversoek is egter onbeantwoord gelaat en Sakeliga het met sukses die hooggeregshof genader om die munisipaliteit te verplig om die rekords te oorhandig. Tot vandag toe en ten spyte van die hofbevel, het geen rekords nog die lig gesien nie. Nadat alle redelike stappe gedoen is om die munisipaliteit so ver te bring om rekords te lewer, was die enigste oorblywende uitweg om die Hooggeregshof weer te nader, om die munisipaliteit en die munisipale bestuurder wat waargeneem het ten tyde van die 21 Januarie-bevel, skuldig te bevind aan minagting van die hof.

Die bevel verlede week gelas dan nou die munisipaliteit om teen 2 Desember al die rekords kragtens die oorspronklike inligtingsversoek, soos finansiële verslae en raadsbesluite van die munisipaliteit, aan Sakeliga te oorhandig. Indien dit nie gebeur nie, moet Ngoepe onmiddellik deur die SAPD in hegtenis geneem word en aan ‘n korrektiewe fasiliteit oorhandig word om 60 dae tronkstraf uit te dien. In so geval sal Sakeliga oorweeg om ‘n hofaansoek te bring om ook die huidige munisipale bestuurder tronk toe te stuur.

Sowel ter wille van voorkoming as, waar nodig, herstel van volslae verval op munisipale vlak, moet staatsamptenare gehou word aan hul basiese grondwetlike verpligtinge, soos om aan inligtingsversoeke te voldoen. Sakeliga is daarom bereid om staatsamptenare tronk toe te laat stuur, ter ondersteuning van ons regstrategie teen ekonomiese en munisipale verval.

Lees meer oor die saak hier.

Argiewe