Tesourie gee toe aan Sakeliga: staatsorgane kan voortgaan met verkrygings

Die Direkteur-Generaal van die Nasionale Tesourie, Dondo Mogajane, het vandag aan Sakeliga toegegee dat sy omsendbrief aan staatsorgane oor voortgesette BEE-voorvereistes en die stop van tenders  nie bindend is nie.   

Dit kom nadat ‘n landswye krisis die afgelope paar dae gedreig het waarin feitlik alle staatstenderprosesse tot stilstand sou knars, op grond van ‘n omsendskrywe van Mogajane op 25 Februarie. Staatsorgane het Mogajane se skrywe interpreteer as ‘n instruksie om nie nuwe tenders te adverteer nie asook asof hulle sou mog voortgaan om vir reeds-geadverteerde tenders BEE-voorvereistes toe te pas. 

Sakeliga het Mogajane vandeesweek aangemaan dat hy nie by magte is om sodanige instruksies aan staatsorgane te gee nie en dat staatsorgane wat ooreenkomstig Mogajane se skrywe optree hulself aan litigasie sou blootstel. Daar is geen rede om tendertoekenning of tenderadvertering te staak nie, mits dit geskied binne die Wet op Raamwerk vir Voorkeurverkryging (PPPFA) en derhalwe nie van BEE-voorvereistes gebruik maak nie. 

Sakeliga het gewaarsku dat die Nasionale Tesourie ‘n skyn van wettigheid oor voortgesette toepassing van BEE-gebaseerde voorafdiskwalifikasie van tenderaars skep. Dit, terwyl die Konstitusionele Hof nou finaal die ongeldigheid van die BEE-gebaseerde voorafdiskwalifikasie in die Minister van Finansies se 2017-regulasies bevestig het. 

Die Direkteur-Generaal se skrywe aan Sakeliga vandag verwyder die noodsaak vir dringende litigasie en beteken dat staatsinstellings kan voortgaan met verkryging, ongeag Nasionale Tesourie se beskouing van die Konstitusionele Hof-uitspraak van 16 Februarie in Sakeliga se guns. 

Wat sowel die Minister se regulerende rol as staatsorgane se interne beleide betref,bly Sakeliga van voorneme om toe te sien dat die uitspraak van die Konstitusionele Hof op 16 Februarie – die eerste groot terugrol van BEE deur die Konstitusionele Hof – eerbiedig word. Sakeliga staan gereed om weer te litigeer sou daar pogings deur die Nasionale Tesourie of ander staatsinstellings wees om die hofuitspraak te systap.  

 

Uitgereik deur:    

Piet le Roux,
Uitvoerende Hoof, Sakeliga    

Tian Alberts    
Regs- en Skakelbeampte,   

Sakeliga 

Archives