Sakeliga vorder met minagtingsaak ná weke se ontduiking deur Mogalakwena munisipale bestuur

Sakeliga kon uiteindelik ‘n hofaansoek op die waarnemende munisipale bestuurder van die Mogalakwena Plaaslike Munisipaliteit in Limpopo, mnr. Hendrick Ngoepe, beteken. Hy het vir weke lank die betekening van Sakeliga se hofaansoek*, om hom van minagting van die hof skuldig te bevind, ontduik.

In besonder is hy nooit op kantoor nie, en vermeld sy personeel telkens vir die balju van die hooggeregshof dat hy besig en onbeskikbaar is. Verlede week kon prokureurs vir Sakeliga egter vir Ngoepe telefonies bereik om hom bewus te maak van die minagtingsaansoek teen hom.

Sakeliga het intussen verneem dat ‘n nuwe munisipale bestuurder, mnr. Morris Maluleke, op 1 September aangestel is, en die waarnemende munisipale bestuurder op wie die minagtingsaansoek gemik is, nie meer waarneem nie maar nou in ‘n ander amp dien. Die minagtingsaansoek verstryk egter nie weens Ngoepe se ampsverwisseling nie; hy was in die amp van waarnemende munisipale bestuurder toe Sakeliga herhaaldelik aanmanings aan hom en die munisipaliteit gestuur het om aan ‘n 18 Januarie-hofbevel te voldoen en toe die daaropvolgende aansoek om minagting geliasseer is. Boonop het Sakeliga nou ook aan Maluleke, die nuwe munisipale bestuurder, ‘n aanmaning gestuur om aan die 18 Januarie-bevel te voldoen, by gebreke waartoe minagtingsverrigtinge ook teen hom van stapel gestuur sal word.

Sakeliga is bewus van die dispuut onder raadslede oor wie die legitieme munisipale bestuurder van die Mogalakwena Plaaslike Munisipaliteit is, en die hangende litigasie in die Pretoriase hooggeregshof om Maluleke se aanstelling nietig te laat verklaar. Daar is ook hangende strafsake teen amptenare oor korrupsie en geldwassery. Te midde van alles, veg raadslede verbete oor wie beheer oor die munisipaliteit se beursie moet hê. Die munisipaliteit is duidelik in politieke en kriminele chaos gedompel, en intussen verval alle vorme van dienslewering.

Met Sakeliga se voortslepende minagtingsaansoek teen die munisipaliteit en Ngoepe, poog ons nie net om belangrike rekords in te palm wat die tafel kan dek vir hervormende litigasie nie, maar ook om dit duidelik te maak dat ons alle beskikbare regstappe sal volg om die munisipaliteit se aanspreeklikheid teenoor die gemeenskap te herstel. Die munisipaliteit voldoen allermins aan die mees basiese wetlike voorskrifte opgelê vir munisipaliteite, en ignoreer nou al ook aanmanings en hofbevele. Daarom vra Sakeliga dat tronkstraf opgelê word, in so ver die hof dit nodig ag om verdere minagting te voorkom.

Lees meer oor Sakeliga se minagtingsaak hier.

*Die minagtingsaansoek spruit uit ‘n hofbevel wat Sakeliga op 18 Januarie vanjaar teen die munisipale bestuurder en munisipaliteit bekom het, vir die lewering van verskeie rekords soos finansiële verslae en raadsbesluite van die munisipaliteit. Die hofbevel volg op sy beurt op ‘n onbeantwoorde versoek kragtens die Wet op Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) wat Sakeliga reeds in Mei verlede jaar aan die munisipaliteit gerig het. Sakeliga het die versoek gerig na aanleiding van samewerking met die Mokopane Sakekamer. Na verskeie onbeantwoorde aanmanings aan die waarnemende munisipale bestuurder om aan die 18 Januarie-hofbevel te voldoen, het Sakeliga verlede maand ‘n aansoek gebring om laasgenoemde aan minagting van die hof skuldig te bevind en soos die hof dit nodig mag ag, tronkstraf op te lê.

Argiewe